Landslied Simfonia
LANDSLIED SIMFONIA
Geskryf deur Fanus Strydom
4074 woorde
Die mense van Simfonia was oortuig daarvan dat hulle nooit weer die hemelse klanke van hulle geliefde landslied sou hoor nie. Die onderdrukking daarvan het so vinnig en totaal onverwags gekom, dat niemand gedink het enige-een sou ooit weer die dag beleef om weer die heilige instrumente te kan bespeel nie.
Dit het gebeur kort nadat Willem Witbooi die blink klip onder by die Groot Rivier opgetel het.
Dit was ʼn helder sonblink oggend en hy het, soos gewoonlik, waterkant toe gegaan om ʼn paar visse te gaan uittrek vir die aand se pot toe die vreemde klip sy oog gevang het. Dit het ewe doodluiters tussen al die ander spoelklippe gelê en blink in die vlakwater neffens die plek waar die stroom begin rigting draai en pad vat watervalle toe. Maar iets aan die klip was anders. Dit het onmiddellik sy oog gevang en vir hom het dit kompleet gevoel asof die ding met hom praat … hom naderroep vanuit die vlak poel waarin dit gelê en knipoog het. Willem het stadig nadergestaan en dit versigtig tussen die ander, kleiner klippies uit die sanderige modder opgetel. Toe hy dit tussen sy vingers teen die son in ronddraai het dit dofblink terug bly flikker en flits na hom, asof dit lewendig was in sy hand. Hy het dit versigtig, half skrikkerig, toegewikkel in ʼn stukkie Springbokvel en vinnig by sy knapsak ingedruk. Toe het hy haastig daarmee teruggedraf kraal toe om vir die ander te gaan wys.
Hulle was nie juis beïndruk met die eiergrote, bleekwit klip in Willem se handpalm nie. Vir hulle het dit gelyk na maar net nog ʼn klip uit die rivier se binnegoed uit. Nie een van hulle het juis gehoor dat dit met hulle praat, of flikker in die sonlig, of énigiets buitengewoons doen as hulle half skepties daaroor vryf nie. Maar Willem het bly volhou dat die ding met hom gepraat het, vir hom gesê het om dit om sy nek te hang. Toe hy dit vroeg die volgende dag vasknoop met ʼn saggebreide riempie Dassieleer en dit stadig, amper eerbiedig, om sy nek laat hang, kon hy sweer hy voel die ding klop teen sy hart. Net daar het hy besluit dat dit die gees van sy oorlede vader moet wees wat uiteindelik weer teruggekom het van sy doodsreis af drie maande gelede. En dat sy pa nou in die klip om sy nek kom loop lê het. Om daar vir altyd weer naby aan sy geliefde seun se hart te wees; onafskeidbaar soos vantevore. Tot die hartseer dag toe die Groot Rivier hom onverwags ingesluk en weggevat het watervalle toe…
“Mens sal sweer julle is broers en nie pa en seun nie.” het sy moeder op ʼn keer gemurmureer toe hulle weereens na son-onder eers met die visgoed van die rivier af teruggekom het. Dit was al donker en sy moes die ander kinders lankal kooi toe stuur met net pap en wilde marog in hulle honger mae vir die nag. Willem en sy pa was altoos weer laat, maar sy ma het geweet dat kla niks sou help nie: die twee was onafskeidbaar.
“Watwo Vrou,” het sy pa net effe ongeërg teruggekap en langs hom by die vuur kom sit, “ons moes praat.”
“En oor wat nogal?” wou sy ma weet.
“Oor dinge…”
“Watse dinge?”
“Mansmens dinge.”
“Gmf…”
Willem vryf sagkens oor die klip teen sy bors en onthou weer daardie aand langs die rivier toe sy pa hom vertel het van Simfonia se lied. Van die ontstaan daarvan en die geweldige betekenis daarvan vir die stam.
“Die toordokter en die oudstes het self die handjievol manne uitgesoek vir die taak…” het sy pa begin vertel. “Hulle was baie begaafd en ʼn honderd jaar gelede al het hulle die reuse dromme en tromme uit hout uit gekerf vir die speel van die lied. Hulle het twee-twee saam gewerk…”
“Nes onstwee, Pa?”
“Nes onstwee, seun. Elke drom is geduldig aan geskaaf en gekerf tot dit perfek versier was met al die heilige tekens van die stam en die gesigte van die voorvaders. Daarna het hulle dit styf oorgetrek met vel: sebra vir die grotes en springbok vir die kleintjies.”
Sy pa het verduidelik hoe die instrumentmakers maande lank in die bos deurgebring het opsoek na nét die regte hout vir die sitare en ghoemas en allerhande ander snaarinstrumente ook. Díe het hulle dan saans om die kampvure uitgekerf uit die sagte hout met hulle vlymskerp messe en die stukke versigtig aanmekaar geplak met halfmensgom en harpuis. Wilger vir die ghoemas en mopanie vir die sitare.
“Die lied sou ons volk se simfonie van verlossing word…” het sy pa gesê met ʼn vreemde, veraf kyk in sy oë, asof hy die wreedheid van die tyd voor hom af sien speel, “ …ons vryheidslied na jare se swoeg en sweet in slawerny en onderdrukking deur die indringers van die kuslande af.”
Willem het daardie dag geleer dat soveel van die mans en jong seuns op die slagveld gesterf het tydens die bevrydingsstryd, dat dit amper die hele stam uitgewis het. Saam met amper elke bewys van hulle bestaan en hulle amper vir ewig van die aardbol afgevee is.
“Net ʼn handjievol vrouens en kinders het oorleef…”, het sy pa voortgegaan. “Hulle moes naarstigtelik te voet op vlug slaan die sandveld in.”
Hy wys met ʼn draai van sy hand na die wye sandveld in die verte agter hulle. Die wrede woestynwêreld waar geen mens of dier ʼn kans staan om te oorleef nie.
“Die paar oorblywende mans, meeste van hulle oud, of erg gewond, moes halsoorkop die bos in vlug om daar te gaan raad soek by die oudstes in die grotte en om planne te beraam vir die herstel van die stam.”
Willem het gehoor hoe die handjievol, brawe manne daar vir maande lank onder leiding van die oudstes die rituele en inisiasies deur moes gaan om die volk weer eendag bymekaar te maak en terug te bring vallei toe. Hulle swaar gewonde lywe ten spyt. In die aande het hulle in stilte om die vure gesit en werk aan die stompe hout en leë kalbasse wat hulle bymekaargemaak het, terwyl die toordokter en medisynevrouens hulle wonde gelaaf het met aftreksels van Kankerbos en tinkture van Dassiepisbos. Baie het dit nie gemaak nie, maar die paar oorblywendes het die velle van die bokke wat hulle in die veld gejag het deur die dag, versigtig in sout ingelê en gelooi totdat dit sag en werkbaar was. Saans het hulle strykgoed gemaak van saamgevlegte wilgerlatte en die sterthare van jakkalse en sebras om die ghoema-viole en sitare mee te speel. Aand na aand het hulle geleer aan die heilige woorde en akkoorde vir die lied. Die vryheidslied. Dit oor en oor geoefen totdat dit aanvaarbaar was vir die Groot Moruti in sy hemelplek daar ver tussen die sterre aan die anderkant van die Orionsgordel. Want vryheid sou weer kom. Eendag met die nuwemaan en wanneer die eerste lam weer langs sy ma sy staanplek kry op sy wankelrige, nuwe pootjies om te suip aan die melk wat lewe gee…
Toe hulle na maande uiteindelik weer uitkom een volmaan-aand met die dromme agter op hulle rûe, of bo hulle koppe vasgemaak en met die sitare en ghoemas voor hulle borste vasgebind, het die vrouens oorstelp gehuil van blydskap. Die handjievol oorblywende kinders het opgewonde rondgedans en om die manne saamgebondel om te sien en te vat aan die handgemaakte musiekinstrumente…die magiese toorgoed waarmee die mans uit die berge uit teruggekom het om die Groot Moruti mee te bekoor.
“Daardie aand is die vryheidslied vir die eerste keer gespeel…” het Willem se pa eerbiedig gesê en stadig opgekyk na die blou lug bo hulle koppe. Na die presiese plek waar die Orionsgordel daardie nag oor die rivier se Oosoewer sou kom hang; twee handlengtes anderkant die Aandster se vroegskemer vasmaakplek. “ Die landslied van Simfonia. ”
Die woorde het so sag oor sy pa se lippe geval dat Willem die heiligheid daarvan kan voel klop aan sy ontroerde hart.
“Daardie aand het die mense tot laatnag toe saam gesing, gedans en fees gevier langs hierdie einste rivier, ” het sy pa na die breë waters voor hulle gewys, “ om die afgestorwenes te herdenk en die aanbreek van ʼn nuwe begin te vier. Daarna het dit elke jaar gebeur vir ʼn honderd jaar tot vandag toe nog…en net een keer die jaar op ʼn baie spesifieke aand.”
Willem se pa het na sy seun gekyk om seker te maak hy verstaan van watter dag en tyd hy praat.
“Wanneer die oudstes vanuit hulle grotte in die klowe afkom rivier toe..?, ” het Willem sy nuwe, brose kennis aan sy pa bevestig, “… en die nuwe maan laag en vol kom hang oor die oopgestrekte veld daar anderkant? ”
Hy het met sy hand na die oopte van die ruigveld anderkant die Groot Rivier se oorkantste wal gewys.
“Ja , ” het sy pa tevrede kopgeskud, “ ʼn aand wanneer die laaste gerwe uiteindelik veilig van die land afgehaal is en in die stoortorings ingebêre is vir die winter.”
“En die eerste boklam uiteindelik sy staan kry langs sy ma se flank in die kraal…” het Willem eerbiedig bygevoeg.
“Einste, ou seun, einste. Dan was dit tyd vir die speel van die lied. Die teken dat vernuwing en vryheid weereens hopelik vir nog ʼn jaar saam met onse mense sal kom bly…”
“ Ja Pa.” het Willem die hoop beaam.
Sy pa het meteens met erns in sy oë na Willem gekyk en gesê: “Die lied mag nooit weer stilgemaak word nie, Willem. Belowe my…” Hy het hom saggies aan die skouer aangeraak en laat belowe dat hy sal sorg daarvoor.
“Ek belowe, Pa.”
Min het Willem geweet dat dit die laaste ding sou wees wat hy ooit teenoor sy pa sou sê.
Oppad terug kraal toe daardie aand het hy misgetrap toe hulle oor die dawerende rivier moes kruis en gegly op een van die gladde klippe onder hulle. Hy het in ʼn oogwink onder die stomende water in verdwyn waar dit woedend tussen die reuse klippe deur versnel oppad watervalle toe. Willem het hom een laaste maal nog gesien uitkom bo die malende watermassa en toe is hy weg…
Willem is lugtig toe hy by die besige markplein instap. Hy probeer homself skaars hou soos hy tussen die tente en stalletjies deurbeweeg. Die eenmaalse tog dorp toe het swaar op sy gemoed gelê, want die mense daar was wild en vreemd en anders as waaraan hy gewend was in die veld. Meeste van die mans op die plein het half-besope rondgeslinger, of sommer netso in die grond gelê en bak in die son in hulle eie kots. Hier en daar het ʼn paar met mekaar baklei om van die los vroumense by te kom wat wellustig voor hulle rondgeparadeer het opsoek na bevrediging en geld vir seks. Orals het hongerige, vuil kinders met snotneuse en vlieë op hulle wange gestaan en kyk na die geweld en chaos op die plein om hulle met dooie oë … oë wat lankreeds wasig geword het en dof van verwaarlosing en oorlewing op straat.
Hy druk die knapsak stywer teen sy sy vas en mik vir die volgende skadukol agter een van die stalletjies. Hulle moes hom nie raaksien nie. Vir hulle was hy ʼn onwelkome indringer. Een van die bos-rebelle wat nie wou saamwerk met die Bleekvelle en hulle bose planne nie. Maar hy moes inkom om bestanddele te kom koop vir medisyne en vuurklippe om die vure mee aan die gang te hou. Anders gaan hulle die winter ingaan sonder vuur en gaan die koors hulle oorval. Van die kleintjies het klaar begin hoes en tekens toon van die swart-koors wat aan hulle binneste begin vreet het. Hy moes eenvoudig by die medisynetent uitkom.
“Haai jy, wat soek jy hier?!” hoor hy die stem agter hom. Hy steek vas sonder om om te kyk…trek net die velhoed laer oor sy gesig en probeer maak of hy nie hoor nie.
“Ek sê, Boesman! Wat soek jy hier? Wil jy ons vrouens kom steel?”
Willem draai stadig om. Die groot Bleekvel kom stadig nader. Nog twee staan nader van agter af.
“Nee meneer, ek soek net medisyne vir die koors. En vuurklip…”
Die Bleekvel staan nou reg voor hom. Sy oë is bloedbelope en vol haat:
“En wat hang daar om jou nek…?”
Hy wys na die klip voor Willem se bors.
“Dis…dis my pa se klip,” probeer Willem die man paai, terwyl hy soek na wegkomkans agter hom, maar die ander twee staan nou reeds in ʼn sirkel om hom en kry hom hardhandig aan die skouers beet. Hy sit sy hand beskermend oor die klip en probeer dit onder sy velkaros indruk. Die Bleekvel spring vorentoe.
“Laat ek sien!”
Toe hy die klip van Willem se bors afpluk en dit teen die son uithou voor sy gesig voel Willem hoe die klop uit sy hart uitgaan … hoor hy duidelik die benoude roep van sy pa se stem teen die verblindende lig van die son op die plein om hom. Toe die knuppel hom teen die kop tref word alles meteens pikdonker en stil in sy binneste.
Twee dae later het ʼn groot groep Bleekvelle op hulle perde by die stam se blyplek langs die rivier aangejaag gekom en wild begin skiet met hulle gewere onder die mense. Die mans se pyl-en-boeë was nie bestand teen die aanvallers nie en meeste van hulle is vinnig uitgewis. Hulle lyke is sommer net daar in die son gelos om te lê en swel vir die aasvoëls om aan te kom vreet. Die vrouens het probeer vlug met die kinders, maar vergeefs. Meeste van hulle is vinnig gevang toe hulle deur die rivier probeer swem het om weg te kom.
ʼn Week later het die eerste waens daar aangekom. Vol gelaai met toerusting, houtstellasies en allerhande ander grawe, pikke en siwwe en begin grou en grawe opsoek na klippe in die rivier se loop. Meeste van die vrouens was nou weggevoer as gevangenis na die dorp toe vir seksslawe. Die kinders moes agterbly en is wreed geslaan en gedwing om slawearbeid te doen vir die myners daar langs die rivier. Hulle moes die swaar sakke sand en klipgruis aan dra na die onophoudelike gedruis van die mynmeule en klipwassery toe om die onversadigbare lus van die dreunende masjinerie te bevredig.
Die groot Bleekvel wat die klip van Willem se bors afgepluk het daardie dag op die markplein was aan stuur van sake. MacMillan was sy naam. Hy was wreed en ongenaakbaar en het die mynbedrywighede met ʼn ysterhand en ʼn rewolwer op elke heup beheer. Voor sy bors het Willem se pa se klip aan die Dassieleerriempie gehang en dofweg in die bloedson bly glinster, terwyl die krygsgevangenis onder sy voete en vloeke moes swoeg en sweet van sonop tot sononder. Opsoek na nog klippe uit die rivier se oopgekalfde walle uit.
“Diamante! Bring vir pappie nog daaimonds!” het hy elke nou en dan bo die geraas uitgegil, terwyl hy nog ʼn gehawende, uitgeputte kind met sy sweep bykom. Die heeltyd het hy hongerig gewys na en gevroetel met die groot, dowwe klip voor sy harige bors.
Weke het maande geword en die maande uiteindelik ʼn jaar.
Elke aand, wanneer dit stil word onder in die kamp en die vure koud en uitgebrand, het Willem Witbooi vanuit sy skuilplek in die rantjie uitgekruip en oor sy gebreekte volksgenote uit kom kyk van agter ʼn Boesmanskersbos op die rivier se wal. Daar het die gehuil van die kinders tot in die binneste van sy murg ingedring en het die weeklaag van die handjievol vrouens hom op sy knieë platgedruk. Hulle moes gedurig regstaan met kos en drank vir die gierige Bleekvelle. En vermaak as die heuningwyn hulle dronkgesuip by hulle tente in laat kruip, of sommer so in die oopte onder die waens laat neerslaan van onblusbare brassery.
Nag na nag het hy daar langs die Groot Rivier se wal na sy mense se gehuil geluister en planne beraam oor hoe om die Bleekvelle van kant te maak. En nie ʼn aand het verbygegaan dat hy nie gesoek het tussen die dwalende skadu’s deur na haar nie … sy Thalitha.
Die beeldskone jong meisievrou op wie hy sy hart verloor het die oomblik toe hy haar daardie dag drie jaar terug tussen die riete sien uitwandel het langs die rivier. Hy het geweet dat dit verkeerd is om so na haar te staar waar sy nakend afgekom het om te kom bad in die vlakwater, maar hy kon eenvoudig nie wegkyk nie. Sy het ʼn holte in sy hart kom oopruk wat net sy pa se klip kon toemaak tot hy haar eendag sy vrou kan maak. Tot dan, het hy homself daardie dag belowe, sal hy die klip oor die gat in sy hart bly dra.
“Jy moet wag vir haar, Willem, ” het sy pa hom eendag moed probeer inpraat, toe hy sy verlore verliefdheid teenoor hom bekla het oor die meisiekind wat sy hart kom steel het daar langs die rivier. “Sy is nog nie reg nie. Geduld en tyd is nodig. Dit moet eers ʼn man maak van jou en ʼn goeie vrou van haar. Alles op die regte tyd, ou seun. Alles op die regte tyd…”
Toe hy haar vir die derde nag by die Bleekvel MacMillan se tent sien ingaan brand die plek op sy bors waar sy pa se klip gehang het so vurig warm onder sy hand dat hy gebelgd oor die seerplek in sy hart vryf en woedend teenoor homself vra: “Wat loop soek sy daarbinne?!”
Vir die soveelste keer probeer hy die planne in sy kop uitpluis oor hoe om die Bleekvel uit die weg uit te ruim. Hy durf nie afgaan na die kamp toe nie, want hy mag nie weet hy lewe na die aanval op die markplein nie. Dit sal die ander net in onnodige gevaar stel en sy planne om die oorhand oor die wrede Bleekvelle te kry in die wiele ry. Hy sal nog moes wag op die regte tyd.
“Tyd, ou seun…” hoor hy weer sy pa se rustige stem.
Toe hy omdraai om terug te draf berg se kant toe, staan sy voor hom.
“Thalitha…,” fluister hy geskok, “…wat maak jy hier?”
“Ek kom soek na jou, Willem…”, sê sy en vat saggies aan sy hand, “…ek weet jy kom elke aand af hiernatoe. Ek het jou die eerste aand al gesien.”
Toe vertel sy vir hom hoe die gogo’s die kosvrouens die afgelope tyd stelselmatig al hoe meer skerpioengif en wilde-als by die heuningbier in laat meng om die bleekvelle mee te vergiftig.
“Dis hoekom hulle deesdae so te kere gaan onder mekaar…” sê Willem verbaas en knik sy kop om vir haar te wys hy verstaan. Die Bleekvelle het die laaste tyd al hoe meer onder mekaar begin baklei en MacMillan het sy hande vol gehad om hulle uitmekaar uit te hou. Die myngrawery het bykans tot stilstand gekom as gevolg van die oproer en muitery onder die bleekvelle.
“Wat van MacMillan?” vra Willem en kyk bekommerd na haar. “Het hy jou…?
“Nee Willem…dis hoekom ek elke aand by sy tent ingaan. Om seker te maak hy drink sy eie porsie gif. Spesiaal vir hom gemeng deur gogo Witgat…dis ons enigste hoop.”
Sy kom staan vlak teen Willem en druk haar sagte, warm lyf teen syne.
“Hoe lank nog?” wil hy weet.
“Gogo Witgat sê nog drie dae, dan is als verby…”
Toe sy haar sagte bruin oë voor syne sluit en haar lippe teen syne druk, sak hulle stadig in die lang gras langs die rivier neer en gaan hy haar teer, maar dringend binne.
Drie dae later, vroeg die môre, bars MacMillan in ʼn rasende woedebui by sy tent uit. Hy spring op een van die waens en waai verwoed met ʼn rewolwer in elke hand bo sy kop:
“Vandag maak ek julle almal vrek!”
Toe een van sy eie bleekvelbroers hom probeer kalmeer brand hy skielik los en skiet die man op die plek dood saam met twee ander wat ook nader probeer kom. “Vrek, almal van julle! Donnerse Basters!!”
Die gogo’s herken die kyk van waansin in sy oopgesperde oë en beduie versigtig vir die ander om suutjies skuiling te soek. Die uur het aangebreek.
Bleekvel MacMillan swaai sy arms wild bo sy kop en vuur die een skoot na die ander af. Nog drie van sy eie manne sterf in ʼn wriemelende hoop voor sy voete.
“En f*k julle d*nnerse Groot Maruti in die hemel daarbo! Ek soek daaimonds, nie bleddie useless klippe nie!” Hy beduie boos met een rewolwer na die wolke bo sy kop en vuur nog ʼn sarsie skote af die lug in.
Toe die weerligstraal hom tref, staan hy vir ʼn oomblik nog so met een hand bo sy kop, asof versteen in tyd. Die volgende oomblik ontplof hy in ʼn vlammende vuurbol en steier gillend tussen die oorblufte omstanders in. Dan struikel hy oor een van die houtstellasies waarop die gruis gewas word en die slaan ook onmiddellik aan die brand. Baie vinnig versprei die vuur na al die ander houtstrukture en wastrôe toe en binne oomblikke staan die hele kamp in ligte laaie. Hier en daar ontplof vate olie en skiet loeiend die lug in soos reuse fakkels vuur. ʼn Handjievol verwarde Bleekvelle steier paniekerig en halsoorkop teen die steil rivierwal op en slaan op vlug sandveld toe om nooit weer gesien te word nie.
Die brandende MacMillan het uiteindelik verkool en swart verbrand neergesak in die vlakwater van die rivier, presies op dieselfde plek waar Willem maande tevore sy klip tussen die ander opgetel het. Hy het vir ʼn oomblik daar bly lê en stoom, voordat hy stil geword het met ʼn grynswit doodslag op sy verbrande skedel en een doodsklou uitgestrek na bo. Teen die borsbeen van sy ontblote, verbrande skelet het Willem Witbooi se klip dofweg lê en blink tussen die roet en rook.
Nege maande later, op ʼn helder volmaanaand, het die manne teen die oorkantste wal van die Groot Rivier begin afstap en onder by die oewer bymekaargekom om die Landslied Simfonia te speel vir die mense. Hulle ewige vryheidslied. Toe die sterkste en frisste manne die eerste slae op die reuse dromme met die Sebraveloortreksels slaan, het ʼn paar wasige vlieswolkies weggetrek bo hulle koppe en kon die Orionsgordel duidelik gesien word in die Oosterhemel. Presies twee handlengtes anderkant die Aandster se vroegskemer vasmaakplek. Die vrouens het sagkens begin saamneurie op die maat van die hemelse sitare en die ghoemas het een vir een ingeval by die kloppende ritme van die Springboktromme. Toe het die riet-panfluite saam met ʼn paar naguiltjies begin roep teen die naglug in voor die jong seuns se lippe. Hier en daar het groepies meisies in rietrompies en met krale om hulle enkels kaalvoet in die sand begin dans en tiekiedraai op die maat van die magiese musiek.
“Jou seun, Willem…” sê die toordokter teenoor Willem Witbooi en sy skone bruid Thalitha en oorhandig die klein bondeltjie lewe aan hulle.
Toe Willem vooroor buig om die seuntjie op sy voorkop te soen, swaai sy pa se klip soos ʼn pendulum om sy nek en kom tot stilstand reg bo die kind se kloppende hartjie. Vir ʼn oomblik hang dit doodstil daar en voel dit of tyd vir ewig stil loop staan daar op die wal langs die Groot Rivier.
Toe die musiek van die vredessimfonie ʼn crescendo bereik en die hemelse klanke oor die stil, donker waters weggly watervalle toe, verskiet ʼn ster vêr bo hulle koppe en peil in ʼn sierlike boog tot vêr anderkant verby die Orionsgordel.
“Simfonia, land van vrede, land van vreugde!” sing die mense saam in ʼn luide koor en klap hande oor die nuwe, eersgebore lam in sy pa se arms.
Vir ʼn oomblik sien iedereen, sonder uitsondering, hoe die klip bo die kind se hartjie stil bly hang en stadig begin flikker in ʼn blou-blink flikkering. Sien hulle duidelik die blou en geel polse klop-klop, voordat dit, netso vinnig weer, verdof dit tot niks.
Dan hoor die mense van Simfonia net die stil gedruis van die donker, swart rivier langs hulle en die laaste note van hul ewige vryheidlied.
Hulle Landslied Simfonia.
©Fanus Strydom
Augustus 2023
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek