Maandagoggend
“Pieter! Sy gaan spring!” Geskok kyk ek hoe sy Johan lospote neervel met een beweging. Dan rondkyk en koers kies reguit bos toe. Johan staan beteuterd op en skud die stof vies van hom af. “Dit sal nou gebeur! Dis mos ‘n Maandagoggend!” skel Johan verergd. Pieter skree iets onhoorbaars en die mans nader die bos, tot die tande toe gewapen. Ek knyp my oë toe, want hiervan kan nie iets goeds kom nie.
Ghwa! Ghwa! Ghwa! Doodse stilte. Die mans staan soos standbeelde voor die bos. Nie ‘n blaar of tak roer nie. Die mans lê weer aan na die bos. Ghwa! Ghwa! Ghwa! Skielik kom die ooi uitgestorm en lê oop na die mielielande toe. Nie ‘n bloedkol aan haar nie. Die mans spaander agterna en kom voor die mielieland tot stilstand om eers te beraadslaag.
Ek sluip saggies nader. Hierdie sports wil ek nie mis nie. Pieter en Johan gaan staan aan weerskante van die manne. Soos ‘n gevegslinie begin stap hulle die mielieland in. Ek volg stilletjies langs Pieter. “Pieter. Het …” fluister ek. Pieter ruk soos hy skrik. Pyn op pyn skiet deur my voet. Ek kyk in ongeloof hoe my skoen rooi vlek. Hoe is dit moontlik? Het ek in iets getrap?
“Vroumens! Vir wat bekruip jy mens so. Nou het ek onnodig ‘n koeël gemors.” fluister Pieter vererg.
“Pieter … my voet …”
Geskok kyk Pieter na my voet. Ek voel hoe die wêreld om my wil duisel. Ek gryp na sy arm. Hy raap my blitsig op en dra my na die naaste bloekomboom. Versigtig trek hy my skoen uit. “Ek is jammer, my vrou …” Besorgd trek hy sy hemp uit en skeur dit in repe, bind dit versigtig om my voet. “Hospitaal toe met jou.”
‘n Skare drom nou om ons, die skaap nou heeltemal vergete. Johan kom met die bakkie aangejaag. Pieter tel my op en plaas my versigtig op die sitplek. Die rit hospitaal toe voel uitmergelend lank. Gelukkig kan die dokters my tone red!
Die ooi? Laatoggend kom Johan op die ooi af, waar sy doodluiters saam met die ander ooie staan en wei. Wat ‘n blou Maandagoggend.
© Taai Bonthuys
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.