My liefde, my lewe
My liefde, my lewe
Dis die jaar 1989. Ek is alleen tuis. My ouers en broers kuier nog in Carolina, maar ek het vroeër huistoe gekom. My klasse begin reeds weer more. MGuyver is op die kassie en ek is half vererg as iemand aan die voordeur klop. Dis die dae wat ons die deur oopgemaak het sonder om aan enige gevare te dink! Ek maak oop. My moed sink in my skoene. “O dis jy. Kom in. Ek wil net my storie klaar kyk.” Agter Eugene is nog iemand, maar ek steur my nie daaraan nie. Om die waarheid te sê, ek steur my nie aan een van die twee nie! Eugene, wat elke keer kom kuier en weer vir lang tye verdwyn. Eugene, wat my boetie my oor gewaarsku het wat net harte breek. Ek is nie lus vir die kuier nie en het my aand op my eie geniet. Ek is in my finale jaar en wil op my studies fokus.
Ek kyk my storie klaar en gaan maak koffie vir die drie van ons. Frank is ‘n randfiguur en redelik stil. Eugene probeer sy bes om my meer opgewonde oor die kuier te kry. Hy vertel hoe hy verander het en hoeveel hy my mis. Ek reageer nie daarop nie. Hy stel in elk geval nie in my studies en my gevoelens belang nie. Hy slaag nie daarin om die atmosfeer te verbeter nie en ry redelik vinnig na die koffie. Die volgende aand is hulle weer daar. Eugene wil ‘n punt bewys. Hy is nie gewoond daaraan om ‘n koue skouer te kry nie. Die volgende aand kom hulle weer. En die volgende aand. Frank, bly die stil ene wat op die agtergrond bly. Later het ek eers gehoor dat hy vir Eugene gesê het ek is ongeskik en hy voel nie tuis of gemaklik nie! Ons reel om inry toe te gaan en ek reel vir Frank ‘n “blinddate”. Die fliek was ‘n reuse mislukking, seker in ‘n groot mate my eie skuld. Ek was nie bereid om weer te begin hoop op ‘n verhouding wat nooit regtig daar is nie! So kuier die vier van ons ‘n paar keer saam. Eugene het ‘n opgeleide hond, Aragon wat saam rondry. Hy geniet die aandag wat hy deur sy hond kry.
Dan stop Frank een aand alleen daar. Hy kom net gou koffie drink. En ons gesels oor alles en nog wat. Veral oor geloof. Hy het baie vrae daaroor en is nie ‘n getroue kerkganger nie. My geloof oorheers wie ek is en wat ek doen. Dis deel van my. Vir die eerste keer leer ek iemand ken wat in my doen en late belangstel. Sederdien kom hy meer gereeld alleen kuier. Hy bieg dat hulle twee, wat in die kamp bly, van pasteie en coke lewe. My dierbare pa sorg dat daar elke aand so ekstra bord kos is, vir ingeval die ‘arme man’ kom kuier! Dit raak ‘n instelling vir Frank om net gou ‘n draai te kom maak. Hy is lief vir flieks en sit dikwels saam met my pa en fliek kyk terwyl ek swat. Eugene kom nie weer nie. Hy glo ek is besig om weer verlief te raak op hom en hy voel nie gereed vir so ‘n verhouding nie. Ek en Frank leer mekaar beter ken as vriende.
Frank kom sit en kyk televisie as ek leer en dra vir my drinkgoed aan. Ons gesels. Ons kan vir ure oor alles en nog wat gesels. Hy raak tuis by ons – alles in die naam van vriendskap. Hy gee selfs my nommer as ‘n kontaknommer vir sy ouers wat ver bly. (Dis in die dae voor selfone.) Op ‘n dag stel hy my aan sy broer voor. (Dis ook ‘n storie vir ‘n ander keer!) Alhoewel sy ‘blinddate’ ook saamgegaan het om sy broer te ontmoet, het Gert dadelik die vonk tussen ons twee raakgesien. Ek het slegs saamgegaan omdat sy kar stukkend was en ek nie my kar uitleen nie. Nie ek of Frank het hom geglo nie en dit net afgelag. Tot daardie een aand…
Ek het gesit en leer tot laat. My eksamens was om die draai en ek het baie werk gehad. Frank het televisie gekyk en koffie aangedra. Later het ek saam met hom ‘n storie gekyk om te ontspan voordat ek gaan slaap. Tot vandag toe kan ek nie die storie se naam onthou nie! Toe die storie klaar was, het hy my in sy arms geneem en my teer en liefdevol gesoen. Net ‘n enkele soen en omgedraai en terug kamp toe gery! Ek was verward. Ek het nie geslaap nie, net die oomblik herleef, oor en oor. Ons kuiers en gesprekke het voor my oë afgespeel. Het ek dit misgekyk? Dit was heeltyd daar – die gemak met mekaar en die vertroue om te kan gesels! Maar hoe voel hy werklik?
Vroeg die volgende oggend kry ek ‘n oproep. Versigtig. Hy wil net eers seker maak dat dit veilig sal wees om weer te kom kuier! My hart het wild en wakker geklop. “Jy is welkom!” het ek gesê, min wetend wat nog in die toekoms sou gebeur. Hierdie jaar is ons 30 jaar getroud. Nee, dit was nie altyd ‘n sprokie nie. Daar was hartseer tye, seerkry tye en moeilike tye. Tye wat ek nie seker was of ons huwelik dit gaan oorleef nie. Sover kry ons dit reg. En steeds verruil ek dit vir niks anders in die lewe nie!
Elna Kruger 8/3/2020
Kopiereg
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2021 – Liefdes-projek