
‘n Heksejaar
hierdie jaar gaan ek vir my
’n langsteelbesem koop
een wat baie goed kan vee
maar vlieg – dié moet dit ook
in my kamer in my kas
daar hang ’n lang swart jas
en doer agter in die laai –
‘n punthoed om te pas
ek sal vere voel vir mense
wat dink ék is minder mooi
met die vratjie op my neus
en my hier en daar se plooi
en oral waar ek heen mag gaan
sal ek my towerstaffie swaai
ek sal strikkies in my hare bind
my slierte in die wind laat waai
op my besem sal ek plek maak
vir sommer alles en nog wat
soos ’n swartpot en ’n ketel
ook ’n voël, ’n hond en kat
ja, almal wat wil besemry
kan saam met ons kom vlieg
tot hoog bokant die wolke –
tussen sterre sal ons wieg
en aan die einde van die jaar
sal ek baie graag wil sê –
dit was ’n reuse avontuur;
ek wil seblief weer só een hê
© Carma Shaw
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.