Titel: ‘n Jubeljaar voorwaar
Deur Madelé Burger
Ja, dis nie net vir my ‘n jubeljaar nie, ek sien dit oral om my. Sommer net gister alleen kontak twee vriendinne my uit twee verskillende uithoeke van die land. Elkeen met haar eie jubelstorie. Drome wat op die onmoontlikste, ondenkbaarste maniere sommer net waar gemaak word. Amper soos wat Salomo dit in Ps 127:2 skryf dat Hy dit aan sy geliefdes in die slaap gee. Raai, ek het nooit besef dat Salomo hierdie Psalm geskryf het nie, terloops. En toe die een vriendin my haar goeie nuus vertel, kom die vers wat ek altyd gebruik wanneer ek regtig op my knieë is, plat op die grond en nie weet watter kant toe nie, as ‘n refrein in my op uit Efesiërs 3:20 dat God baie meer kan doen as wat ons enigsins kan dink of droom … baaaaie meer en ek wil uitskree, JAAAAA, Hy kan!
Want ek hoef net hier waar ek sit en skryf by die venster uit te kyk en te kyk na die wonderwerk wat hier buite gebeur. Lande wat groen is en bewerk word terwyl ons noual vir vyf jaar nie uit die Floriskraaldam kan water kry nie, maar Hy het ander planne gehad en skielik in hierdie jubeljaar voorsien Hy water op maniere waaraan ek nie kon droom of dink nie. Ek hoor gisteraand met ‘n glimlag hoe my man dit ook vir iemand vertel van hoe die water uit ander oorde hier aankom en ons kan boer, vir die eerste keer in vyf jaar hier in die Klein Karoo.
Ek is tans besig om Ester se storie te lees en my bloed wou sommer weer kook oor die simpel Ahasveros en sy dronk pelle wat vir Vasti so wou verneder. En sy wat nie wou saamspeel nie en haar koninginskap daardeur verloor het. Want die manne was magsbehep en het gevrees dat die vrouens hulle nie meer sou dien nie. En ou Haman met ook sy obsessie oor mag … Dan draai die storie en God verander daardie Jode se angs in ‘n gejubel. Hulle vernedering in die grootste geleentheid. Dat hulle wat gevrees het skielik gevrees word en hulle oorleef … Jubeljaar!
Mag jy ook ‘n jubeljaar beleef!
Toortsie