Jongste aktiwiteit:

Nie gebou vir gate grou

Nie gebou vir gate grou.

Ek sien ‘n man wat in sy werksbakkie sit en pap eet, met vaal vleis in ‘n dooie sous. Daar dryf drie stukkies wortel. Die vleis is min, die pap baie. Hy het onder die koelteboom in die doodloopstraat parkeer. Ek blameer hom nie, die son hamer op die teer en selfs die voëltjies neem middagslapies.

Daar was hondjies gebore by die huis en omdat ek die enigste mansmens op die werf is, is hul welstand, opsetlik per ongeluk, aan my oorgelaat. Dis nie my honde nie, nie my werf nie en nie my verantwoordelikheid nie, maar ek is lief vir diere. My ouma het altyd gesê ‘n mens wat lief is vir diere kan vertrou word. Nou wel, ek is seker nou die vertroueling.

Laas naweek het ek my hart verhard teen die hondjies en weggeloop. Ek het gaan kuier by ‘n baie spesiale vriendin. Vyf van die hondjies is dood. Die huis-eienaar was daar, die teefhonde was daar, waarom voel ek dan skuldig? Dit was en is steeds nie my verantwoordelikheid nie. Ek het Maandag twee van die lyfies begrawe en ‘n klip op die plek gesit.

Dinsdagoggend, op my nugter maag, loop ek my vas teen nog ‘n hondjielyk. Die rede vir die doodgaan verstaan ek nie, die hartseer wat ek voel vir ‘n klein dooie hondjie wat nie myne is of was nie, ook nie. My oggendhongerpyne wat skielik galbitter in my keel opstoot soos ek ‘n gat grawe, dit verstaan ek al te goed. Die werklikheid van dood, selfs klein hondjies se dood, ruk my binneste, maar ek sluk en stap weg.

Vandag sien ek die man in die bakkie. Ek neem vir hom avokadopere, rypes en groenes, sodat hy en sy familie die hele week avokados kan eet. Dis gesond. Hy lag en bedank my met ‘n glinstering in sy oë. Ek wens hom ‘n goeie dag en week toe. Ek stap terug deur die hek, my hart klop werklik, dit voel so goed om iets vir iemand te gee. ‘n Spul vlieë pla my.

Ek sien die opgeblaasde karkas van ‘n reeds begraafde hondjie wat die volwasse honde nou weer uitgegrawe het. Die gal spring weer op, die renons oor die hele situasie klap my soos ‘n vuishou. Ek skreeu sommer uit my frustrasie op alles. Ek vat die graaf wat nog nie eers na die vorige begrafnis gebêre is nie. Soos ek sagte grond onder die boom soek wel trane in my oë op. Trane van absolute frustrasie oor die onreg wat ek en ook die klein, dooie hondjie aangedoen is. Die onreg wat teefhonde aan ‘n hondjiekarkas doen, die onreg dat ‘n man in sy bakkie moet sit en pap eet. Ek sluk en dit voel soos dik pap in my keel. Die vlieë pla. Die karkassie val in die gat, die grond vul die gat, die vlieë gaan soek nuwe dooie goed. Die graaf word swaar. Ek is nie gebou vir gate grawe nie.

© Grootvissie
November 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed