Niemandaland
Vat my weg saam met jou
sodat ek nie van binne hoef te sterf nie
vat my na vreemde plekke in jou arms
en laat my hang aan jou warm lippe
vat my terug na tuine vol tinktinkies
swaaie wat wolkver kan strek
of naamlose plekke soos dié
waar koplewe ‘n revolusie raak
vat my grondpadlangs
sodat ek tuistes binne my kan vind
wat jou buitewerf tot lewe kan bring
vat my hand en lei my na helende kamers
sonder mensgemaakte goeters
wat my siel soms diep ontstug
vat my in jou ou blou kar
vol stukkend knoppies
na plekke sonder spore
na plekke waar ons een kan word
plekke waar ons ‘n vredesvuur kan stook
om ou bene binne ons te verbrand
sodat ons ook soos gode kan lewe
© Sept 2020 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.