O God my skuldlas brand (Vir Totius)
My hart het saam met jou
na ’n liggie gesoek
voor jou onheilswoning
tussen pyn-gedagtes
en eina-dorings
krom en skeef in mekaar geweef
maar
vasgegryp het ek my soos jy
in ’n ‘doringnes wat vreeslik haak-en-steek’
o God my skuldlas brand!
soos jou doringboompie
van ‘Vergewe en Vergeet’
‘vlak by die pad
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan … ‘
het ek soos jy berustend
keer op keer weer opgestaan
maar
soos die letsel
van die doringboompie groei
groei ook die wonde van my skuldlas
altyd deur aan …
o God my skuldlas brand!
so ook deel ek
in die ou wilg van jou denke
’n ‘beeld van skuld!
al dae, dae lank
vergeeld gestaan in die kou
armoedig en neerslagtig
rusteloos geroer’
weer ontwaak uit sy winter slaap
en het die moeder put
haar laaste druppel weg gegee …
o God my skuldlas brand!
in die fragment van jou Trekkersweë
waar die plasie wat daar ‘rustig lê …
waaroor die wye hemel welf’
wil ek soos jy
my ganse woordkuns waag
om al my hartspyn uit te klaag
o God my skuldlas brand!
—————-oo00oo—————
© Pieter Mostert [silwer]
[* Intertekste geneem uit Totius se gedigte: Ek wou so Graag ’n Liggie Sien; Die Godsbesluit; Vergewe en Vergeet; Die Oue Wilg; Trekkersweë; Die Oue Put; en Ek wou my ganse Digkuns Waag.
**Skuldlas hier is ‘n emosionele skuldlas]
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.