OGGEND
Die halfmaan skud net so voor die nuwe maan
sy donshare af en skil skerwe van sy wit toga
tussen die sterre uit
en ek sien hoe die groen gras liefdesbriewe uitstuur
om die dag se bok-bok nukke
te paai tot lag
Die dou kom soek skoor by my voorstoep
kielie die malfaplante met yswater vingers
moeg gespeel
en krul op tot ‘n waterplas tussen die krake
op die blokke van my sandsteen stoep
Dan roer daar lewe in die voorhuis
en ek hoor jou giggel menswees lag
terwyl jy deur die venster uitgekyk
en die oggendson by jou kom sagte voetjie-voetjie soek
waar jy staan en sien
hoe die dou op die grasperk
in die oggendson se vingers dans
Die son raak weer verlief op die aarde
en ek sit verstar
terwyl die oggendson sy hitte bloeisels
drapeer op die trappies na my voorstoep toe
en die nag die dag soen groet
en die dou op die gras
die oggendson se vingers ‘n handdruk gee
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.