Oktober 2018 projek: uitslae en kommentaar
UITSLAE:
Gedigte:
GOUD: 1ste. Jou voetspore bepaal – Anzé Bexuidenhout
2de. Hunkering – Carma Shaw
3de. Droomspore – Anzé Bezuidenhout
SILWER: 1ste. Reën in die Groot Karoo – Estelle Rubow
2de. Persiese kwatryne – Estelle Rubow
BRONS: 1ste. Mensboom – Charleine Collins
2de. Tetactrys struktuur – Adéle
3de. Kartonbord van ‘n bedelaar – Papillon
Rubrieke: 1ste. Liefde is…St Francis van Assisi – Ano
Verhale: 1ste. ‘n Vrou van formaat – Lynne Luxow
2de. Manie se Tin Lizzie – Ida le Roux
3de. Fanus koop kar – Martha Poller
Gorrel: 1ste. Ontdek jou passie – Palet
Artikels: 1ste. Die gemesde kalkoen – Ano
KOMMENTAAR & KRIT
GEDIGTE:
(1) ‘n Oomblik helder – Pantoen
Suksesvolle pantoen wat heerlik beeldryk is. Die gebruik van hoofletters in jou gedig (by die aanvang van nuwe sinne) moet heroorweeg word. Jy het ‘n pragtige pantoen geskryf. Welgedaan.
(2) Laatnag se wens – Omarmende rym
Jy het die rymptroon pragtig baasgeraak, maar ek wil voel asof sekere woorde slegs gebruik is om te rym. Inversie, waar die woordorde verander word ter wille van rym is ‘n toelaatbare element, maar indien woorde bloot gebruik word nét om te rym lewer dit baie keer min of geen bydrae tot die gedig nie. Byvoorbeeld: “nag se lens”; “flenter some”. Het dit jou gedagtes werklik verwoord?
(3) Fosfor’blom [sic] – Kruisrym
Die titel kan heel funksioneel sonder die apostroof geskryf word nl. “fosforblom”. Ek verstaan nie hoe dit titel aanklank vind by die gedig in geheel nie. Die kruisrym is suksesvol. Die 4de sin in die 2de strofe lees ritmies lomp a.g.v. die lengte. Dankie vir jou deelname.
(4) Arme vyfsent – Villanelle
Jou villanelle as konsep is suksesvol. Die gebruik van soveel punte [.] in die gedig het my effe gehinder en wonder of ander leestekens nie dalk sou kon bydrae tot ‘n minder ritmies-steurende vers nie? Die sinne is nie regtig té kort nie, maar die baie sterk rusposes [.] laat dit so klink en voel. Ek hou van die onderwerp van jou gedig wat vars is. Ek kan nie onthou of ek al ooit die lot van die vyfsent in ‘n vers raak gelees het nie. Dankie vir jou deelname. Dit is ‘n grootse stylfiguur in die digkuns en jy het jou goed daarvan gekwyt.
(5) Kartonbord van ‘n bedelaar – Engelse sonnet
Jou sonnet is op die merk. Die volta is sterk en suksesvol. Die inhoud is relevant, nodig, en jy het dit sensitief hanteer. Eerlike gedigte waar die skrywer die menslikheid (wat so alledaags tasbaar om ons weef) verbeeld word maklik gunstelinge by lesers; juis omdat ons almal kan vereenselwig. Die titel is ook interessant aangesien dit sinspeel op die “bedelinstument” en ook “breekware” waaruit geëet kan word. Dit is ‘n slim idee om dit so te doen. Die Hiperbool wat jy skep met die gebruik van “Tsunami” is vir my ook treffend. Dankie vir jou deelname.
(6) Reën in die groot karoo [sic] – Pantoen
Ek dink dit is een van die béste Pantoene wat ek nog ooit gelees het. Elke herhaling pas soos ‘n legkaart. Jy het hierdie digstyl bemeester. Ek wonder oor die kleinletter gebruik by die Eienaam, wat altyd met hoofletters geskryf behoort te word. Digkuns leen hom egter tot effe vryheid, maar ek dink tog dit sou in hierdie geval nodig wees. Dit is ‘n ongelooflike suksesvolle gedig en ek het heerlik hieraan gelees. Dankie vir jou bydrae.
(7) Persiese kwatryne
Al vier jou kwatryne is pragtig en suksesvol. Daar is ‘n heerlike ritme in al vier en dit lees gemaklik en lekker. Welgedaan.
(8) Blootgestel – Rubaiyat Sonnett)[sic]
Die “konsep” van ‘n Rubaiyat sonnet is aan my onbekend. Dit gesê, daar is egter genoegsame vryheid in digkuns om die skrywer sulke “vryhede” toe te laat. Ter wille van behoorlike krit hierop: die Rubaiyat is eintlik ‘n versameling van kwatryne (4 lyne per stansa) waar die rympatroon soos volg lyk: aaba. Die vorm vra nie na ‘n volta nie, wat in die sonnet natuurlik een van die belangrike vereistes is en gevolglik ‘n koeplet vra wat die vers sluit. Die samevoeging van hierdie twee vorme is interessant en vars. Ek hou van jou digterlike vryheid en die waagmoed. Die volta (keerpunt) vind vir my in jou gedig reeds in die derde kwatryn plaas en neem effe van die “krag” weg in die koeplet. Jou vers is op eie “meriete” suksesvol en bied presies wat die styl voorstel om te doen. Ek sal effe aan die inhoud skaaf, want vir ‘n formele gedig (Rubaiyat) het dit vir my (persoonlik slegs) ‘n ietwat van ‘n ligsinnige geurtjie. Dankie vir jou deelname.
(9) Tetactrys struktuur
Jou “Tetactrys” in beide 1,2,3,4,10 lettergrepe en omgekeer 10,4,3,2,1 is perfek. Die inhoud is pragtig. Ek het baie lanklaas hierdie digvorm raakgelees. Baie geluk hiermee. Dankie vir jou deelname.
(10) Ou kerkie – Ode
Dit is ‘n odiese reis in nostalgie. Ek hou baie hiervan. Die Ode sluit effe stom en sonder ‘n vraagteken? Die vers lees mooi ritmies tog sou ek die laaste strofe anders sluit. Voorbeeld: “aan jou vertel nie, hoe dit was?” Dankie vir jou deelname. Jy het die ode as struktuur mooi bemeester.
(11) Jou voetspore bepaal – Intertekstualiteit
Uitstekende interteks. Jou gedig ontbondel in ‘n grootse klem aan die einde. Baie interessante inhoud wat manhaftig deur die kwesbaarheid trap. Welgedaan. Dankie vir jou deelname.
(12) Onbeplande kind – Pantoen
Jy het jou goed gekwyt van jou taak met hierdie Pantoen. Die inhoud is nié so eenvoudig soos met die eerste oog opslag nie. Daar word diep hartseer hierin verwoord, wat jy met deernis en omgee doen. Dankie vir jou deelname.
(13) Heilige nag – Pastiche
‘n Pragtige pastiche op Carma se oorspronklike gedig. Ek wonder of die gedig nie met ‘n vraagteken moet sluit nie? Die inhoud is gepas en jou vers is baie suksesvol. Dankie vir jou deelname.
(14) Sal Hy tevrede wees [sic]
Alhoewel jou gedig goeie filosofiese vrae vra, is daar ‘n paar dinge wat pla. Die gedigstyl (soos dit die opdrag was) I nie aangedui nie. Ek vind ook geen spesifieke styl hierin, behalwe as om dit as ‘n vryevers te bestempel. Die gedig het baie vrae, kort en stomp sinne, en geheel té veel hoofletters en vraag tekens. ‘n Gedig wat spreektaal gebruik is altyd meer suksesvol en ek gaan jou eerste sin gebruik as voorbeeld:
“Ek sit en kyk na die verby lopende mense en dink” eerder;
“Ek sit en kyk na die mense wat verbyloop, en ek dink:” Klink dit nie meer hoe ons regtig praat nie? Hierdie gedig kan ontwikkel word tot ‘n baie mooi werk. Dankie vir jou deelname.
(15) Here
Die repetisie van asseblief dra geensins by om die gedagtes te beklemtoon nie, maar neem baie weg daarvan. Herhaling is belangrik en soms nodig maar om dit te oordoen is eerder steurend as funksioneel. Dankie vir jou deelname.
(16) Bucketlist van ‘n Cap’ie
Jy het nie aangetoon watter stylfiguur jy gebruik het nie. Jou vers is nietemin interessant en heerlik Kaaps. Elke sin behoort egter nié met ‘n hoofletter te begin nie. Dit was ‘n heerlike ervaring. Dankie vir jou deelname.
(17) Mensboom – Pastiche
Dit is een van die min gedigte wat ek in my lewe gelees het wat beide mooi én interessant is. Die inhoud is integraal tot die titel en boeiend leersaam, terwyl dit ‘n diep en amper onherkenbare verwysing maak tot die digkuns. Dit is ‘n indrukwekkende stukkie poësie en ek ag myself gelukkig om dit te kon lees. Jy het jou Pastiche pragtig berei. Ek wens ek kon my oog lê op die spesifieke vers van René Bohnen. Dankie vir jou deelname.
(18) Kolmanskop in die woestyngebied – Akrostiese styl
Jou gedig is geslaagd en voldoen aan die voorskrifte vir ‘n Akrostiese gedig. Die beelde hierin is lewendig en tasbaar. Ek sou die titel verander het sonder –gebied gekoppel aan woestyn, maar om jou gedig volledig te ontwikkel het jy “gebied” nodig anders sou die laaste strofe nie ‘n ontstaan gehad het nie; daarom berus ek by jou titel. Pragtige werk. Dankie vir jou deelname.
(19) Bloed en wraak – Paarrym
Die rympatroon in die gedig is suksesvol. Ek voel egter dat die gedig baie kripties lees en dit steur die ritme. Ek verstaan dat jy ‘n sekere atmosfeer wil skep wat “donker” moet wees om by die tema te pas, tog dink ek die vloei kan met baie min moeite hierin herstel word. Dankie vir jou deelname.
(20)Metronoom – Triolet
Met die Triolet is die rymorde ABaAabAB. Jy het die vers suksesvol aangebied. Ek het lanklaas ‘n Triolet onder oë gehad en dit was dus ‘n heerlike verrassing. Die inhoud is interessant en lees heerlik. Die gedig omsluit ook ‘n lewenswaarheid. Dankie vir jou deelname.
(21) Wie – Grafika
Ek het nog altyd “Grafika” vereenselwig met die tipografie van ‘n betrokke vers, en dra nie kennis van so ‘n digvorm nie. Ek is natuurlik ook net mens en mag verkeerd wees. Sal jy my asseblief sommer hier in die kommentaarboks regwys. Ek wil meer leer hieroor. Dankie vir jou deelname.
(22) Gemeenskaplike euwel – Rymende koeplette
Tweede strofe: Sondae nie “Sondags” nie. Die koeplette is eg aan die styl. Die inhoud mag met die eerste oog-opslag verwarrend lyk maar met ‘n herlees en besinning besef die leser tog hoe dit eintlik ‘n geheel vorm. Dankie vir jou deelname.
(23) Tanka
Tanka is ‘n Japanese digvorm wat bestaan uit 31 lettergrepe; gewoonlik 5,7,5,7,7. Vir my was dit nog altyd die “ouer boetie” van die Haikoe. Jou Tanka is besonders, want nie nét vra die Tanka vir 31 lettergrepe nie maar moet ook simile (vergelyking), metafoor en personifikasie insluit. [Jasmyn bloei – metafoor]; [salwing voortbeur – personifikasie] Jou gedig is geslaagd en die inhoud is pragtig saamgestel. Dankie vir jou deelname.
(24) As ‘n kind
jy het nie aangedui watter digvorm jy gebruik het nie, maar ek het ‘n sonnet hierin geïdentifiseer. Die koeplet moet egter losstaande van die laaste kwatryn geskryf word. Jou volta in die vers is duidelik. Die ligte trant in die vers is lieflik en die rympatroon voel ongeforseerd. Dankie vir jou deelname.
(25) Nostalgie visuele emosionele stimulasie
Jy dui die vers as “nostalgie” aan en daarom neem ek aan dat die Ode as digvorm gebruik is? Die simile wat jy gebruik om die seisoene met ‘n vrou te vergelyk is vir my mooi. Die rympatroon is aanvaarbaar. Die gedig lees ritmies. Dankie vir jou deelname.
(26) Droomspore – Uitheffings tegnieke / Parentese
Uitheffingstegnieke kom in verskeie vorme: Hoofletters; omkeer van woordorde; kursief; belangrike woorde by die aanhef en einde van sinne. Parentese is ook teenwoordig. Die losstaande woorde in jou gedig belig die uitheffing mooi. Jou gedig is suksesvol. Die inhoud is intrigant en die vers lees heerlik ritmies. Dankie vir jou deelname.
(27) Huweliksboot – Italiaanse sonnet
Streng bestaan die Italiaanse sonnet uit ‘n Oktaaf en ‘n sekstet, met ‘n rymskema (abba abba en cde cde of cdc dcd). Jou twee kwatryne (wat saamgevoeg kan word) voldoen aan die voorskrifte vir so ‘n rymskema, maar die 4de sin in die sekstet verbreek die patroon daar. Die elisie by “huw’liksboot” is vir my pragtig op die oor. Verder is die ritme in die 2de kwatryn effe lomp, en veral in die laaste sin. Besin oor die vers want jy het baie potensiaal. Dankie vir jou deelname.
(28) Hunkering – Triolet
Met die Triolet is daar twee skole van vorm, een waar die rympatroon vasgestel is nl. ABaAaBaB en dan die vorm wat jy hier gebruik waar die reëls herhaal word. Jy het dit pragtig bemeester. Die uitheffing in die middel (met die aandagstrepe) is werklik interessant en die verleen ‘n ander dimensie aan die triolet wat met sy herhaling dal keen dimensioneel kan lyk. Die inhoud is beeldryk en die vers lees ritmies. Dankie vir jou deelname.
(29) tappeserie
Corrie ten Boom het ‘n gedig geskryf, wat bekend staan as die “Tapestry Poem” en ek weet nie of jy jou vers op sy vorm skoei nie, maar ek vind nie ‘n gedigvorm in jou vers nie. Geen vorm is ook aangedui nie. Is dit ‘n vryevers? Jy bied die vers enjambies aan en vir die meeste werk dit. Sommige sinne voel effe kripties end it wil voel of ‘n paar lidwoorde sou kon bydrae. Die spelling van tappiserie in Afrikaans is met ‘n [i] en nie ‘n [e] nie. Dankie vir jou deelname.
(30) In die aura van jou liefde – Miltoniese sonnet
Die Miltoniese sonnet verskil nie veel van die Engelse sonnet nie, maar voeg slegs die paragrawe bymekaar sonder spasies. Die rympatroon bly streng dieselfde. Jy het dit pragtig bemeester. Daar is egter sinne in die vers wat baie lank is waar té veel woorde gebruik is om een enkele idee te verduidelik. As voorbeeld, sin 2: “die trillings hardloop in braille ritmies oor my lyf” waar “trillings” en “ritmies” dieselfde betekenis het in hierdie geval. As die sin “die trillings hardloop in braille oor my lyf” lees is die ritme beter en dit neem niks van die betekenis wag nie. Let op woordekonomie; dit is belangrik. Dankie vir jou deelname.
(31) Oor Northpine vlieg ‘n kolgans – Rondeau
Dit is ‘n pragtige en suksesvolle Rondeau. Jy het die reëls mooi nagekom. Die inhoud van die vers is beeldskoon. Dit is altyd ‘n moeilike term in digkuns, want sommiges wil daaroor frons, maar “beeldskoon” is vir my ‘n lieflike beskrywing vir ‘n gedig wat metafories en beeldryk is. Pragtige vers. Dankie vir jou deelname.
Sterflikheid – Triolet
Lieflike Triolet. Die inhoud is mooi. Jy het die reëls vir ‘n Triolet bemeester. Pragtig. Baie dankie vir jou deelname.
RUBRIEKE:
(1) Liefde is…St. Francis van Assisi
Ek hou van die rubriek en die boodskap. Daar is egter ‘n paar dingetjies wat pla. Die aanvang jou jou rubriek is treffend, maar die laaste sin van die eerste paragraaf sou meer gepas aan die einde gewees het. Ook is ‘n groot gedeelte van jou rubriek beslaan met die ‘lied’, wat ek eerder sou wou sien dat gedeeltes daaruit aangehaal, en jy jou eie mening daaroor sou bespreek. Let daarop dat die gebruik van ‘maar’ aan die begin van ‘n sin uiters selektief gebruik behoort te word. Ek waardeer jou moeite met genoegsame navorsing. Dankie vir jou deelname.
VERHALE:
(1) Eerste Ford
Lieflike kort en kragtige verhaal. Dankie vir jou deelname.
(2) Jacobus en sy nuwe Ford
Daar is baie min mense wat weet dat die Model T ook in rooi uitgekom het. Seker omdat Meneer Ford gesê het “enige kleur solank dit swart is.” Jou verhaal is heerlik. Dankie vir jou deelname.
(3) Fanus koop kar
Heerlike humoristiese storie. Ek het saam gegiggel oor die hoenderhok. Dankie vir jou deelname.
(4) Marion se eerste Ford T
Lekker leesstorie. Dankie vir jou deelname.
(5) Dans met my
Die motor speel ‘n baie klein rol in jou storie. Nietemin, is dit ‘n pragtige en kort verhaal wat vinnig beweeg. Onthou as iemand in ‘n storie dink word dit ook in aanhalingstekens geplaas soos enige ander dialoog. Dankie vir jou deelname.
(6) Ou Gielie se eerste Ford
Goeie storie. Dankie.
(7) Manie se Tin Lizzie
Humor op sy beste. Pragtig. Dankie vir jou deelname.
(8) ‘n Vrou van formaat
Pragtige storie. Dankie vir jou deelname.
(9) Swart hings
Pragtige storie. Dankie vir jou deelname.
(10) Erfgeld
Goeie storie. Dankie vir jou deelname.
GORREL:
(1) Twee manne en ‘n fiets
Alhoewel ek heerlik lekker gelees het aan hierdie “storie” het jy nie die opdrag nagekom nie. Dis jammer dat jy nie eerder hierdie storie gehou het vir ‘n volgende geleentheid nie.
(2) Ek ken dit maar net as “fudge”
Jy het ongelukkig nie die opdrag nagekom nie.
(3) Ontdek jou passie by Ink
Dankie vir jou passie oor Ink. Ons neem kennis van jou voorstelle.
ARTIKELS:
(1) Ons getroue God
Onthou dat ‘n artikel slegs geskoei kan word op ware feite wat getoets is, en nie ‘n persoonlike mening behoort te weerspieël nie. Die datum van 1 Oktober 1963 maak nie sin nie. Watter veldslag het plaasgevind?
(2) Die gemeste kalkoen [sic]
Ek neem aan jou titel was net ‘n vingerfout want die behoort “gemesde” te lees. Baie dankie vir die goeie navorsing en die goeie artikel. Welgedaan.
Baie geluk aan elke deelnemer
Ink moderator
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.