Stille waters Silwer 350 Woorde April projek
Die wilger se takke hang laag oor die rivier. Rippelwatersirkels vorm en klok wyd voor dit stil saam met die vloei verdwyn.Ek sluit my oë.
Jou klokkielag sny helder deur die oggendmis. Modderspore vorm waar ons aan die kant van die wal paddavissies met ‘n net probeer skep. Gillend hardloop jy wal op wanneer die knypers van ‘n koddige klein krappie om jou toontjies vou. Jou net vergete in die moddegras van die rivier.
Hand aan hand stap ons na die hoekkafee. Die bytplek vergete. Paddavissies swem rond en rond in die glasbottel wat nou veilig in jou rugsak lê. Jy glimlag op na my en ek vee ‘n roomys streep oor die ronding van jou neus. Jou oë skitter soos blink diamante in die oggendson.
Ek los jou hand. Jou wit rok maak fyn sleepgeluidjies op die rooi tapyt. Jy word vrou. Ek voel die ritme van die wals terwyl jy een-twee-drie oor die dansbaan gly. Jou klokkielag weer vol paddavisplesier. Die klein dogtertjie is nou volwaardig vrou.
Ek leun terug teen die ou Wilger se stam. Die son kwas rooi teen die horison. Ek vee oor die krom van my wang. ‘n Klamigheid klou aan die sakdoek se punt. Dit ruik na Charlie en Musk. Jou gunsteling. Met ‘n kreun lig ek myself teen die Wilger op. Die been is weer seer vandag. Jy wou nog een keer draairoomys by die hoekkafee kom haal. Die lig was rooi. Die drywer dronk.
Die klein sakdoekie wapper in die wind. ‘n Baken aan die wit kruis wat eensaam langs die teerpad staan.
3 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2022 En toe … projek
-

Nix
Sjoe, dis omtrent mooi...
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Wendy Leigh
Fantastiese skrywe❤️ Jy mag maar, baie dankie.