Oudword issie vir sissies nie
Oudword issie vir sissies nie
Brons. 595 woorde
Toe ek ‘n jongman was kon ek nooit verstaan hoekom die skoner geslag so lank neem om soggens klaar te maak in die badkamer nie. Dis roompies, poeiertjies, haartjies en wie weet watter “tjies” nog alles. Ek het wakkergeword, opgestaan, aangetrek, soms hare gekam en dan was ek klaar. Teen die tyd wat mammie klaar was, het ek al my derde koffietjie in, die enigste “tjie” wat ek benodig het.
Deesdae gaan dit effens anders. Wanneer ek soggens my oë oopmaak, lê ek eers baie stil. Ek het ‘n paar oomblikke nodig om net opname te maak van waar ek is en waar en hoe intens al die pyne en skete is. En daardie plekke en intensiteit laat my besluit of ek met ‘n roompie of pilletjie of dalk albei sal opstaan.
Daarna kom die opsitepisode. Nou nie daardie opsit met die kers nie. Ek praat van die regopkomopsit, so tussen die krake en kreune deur. En daardie krake kom nie van die bed af nie. Die regopkom word gevolg deur die Hokey Pokey manuevre, linkervoet af en weer op en weer af, totdat die ander voet ook die ritme vang en saam van die bed af swaai. Die absoluut noodsaaklike wat dan volg is die tweede opsit, die brilopsit, want daarsonder sal ek my te pletter val. Eers dan is ek gereed vir die pilletjie of roompie of wat ookal nodig is. Wat vir my as ‘n jongman onwiilekeurig en instinktief gebeur het, het skielik ‘n mylpaal geword.
Na hierdie mylpaal, volg die tweede. Die hele badkamerroetine. As jongman het ek van ‘n heerlike warm bad gehou, maar deesdae moet ek maar met die stort tevrede wees, want in sal ek kan, maar nie uit nie. Eers is dit die nagklere in die wasgoedmandjie en dan die bril afhaal, anders wasem die hele ding toe. Dit kom somaar bo-op die wasgoedmandjie. En dan neem dit ‘n goeie 5 minute om die stort teen die regte temperatuur te kry, sodat my hart nie in spasma gaan nie. Nadat ek die stort toegedraai het, is dit mos die oomblik dat ek ontdek die handdoek lê nog net so opgevou op die spieeltafel in my kamer waar ek dit die vorige aand gesit het, juis om dit nie te vergeet nie. En ek bly alleen. Daar is niemand wat ek kan vra om die handdoek vir my te bring nie. Dan is dit maar weer bril op, kaalbas kamer toe en met die min krag wat na hierdie sessie in my liggaam oor is, gebeur die afdroog somaar daar in die kamer.
Die rusverposing is egter van korte duur, want die tandeborsel en tandepasta is nog in die badkamer en iewers sal ek nog ‘n skeersessie ook moet inkry. So, dis maar weer die lang gang aandurf badkamer toe.
Dis eers wanneer ek uiteindelik die badkamer die tweede maal haal, dat ek ontdek die tande wat ek moet borsel is nie daar nie. Hulle lê nog rustig in die glasie langs my bed. So weer is dit terug kamer toe.
Uiteindelik is al die nodige in die badkamer darem gedoen en kan ek rustig in die kombuis my koffie gaan geniet, die eerste een vir die dag en ek wonder in my stilligheid en terwyl ek my beskuit in die koffie doop hoe ouer dames die oudword hanteer as dit hulle gewoonlik in hulle jongdae ‘n uur of meer geneem het om klaar te maak. En dan, ten spyte van die ouderdom, is ek dankbaar ek is darem nog ‘n man.
©️HENN
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.