Pappa
My pa het eers ‘n rol in my lewe begin speel toe ek vyf jaar oud was. Ek het dadelik besluit ek hou nie van hom nie. Hy het ook nie baie van my gehou nie. Ek was Ouma en Oupa (aan my Ma se kant) se prinsessie en het seker die houding van een óók gehad. Ek moes gou leer dat Pa ‘n baie kwaai, harde stem gehad het en die een was wat my eerste van baie pakslae gegee het. Kort daarna is my sussie gebore en toe begin my moeilikheid.
Ek het ‘n babysitter geword. Elke keer as Liewe Sussie seergekry het, het Pa my aan die keel teen die muur opgedruk en baie lelike goed vir my gesê. Ek was self maar net ag jaar oud. Soos ek ouer geword het, het ek meer en meer verantwoordelikhede gekry, want Pa en Ma het hard gewerk. Ek was op Hoërskool die onbetaalde huishulp. My jongste sussie is elf jaar jonger as ek. Ek moes sommer vir haar ook Ma speel.
Daar was nooit ‘n goeie woord of dankie gesê nie. Geen liefde was betoon nie. Ek moes eerder keer op keer hoor dat ek “minder werd was as die slangkak op die bodem van die see”…
Hy het altyd die slegste van my geglo sonder dat ek hom rede gegee het.
Hy was ‘n nors, onbeskofte mens! Ek het hom gehaat met alles in my. Soveel so dat ek hom dood gewens het.
Waar was my Ma in die tyd? Sy was daar. Die goeie Afrikaner vroutjie wat haar man eerbiedig het. Ek glo sy het op haar manier probeer.
Ek het hom nooit gekonfronteer oor alles nie. Die lewe het aangegaan en hy was salig onbewus van wat sy dade en woorde aan my, emosioneel, gedoen het. Ek het hom deur die jare baie probeer vergewe, maar dit het nooit baie gevat om die bitterheid terug te bring nie.
Onlangs dwing ek myself om agter die swart gordyn van bitter en seer na die lig van bevryding te soek.
Daar sien ek dit!
‘n Pappa wat my by die skool moes aflaai, maar toe ek huil om nie te gaan nie, my eerder saam werk toe gevat het.‘n Pappa wat harde en lang ure ge-arbei het om kos op die tafel te sit. ‘n Pappa wat op ‘n naweek as finansies dit toegelaat het, ‘n groot pak biltong en los chocolates by Shoprite gekoop het en met ons almal gedeel het. ‘n Pappa wat elke Desember met Mamma baklei het omdat sy nie kon af kry by die werk, sodat ons op vakansie kon gaan nie. Sy het op die ou end altyd afgekry en omtrent elke jaar op die Vier en twintigste Desember was die tent gepak en later jare die karavaan gehak en het ons die pad Mosselbaai of Port Elizabeth toe gevat. Ek dink my Ma se baas was ook bang vir hom.
‘n Pappa wat na my opleiding sonder om ‘n oog te knip, aghonderd kilometer ver gery het om my by my nuwe “begin” te besorg, nadat my rygeleentheid deur die mat geval het.
‘n Pappa wat toe my Trouman in my lewe gekom het, ‘n seun aanvaar het. Die seun wat hy dalk nog altyd begeer het eerder as drie dogters. ‘n Pappa wat my by die kerk ingelei het op my troudag en ek tog die trots in hom kon voel.
‘n Pappa wat toe sy eerste kleinkind gebore was van ver gekom het met rugstutte en krukke(hy het by die werk van ‘n hoë plek geval) om sy eerste kleinseun vas te hou. ‘n Oupa wat baie kere ‘n traantjie weggeknip het as hy Oudste en later Jongste vasgehou het en net na hulle gestaar het. ‘n Pappa wat vir my en die seuns van ver kom haal het om by hulle te bly toe Manlief op ‘n kursus gegaan het, sodat hulle my kon help met die twee kleintjies. Jongste was maar drie weke oud.
‘n Pappa wat einlik enige iets vir sy dogters sou doen – ek was maar nog altyd net te selfstandig om te vra.
‘n Pappa met sy eie issues van verwerping en seer van sy eie kinder- en jongmens lewe.
Dis toe dat God se vrede oor my gekom het. Die oomblik toe ek die lig agter die donker gordyn raakgesien en hom regtig vergewe het. Ek het besef dat my aardse Pappa ook maar net sy bes probeer het.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek