Reën (Italiaanse sonnet) (Goud)
Reën (Italiaanse sonnet) (Goud)
Ek sien ‘n wolk soos watte teen die blou;
‘n Son wat skroeiend oor die dorheid brand
en deur die hunkers van die honger sand,
‘n kokerboom wat hande opwaarts hou.
Ek hoor die fluitstem van die Piet-my-vrou.
Hy roep die reën na hierdie droë land.
Ek sien die bliksems teen die klipkoprant
en voel die wind wat uit die grou ontvou.
Die eerste drup wat teen ‘n grassaad plof,
spat teen die grond se gapende gewag
en sypel deur die skeure van sy mond.
Die droē loop en waterstroom ontstof
en met ramfanje in sy skitterlag,
verstaan die veld die goue Godsverbond.
Andries Fourie
15.10.2024
Neologisme:
Ramfanje – ekstase
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek