poësie (Goud)
laat my ontvlug na my eie hartsplek
waar God se kwistige kwas my siel laat ontwaak
om my woorde werklik te laat mooi maak
om my pen te laat leeg loop in poëtiese bestek
laat my aansit om sonder woordgebrek
my wese te ledig en verse te bemaak
aan húlle wat dors om die dieper aanraak
van dig-vakmanne se hartsverse te ontdek
ek skryf verwonderd aan die woorde in my
ek verdwaal in versvoetpaaie se stof
tot dáár waar dit soos sterstof blink
ek koester die poësiestem in my
wat soms voorbarig maar altyd met lof
meng met my pen se skrywersink
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2024
neologisme: dig-vakmanne – digters (manlik én vroulik)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek