Jongste aktiwiteit:

RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 10

Kroonstad se bedryfskantoor is, soos enige ander bedryfskantoor, die hart en siel wat die wiele aan die rol hou. Hier word die treindiens beplan, trekkrag gereël en die eenheidsverkeer beheer asook toesig oor die trajekte gehou.
Die kantoor bestaan uit die beplanner, wat ook in beheer van die kantoor is en wat die diens Bloemfontein toe reël, en n assistent beplanner wat die diens Transvaal toe reël. Daar is ook selektorklerke wat die trajek Transvaal toe beheer en n selektorklerk wat die Goudveld en Klerksdorplyne beheer. Die Bloemfontein en Bethlehem lyne word onderskeidelik deur selektorklerke in Bloemfontein en Bethlehem beheer. Verder is daar die rollstock klerk wat die verkeer onder eenheidsbeheer beheer maar is hy ook die skakel met die telekskantoor waar die teleksmasjiene die inkomende vragte uitspoeg en die treine wat vertrek se vragte ingelees word.

Dan is daar die bobaankontrolekamer vanwaar toesig gehou word oor die kragtoevoer op die Vereeniging lyn en die Kroonstad-Bethlehem- Harrismith lyn.

Dit is laatnag en het die beplanner, Gert Marais, alles vir die vorige dag afgesluit en al sy statistieke vir die nuwe dag aangelê. Hy het die stoel op sy agterpote en voete op die tafel, en het homself net lekker ingerig vir n slapie toe die bobaantoesighouer inkom: “Hier is fout op die Bethlehem lyn Gert. Ek het Patrysdraai en Oosthuizen se substasies verloor en kry nie weer die krag aangeskakel nie, die krag bly afskop. Ek sukkel nou al n halfuur lank en sal mense moet uitkry om te gaan kyk wat aangaan”.

Dit is ongehoord, en wil hy net die terrein bel om eers die treine Bethlehem toe te stop toe sy telefoon aan die lui gaan. Toe hy antwoord is dit die beplanner op Bethlehem op die lyn: “Ons het n kop aan kop botsing op Oosthuizen sylyn. Die selektorklerk is nou besig om meer inligting by een drywer te kry wat op die noodlyn met sy veldtelefoon is maar jy moet die base solank begin uitkry, ek gaan die base hier aan my kant ook nou begin bel om te gaan kyk hoe ernstig dit is maar vir my klink dit ernstig”.

Gert haal sy voete van die tafel af, sit nou regop, en trek sy lys van nommers nader. Hy begin die lokoinspekteur, die bedryfsinspekteur en die spoorbaan inspekteur een na die ander uit die bed haal. Intussen het bobaankontrole ook gehoor wat gebeur het en is hulle besig om hulle mense ook uit te kry want daar sal verseker van die drade gebreek wees en van die maspale platgeval.

Hy is nog besig hiermee toe Bethlehem weer bel: “Gert, dinge lyk lelik, kan jy ambulanse reël, daar is van die mense wat sleg seergekry het”. Die hele bedryfskantoor is nou rep en roer en begin almal help. Die loko moet gebel word want dit lyk of hulle die kraan gaan nodig kry, die diens Bethlehem toe moet gekanselleer word, die stasie moet gebel word om nie die passasierstrein te laat ry nie en om n kondukteur vir die hulptrein te reël. Die loko se roepman word ook gestuur om die eerste personeel wat aan diens moet kom te gaan roep om dadelik aan diens te kom terwyl hy die hulpkraan se personeel, wat nie telefonies bereik kan word nie, gaan roep.

Met n dringende geklop word Tiny wakker met die roepman se geroep: “Oom Tiny, oom moet dadelik aan diens kom vir n hulptrein op die Bethlehem lyn. Daar was n botsing gewees by Oosthuizen en daar is n kraan nodig om die ontspoorde trokke en eenhede op te tel”.
Tiny voel skoon lam toe hy die roepboekie teken en Maureen opstaan om sy blik te gaan pak, duidelik verlig toe sy sê: “Ek het geweet iets gaan gebeur, ek is net bly jy is nie daarin betrokke nie Tiny”.

Intussen word die prentjie van wat gebeur het al dudeliker. Dit wil voorkom asof die twee treine op Oosthiuzen moes gekruis het en het die een drywer vergeet van die kruising en die kruisplek deurgehardloop. Gelukkig het die drywer van die ander trein die blou blits in die donker gesien toe die panto grawe onder die houtstroombreker by die substasie deurgaan en het hy besef dat die trein oppad na hom toe is. Hy en sy assistent kon net betyds uitspring voor die botsing maar het sy assistent sleg seergekry met die val. Die ander trein se personeel sit in die wrakstukke vas en moet bevry word.

Toe Tiny aan diens teken is die roosterkantoor n byenes van bedrywigheid. Die lokovoorman het ook gearriveer en het die roosterkantoor sy tydelike hoofkwartier gemaak. So tussen die telefone deur kry die roosteropsteller darem kans om met Tiny te praat: “Tiny die loodsman het sommer jou enjin gevat om die hulptrein te gaan uithaal. Hy sal sommer n ekstra watertenk ook aankoppel vir water as julle kolewa leeg is. Die stasie sal nou n kondukteur stuur om jou te help met die terugstoot stasie toe want julle sal moet uitstoot om reg te staan om te ry, die kombi sal sommer die Bethlehem drywer wat die passasierstrein moes werk saambring om jou te loods”.

(Wanneer n drywer nie n lyn ken nie moet n drywer wat wel die lyn ken saamry om as loods op te tree. Op hierdie stadiun het Kroonstad se drywers nie Bethlehem toe gewerk nie en het dus nie die lyn geken nie.)

Intussen begin die hulptrein personeel ook aanteken is hulle n uur later reg om te gaan. Toe Tiny wegfluit kom die kondukteur se swaaiende wit liggie van agter af en begin Tiny stadig terugstoot tot hy n rooi lig kry. Nie lank nie of die swaaiende wit lig is weer daar en kan hulle terugstoot tot in die stasie om reg te staan om te ry. Intussen begin n lui rokie by die stoomkraan se skoorsteen uittrek soos die vuur in sy vuurkis begin brand.

Tiny is net in die stasie in toe die sinjale vir hom opgaan en hulle kan vertrek op hulle lang tog want die spoedbeperking op krane is 30 k.m.p.u.
By Gunhill-Suid kruis hulle af op die Bethlehem lyn en begin die rit Featherstone toe waar hulle deursinjale kry en die tablet vir die Featherstone Wonderkop trajek optel wat hulle n veertig minute later intrek. Die pad loop langs die spoor en kry hulle twee ambulanse met flitsende ligte op die pad met nog een wat by hulle van agter af verbyjaag.

Toe hulle op Wonderkop stop hoor hulle by die stasievoorman dat die een trein se assistent deur die baanmeester se span, wat al op die toneel is uit die wrakstukke bevry is maar dat die drywer nog vassit. Hulle kan hom egter sien en wil dit lyk of hy op slag dood is. Dit is toe Tiny dit hoor wat hy n koue rilling deur hom voel trek. Hy dink terug aan Maureen se voorspelling en aan die nag toe Paddy op soortgelyke wyse verongeluk het.

Intussen het die base teruggekom van die toneel af en het nou die stasie betrek om te begin reëlings tref om die toneel op te ruim wat hulle skat twee dae sal vat om alles weer terug te kry na normaal. Tiny sal egter eers moet losgemaak word om losloko tot by die toneel te gaan om die agterste deel van die vrag, wat nie in die botsing ontspoor het nie, terug te sleep Wonderkop toe sodat die kraan by die toneel kan kom.
Met die son wat teen die horison op n nuwe dag begin styg vertrek hulle na die toneel toe met n magtiging tot by die kilometerpunt. Dit is waar die loods nou sy deel moet doen en waarsku hy Tiny om spoed te verminder toe hulle die kilometerpunt nader tot hulle die knalpatrone aftrap en voor die baanmeester se vlagman se rooi vlag tot stilsand kom. Hy vat sy rooi vlag weg en wys dat hulle kan vorentoe gaan tot by die toneel om die agterste deel van die vrag te hak.

Die toneel wat hulle begroet is nie n mooi gesig nie. Voor kan hulle die ontspoorde trokke sien lê en die hopie waar die verfrommelde eenhede op mekaar lê. Maspale staan skeef en krom geval. Langs die pad staan heelwat motors en is n nuuskierige skare besig om saam te drom. Die baanmeester wat al op die toneel is het al sy dae om die mense weg te hou. Langs die spoor staan n eensame ambulans en wag.

Die kondukteur, wat saam gekom het, maak hulle vas aan die agterste deel van die vrag en begin die stoker rol en die injekteur roggel dat hulle kan stoom opbou. Sover het hulle die keteldruk maar so op 150 kpa gehou om water en kole te spaar maar nou gaan hulle elke druppel stoom nodig hê. Die vrag is n mielievrag en is die oorblywende deel redelik swaar vir een lokomotief.

Gert gaan gooi agter elke trekwiel bietjie sand en na n paar minute staan 3205 onder vol stoom, met die naald op 210 kpa en vakuumnaalde op 17 dm, met n rooksuil wat die lug inblaas en n veiligheidsklep wat met n harde geblaas stoom afblaas. 3205 is reg om haar kant te bring.

Met die omsteller vol agteruit en silinderkrane oop trek Tiny die regulateur eers effens oop om die vrag stadig in beweging te bring. Dan val die vakuum naalde na nul toe, êrens het n pyp gebreek. Die kondukteur, wat op die punt is, sien dadelik dat daat n koppeling tussen die laaste trok wat op die spoor is en die res van die vrag los is en het die pyp gebreek toe die trok agtergebly het toe Tiny die vrag optel. Nou is dit weer vorentoe om die trok te koppel en is hulle weer reg toe die naalde op 17dm staan. Hierdie slag is die wegtrek sonder voorval en vat 3205 vas. Die vrag is swaar en moet Tiny n paar keer toestoot as 3205 aan die gly gaan, maar stadig maar seker begin hulle spoed opbou. Omdat die lokomotief kolewa eerste, en nog met n watertenk aan die kolewa, beweeg vat Tiny dit maar kalm teen 40 k.m.p.u tot hulle Wonderkop se sinjale in sig kry vir die derde pad en intrek.

Met die vrag afgehak gaan hulle dadelik agterop die hulptrein en begin die hulptrein na die toneel toe stoot en bereik hulle die toneel halfuur later.

Nou begin spanwerk en samewerking. Die kraandrywer vat nou oor en wys hy vir hulle met handseine om stadig vorentoe te stoot tot waar hy die kraan wil hê. Dadelik begin sy helpers die kraan se domkragte pak om die kraan te stabiliseer en het Tiny nou niks om te doen nie. Hy en die Bethlehem drywer stap dus maar vorentoe en is dit nou die eerste keer wat hulle die wrakke van die eenhede, verfrommel en opmekaar sien lê. Die vasgekeerde drywer is intussen bevry maar, volgens die baanmeester, kon hulle niks meer vir hom doen nie, hy is op slag dood. Gert is ook by en vra hy of hulle al weet wie die drywer was wat dood is. Toe hy die naam hoor skud hy net sy kop: “Hel dit was die laaste drywer wat ek in Bethlehem voor gestook het voordat ek weg is in Bethlehem”.
Toe Tiny dit hoor voel hy weer n koue rilling deur hom trek, Maureen was vir die tweede keer in haar lewe reg. In Bethlehem is daar nou n weduwee met twee klein kindertjies wat nie meer n man en n pa het nie vertel die Bethlehem drywer hom wat self maar geskok is. Die dood van n kollega is vir almal maar n skok, al het jy hom nie geken nie soos in Tiny se geval wat hom nie geken het nie.
Met niks om te doen nie gaan hulle maar terug lokomotief toe. Gert het haar nou gestal en hou die vuur net aan die gang en hou die keteldruk op so 150 kpa, hulle het nie meer nodig om die kraan kort kort vorentoe te stoot soos hy die ontspoorde trokke weggooi nie. Die trokke word langs die verfrommelde spoorlyn neer gesit, hulle sal later opgetel word want die eerste prioriteit is nou om die lyn oop te kry.

Die kraan se arm is juis nou hoog in die lug met die eerste trok aan die kabels vasgemaak om dit langs die spoor neer te sit. Die baanmeester moet nou eers stukkie spoor bou en dan moet die kraan weer vorentoe gestoot word, n tydrowende proses want elke slag moet die kraan gepak word.

Gert maak vir hulle koffie en moet hy erken dat daar darem niks so lekker as voetplaatkoffie is wat op n stoomlokomtief gemaak is nie. Op die eenhede maak hulle koffie op die elektriese warmplaat wat in die eenheid is.

Intussen het die Bethlehem kraan aan die anderkant ook aangekom en speel dieselfde drama hom aan die anderkant van die ongelukstoneel af. Kort kort swaai die krane se arms omhoog om trokke van die lyn af te verwyder en moet die baanmeesters n slag gaan spoorstawe in hulle store haal. Van die dwarsleêrs is ook beskadig en moet ook vervang word. Die spanne moet dit met swaar tange van die vragmotors aflaai en sleep hulle dit met hulle bekende singery in om die lyn te herbou waar dit nodig is. Die bobaan personeel moet weer maspale vervang en moet die krane daarmee ook help.

Dit is laatmiddag toe Tiny sy kar langs die pad sien stilhou. Maureen het vir hom kos gebring want sy het die loko gebel om te hoor hoe lank hy sal uit wees want sy weet, Tiny sal nie aflos vra nie en het sy besluit om vir hulle kos te bring. Sy kuier n hele rukkie by Tiny voor sy teruggaan en toe Tiny vertel dat die een drywer dood is kry sy trane in haar oë toe sy opmerk: “Arme vrou, ek kan my indink hoe sy voel as ek dink aan hoe ek gvoel het toe Paddy daardie tyd dood is. Nobody can describe thar horrible feeling”.

Daar word sonder ophou gewerk en moet die kraan kort kort vorentoe gestoot word en is dit al diep in die nag toe hulle by die eenhede self uitkom. Die wêreld word helder verlig met skerp ligte wat hulle krag van die kragopwekker op die hulptrein kry. Die eenhede se wrakke is baie swaarder as die trokke maar moet hulle stuk vir stuk verwyder word want hulle is met die slag van die botsing skoon van die wiele afgeruk. Dit is waar die spoor ook heeltemal opgefrommel is en word baie tyd in beslag geneem om die lyn te herbou. Die bobaanmense sal weer die drade span sodra die krane klaar is maar het hulle ook die krane nodig met die oprig van nuwe maspale. Op so n toneel word egter aan mekaar gewerk tot alles weer normaal is en is dit toe die son sy kop uitsteek wat die laaste eenheid verwyder word en die laaste stukkie spoor herbou kan word.
Die loko stuur naderhand n ander lokomotief met n vars stel treinpersoneel om oor te vat want hulle voel dat Tiny hulle nou al bitter lank aan diens is. Tiny hulle se water begin ook nou min raak en is die loko bang dat die water so min word dat die injekteur sal afskop en dat die ketelwater so laag word dat hulle loodproppe laat val. Tiny hulle gaan losloko terug loko toe om na amper 36 uur aan diens af te teken.

(Skrywersnota: bo in die vuurkis is loodproppe wat, wanneer die water te min word warm word en die lood smelt. Die laaste water in die ketel stroom dan hier uit om die vuur te blus. Dit is om skade aan die vuurkis te voorkom)

Tiny sleep van moegheid toe hulle uiteindelik die middag terug is en hy kan afteken. Die roosteropsteller gee hom dadelik agtien ure rus en toe Tiny uiteindelik by die huis kom klim hy dadelik in die bed om te gaan slaap.

Hy word net wakker toe Cathy hom kom roep vir aandete en gaan klim hy dadelik weer in die bed om die verlore slaap in te haal. Dit is egter van korte duur toe Maureen later langs hom inklim, hom styf vashou en met haar lippe sy nek begin streel… en hulle heelwat later aan die slaap raak nadat Maureen vir hom gesê het: “Na al hierdie jare van getroude lewe maak jy my nog steeds mal mansmens en ek gaan jou nog opvreet van liefde vir jou”.

Tiny antwoord slaperig: “En jy my meisie maak my ook nog altyd mal na al hierdie jare met my asseblief nie opeet nie, jy sal slegte spysvertering kry”.

Tiny raak weg in n diepe slaap en word hy sesuur wakker met die roepman se geklop aan die kamervenster: “Wakker word oom Tiny, oom is seweuur aan diens Klerksdorp toe”.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed