Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: September 2021 – Positiwiteits projek – Uitslae en kommentaar

Deur Anze
Datum gepubliseer: 10 November 2021 Aantal woorde: 1390 68 Kere gelees 4

Baie geluk aan hierdie 10 lede! Hierdie lede se werk word ook opgeneem in die Biblioteek onder Projekwenners

GEDIGTE
GOUD
1 ste No 16 Anzè Bezuidenhout met Metamorfose
2 de No 21 Anzè Bezuidenhout met Die lied van die reën
3 de No 17 Andries Fourie met Karooverlange

SILWER
1 ste No 19 Annamarie vd Merwe met In ‘n nuwe huis
2 de No 24 Morné du Preez met Vlerksang
3 de No 4 Marlene Erasmus met ‘n Chinquain

BRONS
1 ste No 13 Roeline van Schalkwyk met Beloftes van veldblomme
2 de No 10 Roeline van Schalkwyk met Lente
3 de No 8 Yvonne de Kock met Botseltjies met bekkies getuit

GORREL        Geen

ARTIKELS     Geen

RUBRIEKE
1 ste No 2 Yvonne de Kock met Die seisoene het gedraai … Hello Lente
2 de No 1 Elmarie Nienaber Van Kampen met Droom
3 de No 3 Driekie Grobler met Lente-ontwaking

VERHALE
1 ste No 2 Riaan Palmer met Koedoe
Geen

Kommentaar:
GEDIGTE:
BRONS:
Dis Lente (1)
Die vers lees gemaklik en ritmies. Die inhoud skep mooi beelde. Daar is twee plekkies in jou vers waar die sin vir my op ‘n disfunksionele plek afbreek, maar dit is slegs persoonlike voorkeur. Treffende vers wat mooi ontwikkel is. Welgedaan.
Roulik genoeg (5)
Ek lees die emosie in jou vers raak. Die opdrag was positiwiteit, maar ek gaan jou nie daarvoor diskwalifiseer nie omdat dit ‘n relatiewe begrip is. Sommige plekke is die woordkeuse en die -orde effe snaaks maar in die geval, omdat emosies soms deurmekaar kan presenteer is dit nie so steurend nie. Mooi gedoen.
Grond (6)
Die opdrag was positiwiteit, en dalk is jou vers ‘n aansporing of motivering wat jy as positief beskou. Ek verstaan net nie hoe die titel van jou vers en die inhoud regtig versoen nie? Dit is nietemin ‘n leesbare vers.
Botseltjies met bekkies getuit (8)
Wat ‘n pragtige ritmiese vers met die mooiste rympatroon. Daar is nie ‘n enkele geval waar die rympatroon vir my geforseerd voel nie. Die inhoud is beeldryk en die vers lees lieflik. Dit straal van positiwiteit en ‘n ‘n besonderse mooi vers.
Lente (10)
Jou Tanka is geslaagd. Die inhoud is heerlik positief en die vers lees heerlik. Welgedaan.
Ek, ‘n blom in die tuin (12)
Terme soos “blomme soorte” lees nie korrek nie. Jy kan nie twee meervoud vorme na mekaar gebruik nie. Dit is netjieser om “blomsoorte” te gebruik. Ek vind die vers mooi genoeg maar dit is asof daar té veel inligting gedeel wil word. Minder is soms meer, en veral as dit by digkuns kom. Ek sou pesoonlik hieraan sny om die crux van die vers meer van ‘n impak te gee.
Beloftes van veldblomme (13)
Ek hou baie van hierdie besondere vers. Die vers beskik oor vars en lieflike beelde. EK het twee klein voorstelle:
a. Vervang “en” (Str 1 lyn 3) met “in”
b. Laat die “en” (strofe 4 lyn 3) weg
Jou vers is besonders…ek het heerlik hieraan gelees.
Winter van my lewe (14)
Ek hou van die vers. Ek sou nie inversie in die laaste sin toegepas het nie. Die vers is keurig.
Sonskyn en reën (15)
Keurige vers. Spelling van “reënboë” sonder die ekstra “e”. Die gebruik van ellipse in beide jou titel en teen die einde van jou vers is onnodig.

SILWER:
Fluweel drome (2)
Keurige vers. Ek het nie kritiek hierop te lewer nie.
Wanneer die koraalboom blom (3)
Die vers lees ritmies en heerlik. Die gedig is beeldryk en pragtig. Welgedaan.
‘n Chinquain (4)
Jou Chinquain met vyf lyne en (2;4;6;8;2) lettergrepe is geslaagd. Ek hou daarvan dat jy jouself uitdaag sonder dat die tema opdrag jou daartoe dwing. Dit is aansporend. Welgedaan met ‘n pragtige, geslaagde vers.
‘n Nuwe lewe blom (7)
Daar is plekke in jou vers wat herhaling geheel oorbodig en disfunksioneel is, bv. “son”, “harde”, “groen” ens. Soms is dit bloot nie nodig om alles te “oorbeskryf” nie. Die leser kan ook in sy/haar verbeelding sekere beelde vorm sonder dat die skrywer dit met ‘n lepel moet voer nie. Ek stel voor jy redigeer effe hieraan want die vers beskik oor groot potensiaal.
Lente beloftes (9)
As ek iets moet kritiseer sou die herhaling van “Lente” in al sy vorme wees. Die gedig is geheel mooi en beeldryk maar dit sou baat by ‘n paar sinonieme of soortgelykhede vir “Lente”. Ek het jou vers geniet. Mooi gedoen.
My vrolike lenteversie (11)
Jou titel sê dit alles: “’n Vrolike lenteversie”. Dit is vir seker ‘n “versie” wat lig lees en lighartig ‘n glimlag bring. Mooi gedoen.
Somerbelofte (19)
Dit is voorwaar ‘n voortreflike vers met ‘n pragtige beeldryke loflikheid. Jou vers het my totaal oorbluf met die mooiste beskrywende woorde vir die lenteprag. Absoluut welgedaan!!
In ‘n nuwe huis (22)
Keurige vers. Dankie vir jou deelname.
Spraak (23)
Interessante vers met vreemde woordkeuses en -orde. Ek hou egter baie hiervan. Ek sou nie dink dat die vers juis in die “positiewe” genre sou tel nie, maar nietemin, ek het heerlik aan die ritmiese aanbieding gelees.
Vlerksang (24)
Die vers is kort en kragtig. Die beelde daarin is ook besonder. Jy het baie vermag in ‘n klein spasie. Dit is werklik ‘n lieflike vers.
‘n Konkavuur vir eendag (25)
Keurige vers. Dankie vir jou deelname.

GOUD:
Metamorfose (16)
Dit is ‘n lieflike vers met ‘n versteekte boodskap in die beelde. Ek hou hiervan. Welgedaan. Miskien kon jy op plekke punktuasie oorweeg het maar miskien het jy ‘n groter beweegrede vir die weglaat daarvan as my karige behoefte vir akademiese orde.
Karooverlange (17)
Alhoewel die vers keurig is, is die inhoud daarin vir my swaar en té veel. Minder in hierdie geval sou meer gewees het. Ek wil nie pedanties wees nie, maar nie elke stofkorrel hoef tot in die fynste beskryf te word om die Karoo se beeldende prag te boekstaaf nie. Laat die leser toe om soms self agter die gordyn te gaan soek wat jy skreefsgewys, effe tartend, eenkant toe trek.
Jimmy se kafee (18)
Ek weet nie hoe om oor hierdie vers te voel nie. Op sekere plekke wil-wil ek daarvan hou; wil ek vas gryp aan die aardse geselstrant maar betrap myself tog met my gedagtes op alles behalwe die inhoud van die vers. Hoekom is dit dat die vers my nie genoegsaam boei nie, en dat ek, na ek klaar gelees het, nie die inhoud kan onthou nie? MIskien probeer jy as skrywer té veel sê? Ek moes die vers drie keer lees, en steeds staan my aanvanklike sentimente.
Bos blomme (20)
Ek het nie ‘n kookende idee wat hierdie vers vir my probeer sê nie. Dit is natuurlike ‘n persoonlike ervaring van interpretasie en ander lesers mag anders voel. Dankie vir jou deelname.
Die lied van die reën (21)
Dit is ‘n eerlik-aardse vers met mooi beelde. Die vers lees heerlik.

GORREL:
Vingers van Heerden (1)
Alhoewel dit ‘n oulike vertelling is, is die aanbieding slordig. Van die sinne is té lank sonder nodige en funksionele punktuasie. Om ‘n storie te vertel is nie ‘n sneltreinrit nie. Die skrywer moet vir die leser ‘n ervaring skep waarin daar genoegsame spasie is om oordenking te pleeg. Lang sinne is op die koop toe slordig en dit lei tot onsamehangende gedagtes. Jy kan gerus hierdie gorrel redigeer want dit is ‘n oulike storie wat met versorging ‘n heel aangename ervaring vir ‘n leser kan wees.

RUBRIEKE:
Droom (1)
‘n Heerlike stukkie leesvoedsel. Mooi gedoen.
Die seisoene het gedraai…hello Lente! (2)
‘n Heerlike rubriek. Die inhoud is natuurlik welbekend en kan as geyk oorkom, maar ek dink tog dat die kronologiese ritmiese trant daaraan ‘n varsheid bied. Mooi gedoen.
Lente-ontwaking (3)
Let op spelling: straat-af. Heerlike en prettige rubriek met ‘n knypie humor én menslikheid. Welgedaan.
Maak maar ‘n swaaitjie, ‘n walsie of wat (4)
Keurig. Dankie vir jou deelname.
Te…(5)
Jou sinne is op plekke baie lank, sonder nodige en funksionele punktuasie. Die gevalle waar Engels sommer lukraak in die teks ingevoeg word sonder aanhalingstekens of die gebruik van kursief nie, is slordig en hinderlik. Lang sinne maak die inhoud onsamehangend en slordig.

ARTIKELS:
Lewegewende lente (1)
Dié aanbieding is vir seker nie in die artikel genre nie. Artikels is goed nagevorsde, feitlike en insiggewende aanbieding en nie ‘n persoonlike perspektief nie. Jou aanbieding behoort in die rubriek of gorrel kategorie.

VERHALE:
Die Vauxhaull-bakkie (1)
Oulike anaktotiese verhaal. Let asseblief op jou spelling. Dit is die skrywer se enigste wapen om ‘n indruk op die leser te maak.
Koedoe (2)
Die verhaal is goed ontwikkel en aangebied. Wat my veral opgeval het is die gemaklike manier hoe jy dialoog in jou verhaal insluit. Dit dui op goeie skryf aanleg. Welgedaan.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 297
Kommentaar telling: 3414

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 2 kleinseuns en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 361 gaste aanlyn

Bydraes – Argief