
Skadi van die winterwind
Netsoos die lewe is jy koud soos staal
maar teen jou skoonheid staar ek my blind
Jy is die stormgod se Skadi
klaaglied van die noordewind
As die hemel haar laaste traan gestort het
laat jy die somer in kilheid versink
waar jy die lewe stadig maar seker
ongeërg uit die velde opdrink
Jy trek jou sluier oor die berge
wyl jy my met ysblou oë betrag
In jou een hand sluimer die dood
in die ander die langste nag
Dan dwing jy my terug na binne
na waar die storms in my kan ontbind
as ek vrymaak wat oorbodig is
en myself weer in stilte kan vind
©Loretta Szikra
* Skadi – Volgens Noorse mitologie is Skadi of Skaði godin van die wildernis en koue. Daar word ook na haar verwys as die die ysprinses of wintergodin. Sy is getroud met Njörðr/Njord, die god van storms en winde.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2019 projek