Soos bloed 1. Jacobus se sindroom
honderd en vyftig nes jy, globaal
in ‘n historiese bitter anaal –
só spesiaal is jy vir ons gegee
en ons dus ook vir jou,
aldus ‘n besluit van die Heer
vir die vol krag om dit te vat
sê ander wat
dit nooit sou hanteer
die water van lewe en die dood
het gespuit, gevloei, gestroom
tot my verwagtingsdroom
as knoppie oorbly in my skoot
ek hoor ‘n suster by my trollie sê
dat ek ‘n moroon gaan hê –
ek’s mos dom en doof
soos ek verskrik daar lê
maar jy was erger, soveel erger –
‘n verdiende gene-loon?
hoe kom ouers uit triljoene
saam om die vrug te toon?
vier maande kon ek jou nie sien,
huis toe leeg van siel en vol in melk –
het ék jou so gemaak, wat gedoen –
soos kamers blomme rondom my verwelk
jy’s na elf weke ontslaan, nie na jou
Baby Johnson’s-kamer, maar ‘n ander plek,
waar ek jou flenters lyfie en alles
so verkeerd teen my hart kon trek
dokters wou my gees beskerm, maar jy was
nie angswekkend boos, slegs so weerloos
en poppie-klein dat my vrees verdwyn,
met wat bly ‘n ma se instinklief en pyn
op sewe maande het jy ophou veg,
versmoor in soveel longe-vog
soos die vloed van my skootbedrog
daar staan ek ‘n engel, vlerkloos,
hang van buite, van bo, traanloos,
oor ‘n kissie se sak (dit was wit),
terwyl iemand vae, veraf woorde bid
maar na jare beleef ek ‘n nag
‘n Openbaring-droom van God,
waar my seuntjie op sy arm lag –
sy liggaam heel, sy ogies kan in myne kyk –
toe weet ek hoe mooi my baba regtig lyk
dit bly my binne-album troos,
die glimlag van my rooiwang kroos
©Charleine Collins 29 November 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.