Soos bloed 2. Aborsie is nog aborsie
alleen moet ek toilet toe gaan,
dis donker in die gang,
al is dit na middernag, ek sweet,
skielik hartverskeurend bang
ek is hier en nie ma of iemand lê
op baas se baadjie en dis koud,
my lê fetaal, ineengekrimp, vol weet
dat my skoot weer iets misvorm dra
dis twintig weke en iets is gladnie reg,
daar’s te min beweging, wat is fout?!
dokter is jammer, ons sit wit en stil
hoe kan dit dat die Here dit so wil?
so lê ek drup aan in ‘n staatshospitaal,
soos wat die wet vir die soort ding bepaal
stadig maar seker deur die nag
met volgehoue toevoer word ‘n lewe
in my onherroeplik, kil vergewe,
my doodse gewete hard verkrag
vir eenmaal bly my Bybel toegehou,
kan my hande ook nie vou
laat die oggend word sy stil gebore –
met net ek wat skreeu van pyn, want
hoe skenk mens lewe aan die dood?
hy bring ‘n nierbakkie met haar
gebroke lyfie heeltemal daarin
ons skenk haar maar vir navorsing,
dan het dit bietjie sin?
tuis is blomme oral uitgestal
ek het weer melk en in die babakamer
wat sy met haar sus sou deel is ek alleen,
begin eindelik onbedaarlik ween
hoor toe haar angstig’ tweejaaroue stem:
Mamma moenie huil nie, Mamma wat makeer?
Mamma, Mamma, Mamma, wat is dit?
sy klou my vas, ek vee my wange af
dis niks, druk ek haar teen my hart –
die een wat my sou troos in smart –
maar ek kon nie weer my leed en trane wys
ek het my kindjie dood laat maak
(en ja, sy het ‘n naam gehad, sy was Delani-Jane),
maar wat ek oorhet, maak nou bo alles saak
©Charleine Collins 29 November 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.