Sterlig van genade
Onthou jy die kersliggies in die donker
duisende sterre wat skitter en wink
die aandster het stil aan die hemel gehang
– ‘n wit kristal wat in die swart nag blink –
die melkweg het die pad gebaan
– die veld silwerig in die doflig van die maan
‘n wonderwêreld in pêrelglans gebaai
en die windpomp se wiel het langsaam gedraai
Ek wonder, was dit ook só vredig, só stil
in die stal waar sy met haar kindjie moes gaan
waar herders die wag oor hul kudde moes hou
onder die silwer glimlag van die maan
of was die woestynnag koud en kil
in die skitterwit lig van die Bethlehemster
het sy in die wind ook die klanke gehoor
die helder wieglied van ‘n engelekoor?
Kersnagherinnerings uit my kleintydverlede
bring heimweë en vreugde in my hunkerend’gemoed
gebeure onder sterlig in ‘n stal lank gelede
bring ‘n boodskap van genade, van hoop en van vrede
©Estelle Rubow
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2017 – Kersfeesvieringe projek