
Toe die lig donker word en die donker lig word
“In die begin was die Woord,
en die Woord was by God,
en die Woord was God”
Johannes vers een.
Sewe dae en sewe nagte,
het Adam gesweet, sy pleidooi
die brandmerk van sy vrou
van goed en kwaad te kou
sewe raak sewentig en sewentig sewe en sewentig;
donker in ‘n kil koue greep
‘n honger omhels die enkels,
‘n diepertasende werklikheid
Aardsgebonde klanke bars soos proefbuise in geboorte
venyn borrel uit die mond
verlore is ‘n afgrond
van goed en kwaad se rou
agter kleed is geen skuil
Eden verruil vir ‘n brandende hel
‘n tv-skerm afgod vir ‘n balkende siel
van goed en kwaad se kou
wie die ware wysheid hoor
in hul donkerste uur
toe lig byster word,
toe Adam weer Adem word
toe roggel stemme stil word
om te weet om te vind;
hoe groot is kwaad, hoe liefs is goed
toe die donker lig word
wat duisternis breek soos die tak
om nie aan vlees te kleef
maar eenheid wees
in die lig wat donker word
en die Woord het liefde geword;
‘n kruis vir die sonde
bloed vir vergifnis
die ewige brood die ewige wyn
dit wat is, is dit wat was
‘n afdruk in die spieël
een en een is nul
die naaktheid in ‘n stil volmaakte Woord.
©Morné du Preez
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.