Jongste aktiwiteit:

Uitslae en kommentaar Mei 2020 “Ek wens dat ek…” projek

GEDIGTE:
GOUD:
WENNER: NO. 8 Carma Shaw met Enkeling in vlug
2DE PLEK: NO. 15 Carma Shaw met Godverlate
3DE PLEK: NO. 7 & 9 –Caren Kearly met Woestyngebed EN Anzé Bezuidenhout met Ingeperkte drome

SILWER:
WENNER: NO. 3 Andries Fourie met Rooiwyn
2DE PLEK: NO. 2 Andries Fourie met Ode aan my hond Mister
3DE PLEK: GEEN

BRONS:
WENNER: NO. 6 Jessica Venter met God se skliderkwas
2DE PLEK: NO. 14 Esmari Potgieter met Werkloos
3DE PLEK: NO. 11 Marlene Erasmus met Donkerblou gedagtes

GORRELS:
WENNER: NO. 3 Marlene Erasmus met Utopia
2DE PLEK: NO.2 Elna Kruger met Wense vir more
3DE PLEK: NO. 1 Elna Kruger met Ek wens drome kan war word

RUBRIEKE:
WENNER: NO. 1 Marlene Erasmus met Die lewe vir een pond sewe

VERHALE:
WENNER: NO.2 Ronel Janse van Vuuren met Sigaar meisie
2DE PLEK: NO. 1 Marlene Erasmus met Lizzie by ‘n feetjie konsert

Hoe het ek die sonnet beoordeel?
1. Korrekte konstruksie:
Strofe indeling 25 punte
2. Rymskema: 25 punte
3. Volta sigbaar: 5 punte
4. Pentameter/Metriek: 20 punte
5. Inhoud: 20 punte
6. Algemene indruk: 5 punte

Brons:
1.Alledaagse lewe:

Al’s is rustig tot…
Onverklaarbaar, in ‘n omswaai van ‘n sekonde
‘n helder oomblik
maar opgee nooit!
Wat gaan vandag gebeur?
My gedagtes gaan terug na gister
ek dwaal dieper en dieper in die woud
en skielik is dit stil
‘n Wegslaan oomblik
‘n Uitstaan oomblik
‘n Hoendervel oomblik!
Ek wens dat ek die soet en sout
Hout en bamboes
Klip en metaal
Woede en trane
kon laat wegsweef op sagte wolke

Jy het nie ‘n sonnet ingeskryf vir dié projek nie.
Ek kan dus nie jou vers evalueer nie.

5. versugtinge
die grootste droom wat ek het vir jou my kind
is ‘n nalatenskap van blywende geluk en vreugde
ʼn lewe van wonder en waardering vol deugde
dat jy spoedig so jou siel se eie liedjie mag vind
ek wens dat ek jou kan leer van die spel van die lewe
dat jy jou mag uitdruk met passie in jou eie visioene
nou en vir altyd geanker in die melodie van seisoene
die lewe met sy moeilikhede en terugslae is gegewe
my kind met jou lewe wat vreesloos vir jou wink
is my raad vir jou om jou geloof te behou en te glo
te alle tye jou oog te hou op jou hemelse Vader
selfs in die tyd wat jy baie min van jouself wil dink
moet jy weet dat die liefde alles sal oorwin – so
mag jy nooit vergeet tot wie jy jou moet nader …

Jy het ‘n Italiaanse sonnet ingeskryf. Die rympatroon in die oktaaf (abba / cddc) het jy goed bemeester. In die sestet het jy ook een van die toelaatbare variasies as rymskema gebruik.
Jou sinne is baie lank en dit versteur die metrum. Die Italiaanse sonnet het nie pentameter voorskrifte vir die versvoete nie (anders as die Engelse) maar die digter moet steeds waak teen ritmiese oneweredigheid. Metriek bly dus belangrik. Verder in ‘n Italiaanse sonnet beskryf die digter ‘n situasie in die oktaaf en vind die “oplossing” of “gevolgtrekking” in die sestet. Dit staan bekend as die volta (ommekeer). Ek dink jy het dit mooi bemeester deur die verwagtinge, wense en drome in die oktaaf te verwoord terwyl jy die oplossing in die sestet gebied het.
Ten spyte van die metriek het jy die sonnet redelik goed aangebied.

6. God se skilderkwas

elke sonsondergang
is skilderagtig mooi
as die son ons wêreld met sy rooigoud kom tooi
en sy strale jou saggies soen op jou wang
waar die maan homself halflyf aan die hemel ophang
en die skemer vroegaand sy skadu’s gooi
om die melkweg vol sterre te strooi
terwyl hy die kopergouddag met sy duisternis verang
ek wens dat ek so mooi soos Hy kon verf
maar die waarheid is vasgevang in elke geur
net God het die mooiste skilderkwas
met die rykste kleurespel om ons mee te bederf
waarmee Hy ons aardse palet inkleur
om ons elke dag te verras

Jy het die Italiaanse sonnet mooi bemeester met ‘n abbaabba rymskema in die oktaaf en dan jou sestet cdecde berym. Jy het die volta bemeester en ‘n aangename inhoud aangebied.
Metriek speel nie so ‘n uitdagende rol in die Italiaanse sonnet nie, maar ek wil jou aanmoedig om sinne nie té lank te maak nie. Dit help altyd met die ritme.
Jou vers is mooi ontwikkel en dit is ‘n geslaagde en aanskoulike inskrywing.

11. Donkerblou gedagtes

met ʼn edele enkelgedagte dink ek aan jou
aan al die dinge wat ons nog wil en wou doen
dan trek die heimwee deur my so donkerblou
eensklaps bevind ons ons in snaakse seisoen

ʼn vae vrees vir virus so onbekend eis sy tol
maatreëls van inperking nou nuwe norm
die dodetal wat styg soos branders wat rol
paniek en verlies van inkomste aan die vorm

ek wens dat ek toe geweet het wat ek nou weet
dat ons tye kosbaar sou koester en kweek
vriende wat saam vergader en geluk meet
die samesyn wat nou woordeloos ontbreek

Vader – gee dat ons ook in hierdie tyd bly glo
ons hulp en krag kom verseker net van Bo …

Jou Engelse sonnet voldoen aan die struktuur voorskrifte en jou rymskema is in die kol met ‘n abab/cdcd/efef/gg rangskiking.
Die jambiese pentameter wat in elke versvoet gehandhaaf moet word het jy egter nié suksesvol bemeester nie.
Lyne in strofes word versvoete genoem. Dit is natuurlik vir puriste belangrik dat daarby gehou word, en baie besef dit is ‘n moeilike opdrag. Dit is egter goeie terapie om so suiwer as moontlik by die reëls te hou aangesien dit jou as digter in jou kins sal laat groei. Ek beoordeel dit streng maar verkies om korrektiewe kommentaar eerder as streng penalisering toe te pas.
Ek lees ‘n duidelike volta raak.
Die inhoud van jou vers maak sin, maar ek vind dit nie vloeiend in elke versvoet nie. Lid- en voegwoorde ontbreek wat dit kripties en hakkelrig laat lees.
Ek voel ook dat sekere woorde slégs gekies is om te rym en nie noodwendig veel tot die gedig bydraes maak nie.
Dit is ‘n moeilike versvorm en ek is dankbaar dat jy jouself laat hoor het en vertrou dat my krit jou sal aanspoor en nie ontmoedig nie.
Dankie vir jou inskrywing.

12. Het ek maar net

ek wens dat ek toe geweet het wat ek nou wel doen
deur al die koffie drink, lag en stories vertel
as die gegroet van wysheid van bejaardes my in die gesig kom soen
terwyl die ou droë dinge van my huwelik nou soos die van slang vervel
ek wens dat ek toe geweet het wat ek saam my moes neem
van hul versteekte stekies in hul grappe, van die seer saam die lag
terwyl ons om die kampvuur gesit het, ons kindsbeen ore aan hul stories uitgeleen
wanneer al wat nog geskitter het die sterre was van die laat nag
ek wens dat ek toe geweet het wat presies hulle bedoel het
met die gepraat van wat ons eers saam moet opeet
sewe growwe sakke sout nou ons eie huweliksbed
waaraan ons oumens staaltjies en stories aan kan afmeet
het ek maar net vroeër geweet wat ek nou doen sou ek my beter voorberei
om deur Christus vroegtydig te verhoed die dinge van die wêreld wat egpare wil skei

Jy het ‘n Engelse sonnet ingeskryf wat bestaan uit die voorskriftelike 4 strofes (3 kwatryne en 1 koeplet).
Jou rymskema is abab/cdcd/efef/gg.
Ek weet nie of ek werklik ‘n duidelike volta in jou koeplet raaklees nie aangesien jy basies dieselfde sinkonstruksie by die aanhef van elke strofe gebruik.
Die inhoud is ‘n selfspekulasie deur die skrywer maar ontneem nie die leser van sy/haar deelname nie. Die leser kan dus assosieer of nié.
Die sinbou is egter lomp, woordswaar en geheel nie metries nie.
Jy het jouself nie onderwerp aan die jambiese pentameter soos van hierdie versvorm gevra word nie.
Jy het jou gedeeltelik onderwerp aan voorskrifte maar klei getrap watbdie metriese van so ‘n gedig vra.
Baie dankie vir jou deelname en dat jy hierdie moeilike versvorm aangepak het.

13. ‘n Geharde boom

Ek wens ek kan
soos ‘n boom
stilstaan in stil getuie
en sweef tussen planete
Met wortels so diep
dat geen orkaan my kan omwaai
wat in die skemer herinneringe kon oproep
en sag oor my droë blare kon streel
Waar die wind amper onhoorbaar
daardeur raas
splinters maanlig val deur die takkies
en met my vingerpunte daaraan kon raak
Waar ek voortdurend kon droom
en deur die winterkoue
nog steeds die warm sonlig kon voel
die sekuriteit en beskerming
van ‘n diepblou wolklose hemel wat om my vou

Jy het nie ‘n sonnet geplaas nie en daarom kan ek nie jou vers evalueer nie.

14. Werkloos

Ginekoloë vang ses kinders ’n dag
Juffrouens neem hulle gou onder hande
Sekuriteitswagte pas hulle op in die nag
Tandartse red altyd weer hulle tande
Moeë ouers vra terapeute vir raad
En skep nuwe moed uit ’n kelner se skinkbord
Boere spit om en jaag aan en span draad
Trokdrywers sorg dat die opbrengs vervoer word
Skoonmakers hardloop om busse te vang
Winkeliers rol snags rond en maak somme
Joernaliste skryf dat die rookseine hang
Begrafnisondernemers troos met grawe en blomme
Ek wens dat ek ook aan ’n gat kon help grou
Maar nou staan ek en vlieë vang in SASSA se tou

Jy het ‘n Engelse sonnet ingeskryf met ‘n abab/cdcd/efef/gg rympatroon. Jou vers bestaan uit 3 kwatryne en 1 koeplet.
Die volta in jou koeplet is duidelik.
Jy het klei getrap met die jambiese pentameter en ek kon net 2 sinne in die hele gedig korrek identifiseer.
Jou gedig lees baie rimies tenspyt.
Die inhoud is aktueel en ek vind ‘n tikkie humor óók hierin. Dat dit snaaks is neem egter nie weg van die ernstige uitdaging wat die vers belig nie.
My algemene indruk van die vers is goed en is dankbaar dat jy aan hierdie moeilike uitdaging deelgeneem het.

SILWER

2. Ode aan my hond Mister

Met jou noodroepsein skeur die rampgordyn,
belange-en-emosieloos in twee;
aanvaar jou deurtraplyf sy kankerpyn,
sy afskeidslot, jou laaste treë, gedweë.

Ek mis jou in my môre my ou hond
en jou growwe rowwe blafstem in my dag.
Jou leemte laat ‘n wrang smaak in my mond;
ek wens dat ek nog hier vir jou kon wag.

Maar nou is daar net foto’s en onthou
van dinge en van stories in jou tyd,
die mense wat hul lewens om jou bou;
die vreemdeling se bangwees vir jou byt.

Jou lewe en jou kranige bestaan,
vereer ons met ‘n sware afskeidstraan.

Jy het ‘n suksesvolle Engelse sonnet geskryf met 3 kwatryne en ‘n koeplet.
Jou rympatroon is abab/cdcf/efef/gg soos dit voorgeskryf word.
Ju het ‘n geslaagde en duidelike volta in jou koeplet.
Daar is slegs een sin in jou hele vers wat nie voldoen aan die jambiese pentameter nie. Strofe 2, lyn 2. Jy kon maklik die sin sonder die “en” geskryf het dan sou dit perfek wees.
Die inhoud van jou vers is deurdag en elke woordkeuse is perfek. Die gedig lees ritmies en heerlik.
Jy het jou besonders goed gekwyt van jou taak. Baie geluk met ‘n uiters geslaagde inskrywing.

3. Rooiwyn

In ‘n digmisgetooide môrestond,
teen ‘n ploegskaarlyn van ‘n losklip rand
is ek neergelê deur die boer se hand,
‘n varsloot geplant in geleende grond.
So koelsomersoel en blinkpêrelrond
in volrooi getooi teen die wingerd sand,
vryhand geskilder aan die berghang kant,
soos ‘n smelt in die mond, so ongeskond.

My vrede so soet is per se verby,
sommer net so gepluk en uitgeruk
uit die rustigheid van my droom vallei.
En ek wens dat ek nou gerust sal kry,
in ‘n Langverwacht of ‘n Grootgelukt,
wyl ek vredevol op my rak gedy.

Jy het ‘n besonders geslaagde sonnet aangebied. Jou vers het ‘n oktaaf en ‘ kwatryn eie aan die Italiaanse sonnet.
Jou rymskema is abbaabba/cdccdc.
Ek identifiseer ‘n merkbare volta in jou kwatryn.
Al vra die Italiaanse sonnet nié werklik vir pentameter voorskrifte nie het jy dit wel baie geslaadg ingesluit. Welgedaan.
Die personifikasie in jou sonnet is lieflik, en dat die rooiwyn self “praat” maak die aanslag vars.
Jou vers beïndruk my.

4. Staat van inperking

My wintervingers is ingeperk
agter leë grendels toegetrek
tot waar duifies oor die dieperblou vertrek
wonder ek, soos ritselende winde my gedagtes ruk-
Für Elise laat my verbeelding vry
so nimmerstil so onverstaanbaar mooi
melanchollies die donker in
stil, stil my kind sing die wind
kom lê by my stille nag
laat my voete oor jou kwarrieteëls gly
ek wens dat ek die einde kry
dis ‘n doodlooptrein in monochroom rooi
dis die wit en swart skakerings in gyseling
dit is die bosveld hunkering wat in skadu’s droom.

Alhoewel jou vers oor 14 reëls beskik is die strofe-voorbereiding glad nie ‘n sonnet nie. Daar is ook nie ‘n rymskema nie. Ek kan dus nie jou vers evalueer nie.

GOUD:
7. Woestyngebed

Ek is ‘n wilde Kalahari kind
vaal verlate vlaktes verf my spore
dansend saam met sonbessies in die wind
gannas en brakbosse lag in my ore
en duskant vandag se skraal ure
soek ek jou nogsteeds soms in my drome
met dor hande; selfs in koue vure
tussen klip-koppies en kokerbome
en ek wens dat jy nou by my kon wees
soos ‘n woestynasem oor my kon blaas
sodat ek jou hart ‘n laaste keer kan lees
met die stilte van hierdie skor geraas
in dié horison se trillende hitte gloed
bid ek jóú mensgereed en myself vol moed

Jou suksesvolle Engelse sonnet bestaan uit 3 kwatryne en ‘n koeplet.
Die rymskema is abab/cdcd/efef/gg.
Jou sonnet beskik oor ‘n herkenbare volta in die koeplet.
Vir die grootste gedeelte van die vers bemeester jy die jambiese pentameter maar daar is ‘n paar versvoete wat nie daaraan voldoen nie, naamlik:
Strofe 1, lyn 4: jy kan maklik “ore” in enkelvoud omskep en dit so herstel;
Strofe 2, lyn 1: ek dink jy het “skraal” dalk as ‘n 2 lettergreep gelees en daarom is die metriek kort;
Strofe 3, lyn 3: verander “sodat” na “dat” om dit reg te stel;
Beide versvoete in die koeplet.
Die inhoud van jou vers is besonders en beeldryk. Sluit asseblief jou vers met ‘n leesteken aangesien “woestyngebed” met ‘n hoofletter begin.
Jy het ook die tema voorskrif nagekom.
Jou vers het in die algemeen beïndruk.

8. Enkeling in vlug

hoe graag vlieg ek oor dié geliefde land
oor berge hoog en dale wat vallei
die aarde lê en palm, nes ’n hand
waaroor Gariep en spilpunte gedy

mag weinig wolke ooit my sig versper
oor ooptes tot in einders wil ek tuur
as Venus skitter, soos ’n eensaam ster
terwyl die hemel in die ooste vuur

en vlug ek heen oor oseaan en kus
waar branders in blink strande sand versink
word ek van blougroen watere bewus
wil ek in akwa-en-maryn verdrink

ek wens dat ek die reis met jou kon deel
dat jou liefoë só oor my sou streel

‘n Uiters geslaagde Engelse sonnet wat voldoen aan AL die voorskrifte.
Jou rymskema is perfek, die strofestruktuur is korrek en die jambiese pentameter is tot die letter gevolg.
Jy het ‘n duidelike volta in die koeplet.
Die inhoud van die sonnet is beeldverruklik.
Jou sonnet is uitstaande en het my beïndruk.

9. ingeperkte drome:
ek wil weer ‘n kleurvolle harem bou
tussen die wêreld se dolle gejaag
waar ek jou styf teen my bors vashou
sonder om vrese te moet verjaag

ek wens dat ek weer my skaduwee kan vind
waar dit ligvoet van boom tot boom dans
sonder iets wat my vryheid knel en bind
my laat verlang na ‘n toekoms – ‘n kans

met al die onsinnige inperkings en grense
word ons gekerker met vae vooruitsigte
en my siel vaar binne ingekampte grense
met slegs droomvlerke en engel vergesigte

met krag en genade sal ons die ellende verduur
en bid hulle vind spoedig ‘n wonderkuur

Jou Engelse sonnet beslaan die voorskriftelike 3 kwatryne en ‘n koeplet.
Jou rymskema is abab/cdcd/efef/gg.
Jou koeplet beskik oor ‘n duidelike volta.
Jy het in sekere van die versvoete die jambiese pentameter bemeester en in ‘n handjievol nié.
Jy het aan die tema voorskrif voldoen.
Die inhoud van jou vers is aktueel maar steeds persoonlik en warm.
Jou vers lees ritmies ten spyte van die ontbrekinge.
Dankie vir jou lieflike vers.

10. Winterdraai
waar winter traag sy rug draai
breek oorlewing in eenvoud
asof gevries, vergete ysigkoud
sade skelm in ys gesaai
sonder vlerkvriende se tortelkraai
kraak wintertraan benoud
verskans in wagtende behoud
atmosfeer bly koud gelaai

jubelend kom die nuwe seisoen o Heer
waar papies dring tot vlinders deur
alle moeg en seerkry weg gekring
in ootmoed buig ek voor U almag neer
ek wens dat ek vreugde uit my kan skeur
sodat die kiewiet ‘n nuwe lentelied kan bring

Jou Italiaanse sonnet beskik oor ‘n oktaaf en ‘n sestet. Die rympatroon is abbaabba/ccdccd.
Jou sestet het ‘n duidelike volta.
Die inhoud van jou vers is mooi versorg met ‘n klein uitsondering:
* Strofe 2, lyn 2: “waar papies dring tot vlinders deur”. Die woordkeuses of -orde is nie mooi nie. Die sin kon geslaagd sónder “waar” geskryf gewees het.
Jy het aan die tema-opdrag gehoor gegee.
Dit is ‘n mooi en geslaagde inskrywing.

15. Godverlate

Die bloukraanvoël het net ’n veer gelos
teen die versletevaal ou baksteenmuur
(naas die oop deur van ‘n leë wolskuur)
tussen doringstruik en granatebos.
Net toe die laatson oor die einders blos
en skarlakenrooi oor die hemel vuur;
toe ’n wolkie stof oor die stil werf stuur
het selfs sy oplaas van die grond gedros.
Ek vestig my blik op die lug daarbo
waar die ruimtes wyd oor die aarde strek.
Selfs die mens se lot is tog ook maar só:
Hier in die middel van die dor Karoo
weet ek dat lammers van die dors sal vrek
…ek wens dat ek in verlossing kon glo.

‘n Pragtige Italiaanse sonnet. Die strofebou is korrek en die rymskema van abbaabba/cdccdc is geslaagd.
Jou sestet beskik oor ‘n identifiseerbare volta.
Die inhoud is aards, sintuiglik en maak jou leser betrokke.
Jy het aan die tema-opdrag gehoor gegee.
Ek wil myself verstout en voorstel dat jy “verlossing” met ‘n sinoniem soos “uitkoms” vervang. Waarom sou ek so ‘n voorstel maak? Ek ervaar “verlossing” as ‘n enkelhand-daad terwyl “uitkoms” meer ‘n samewerking na ‘n hele aantal gebeurlikhede vra. In die geval van jou sonnet is dit selfs meer waar aangesien verligting op baie veranderlikes wag. My opmerking is natuurlik bloot semantiek en jy mag dit geheel anders interpreteer.
Jou sonnet is lieflik.

GORRELS
1. Ek wens drome kan waar word:
Antjie Krog begin haar vers “Ek wil” so:
“Ek wil jou so graag gelukkig maak…” en sluit met “…as jy oud en allenig in die son sit.” (Ek hoop ek haal dit korrek aan). Jou gorrel het my vir ‘n oomblik aan hierdie vers laat dink. Dit is edel as mens ‘n wens spandeer op of vir die geluk van andere.
Jou gorrel is dus vir my edel.
Let op spelling van “surrogaatswangerskap”.
Woordkeuse en -orde in die sin: “…help om langer op te volg.”
Maak seker daar is altyd twee spasies ná ‘n punt en die begin van ‘n nuwe sin.
Jou gorrel is menslik en lees gemaklik.

2. Wense vir more:
Let op die spelling van “reëls”.
Jou gorrel lees gemaklik en vloeiend. Die feit dat jy kort sinne effektief gebruik is vir my heerlik. Ek hou oor die algemeen nié daarvan om haar aan te haal nie, maar Moeder Teresa het gesê: “Gister is verby. Môre is nog nie hier nie. Ons het vandag. Laat ons begin.”
Jou gorrel is aktueel.

3. Utopia:
Die woordekeuse in die laaste sin van jou gorrel moet heroorweeg word.
Ek lees ‘n sweempie Rina Hugo en Mynie Grové in jou gorrel raak – met die vryheid en die arend…
Jou gorrel lees lekker en ek sien jou bekwaamheid raak.

RUBRIEKE:

1. Die lewe vir een pond sewe:
Jou rubriek is suiwere raad, en behoort sterker oorweeg te word deur die massas. Ons leef egter in ‘n gebroke wêreld. Ek het eenkeer ‘n aanhaling raakgelees: “Die lewe is té kort vir nagemaakte botter, kaas en mense.” (Die outeur is aan my onbekend). En soos jou skrywe en die aanhaling van Kushner is dit alles só ongelooflik waar.
In jou rubrieke hoef jy nie Kushner se naam te herhaal ná die aanhaling nie. Jy het aangedui wie dit gesê het by die aanhef.
Dan sien ek ook dat jy die dubbelontkenning (nie:nie) uit jou skryfsel laat. Die AWS het ‘n spesifieke reël aangaande dit en ons moet dit maar so gebruik.
Jou rubriek is mooi versorg en aangenaam om te lees.

VERHALE:

1. Zizzie by ‘n feëtjiekonsert:
Feëtjie word met ‘n deelteken op die (e) geskryf.
Ek wonder of ‘n sprokie as ‘n periodeverhaal gesien kan word? Anderson se “Die sneeukoningin” (oorspronklik in Deens gepubliseer) is reeds so vroeg as Desember 1844 opgeneem in die New Fairy Tales publikasie. Stith Thompson, ‘n Amerikaanse akademikus, beskryf die sprokie as ‘n verhaal van ‘n onwerklike wêreld sonder ‘n presiese ligging.
In die lig hiervan dink ek, omdat dit ‘n ou kunsvorm is, afspeel teen die agtergrond van wense, drome, helde en in byna elke kultuur beoefen word, toe diere kon praat en prinse heldhaftige redders was, beskryf dit tog ‘n sekere periode in die ontwikkeling van die mens en kuns. Ek evalueer dus jou verhaal opgrond hiervan. Ander mag van my verskil maar ter wille van hierdie krit moet ek ‘n besluit maak.
Jou verhaaltjie is fraai en fokus op die onskuld van kind wees.
Ek dink dit kan maklik tot ‘n kindervervolgverhaal ontwikkel word. Dit sal interessant wees vir die leser om te weet waarom jy die karakter Zizzie genoem het.
Pragtig en leesvriendelik.

2. Sigaar meisie:
Dit is ‘n pragtige periodeverhaal. Die leser weet waar en wanneer dit afspeel. Die hoofkarakter word aan die leser verkoop as ‘n kelnerin en dan ook as iemand wat leiding gee aan dié wat alleen of verward is. Jou woordtelling is 440 en die opdrag het 800 toegelaat. Dit sou help as jy die metode en wyse van hulp beter onteikkel het aangesien jy ‘n woordtellingspeling gehad het.
Let op woordorde in jou sinne. Een voorbeeld: “Ander sit om tafels en drink wat ook al hulle kan bekostig.”
Dit behoort só te lees: “Ander sit om tafels en drink wat hulle ookal kan bekostig.”
“Die moulose rokkie…” skort ‘n (i).
Ek besef die woordinperking maak dit moeilik maar ek wil jou aanmoedig om hierdie verhaal in ‘n behoorlike kortverhaal te ontwikkel – sonder woordbeperking.
Ek sal só ‘n weergawe vir seker lees.
Mooi gedoen.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed