Jongste aktiwiteit:

VERASSING OP VERASSING

Uit die bloute vra Bokka: ‘Wat gaan ons doen vir jou verjaardag? Dit is after all die groot ses.’
‘Nee, man, wat vir ’n vraag is dit dan? Ons kom nou net terug van die toer na Italië! Ons het mos ooreengekom; dis vir ons al twee se verjaarsdae. En dit het ’n kleinhuisie vol geld gekos. Ek wil niks verder hê nie, uit en gedaan.’ Hy sê niks verder nie en binne ’n dag of twee, vergeet ek daarvan.

Middel van die jaar al het ek al drie die susters genooi om Desember by my te kom kuier. Net een van hulle maak so vaagweg ’n opmerking, maar niks verder nie. Tog verwag ek diep in my binneste dat hulle dalk tog sal kom kuier, maar toe Desember al driekwart gevorder het, reken ek dis neusie verby.

Lollapot trek die voorlaaste naweek van Desember in ’n nuwe huis in. Die volgende naweek word ons genooi vir ’n braai, om dit te sien. ‘Ma moet seblief vir ons poeding maak,’ kry ek my opdrag. ‘Vir hoeveel mense?’ vra ek en die antwoord is sewe. Ek het lanklaas my berugte appeltert gebak en dis wat ek maak. Bokka sê ons moet eers na een daar wees.

Aangeland begelei sy ons deur die huis. In haar gastekamer is al haar houtmeubels wat sy weer geskuur en geolie het. Bokka roep my om die geelhout tafeltjie (wat ek net vir haar geleen het en blykbaar nooit weer sal terugkry nie ) te aanskou, wat nou so pragtig lyk. Met die eerste blik van die kamer word my hart warm, want die deken wat ek vir haar gehekel het, is oor die bed.

Ek moet ingaan om die tafeltjie van nader te beskou. ’n Tree vêrder gewaar ek twee spoke. Twee bekende spoke, maar ek kan my oë nie glo nie! Dit is sowaar hulle. My laatlam sussie en haar man…. hulle is sowaar as wragtig hier in die Kaap…..en ek gil, spreek in tale…. van skrik en bly tegelyk! En toe gryp ek haar vas en huil haar skouer papnat, terwyl sy skaterlag. Bid jou aan. Later vind ek uit dat die hele petalje ook op video vasgelê is.
Vinnig kom al die babbel-spiere gelyk los en ons praat, vra en antwoord terselfdertyd oor en weer.

Vier dae later reël Laatlam dat hulle die middag haar man se tante gaan groet, voor ons weer so aanhoudend kuier dat die tyd opraak. Ek en Bokka gebruik die ure om gou bietjie die huis te stofsuig en wasgoed te was. Ek slaan sommer ook ’n pot Butter Chicken aanmekaar en maak slaai, sodat niemand voor die stoof hoef te staan wanneer hulle terugkom nie. Kosmaak meng in met ons babbel-tyd, maar ons is baie lief vir lekker eet.

Net toe ek gou voor die rekenaar kom sit om eposse te lees, hoor ek die hek oopgaan. Nadat hulle al ingekom het, lui die klokkie by die voordeur dringend. Ek reken hulle het die hek oop vergeet en ’n bedelaar het sy weg tot by die deur gevind. ‘Gaan kyk wie’s daar,’ sê ek dringend vir Bokka. Eers effe onwillig, gaan hy tog maar. ‘Hier’s niemand nie,’ doen hy verslag en ek dink: ‘nee man, jy het mos nie ordentlik gekyk nie,’ en gaan kyk self.

By die deur sê ek verbaas: ‘Wragtig niemand nie,’ maar net toe ek wegdraai, vang my oog beweging by die pilaar. ‘Ja, en wat van my?’ Nog ’n spook. Nog ’n skrik wat my hart woes ruk. Nog trane. Nog lag en nog babbel-spiere wat loskom. My sussie uit Polokwane staan in lewende lywe voor my.

Ek wou niks vir my verjaardag hê nie, maar sowaar, ek is uit my hart en kleintoontjie uit dankbaar dat hulle hier sal wees. Ek gaan kyk weer, want ek is oortuig dat my ousus ook agter die pilaar wegkruip en wil hulle nie glo dat sy regtig nie kon kom nie.

In die dae wat volg klink dit in my huis, erger as ’n markplein in Karachi Indië. Ons het so baie om op te vang, want ons was twee jaar laas almal saam. Die aand voor die verjaardag, meng ek gou my sjokolade pan-koek. Hier is mos nou gaste en ek moet darem vir hulle koek gee. Swarrie oorreed my om dit dubbeld aan te maak, want enkel is glo hopeloos te min vir ons almal om genoeg te kry. So maak ek toe maar.
Saterdagoggend oorspoel hulle my met seënwense vir die nuwe lewensjaar. Ek is dankbaar tevrede. Bokka sê ek moet sit, want hy wil ’n paar reëls neerlê vir hierdie dag.

Eerstens moet ek verstaan dat ons nêrens heen gaan nie, maar ek moet my aantrek en mooimaak want elfuur kom ’n paar dames tee drink. Toe my beheer-vratigheid wil inskop, word ek ferm ingelig dat ek vandag niks mag sê of doen of voorstel nie, want alles is onder beheer en uit my hande uit. In my binneste snak ek na my asem, want dít gaan bloemieng moeilik wees! Dankie tog daar is darem een dubbele sjokolade koek.

Verder word ek ook ingelig dat daar vanaand ’n paar mense kom braai. Op elke vraag oor vleis en slaai en broodjies en ys …en…en kry ek dieselfde antwoord: ‘Alles is gereël, finish en klaar!’

En nog is dit het einde niet: ‘En môre gaan ons uit vir die dag, maar môreaand moet jy jou tas pak.’ Opnuut verras vra ek: ‘Hoekom?!’ ‘Want ons klomp gaan weg vir ’n paar dae. Sederberge toe.’ Geen argumente of teëpraat nie. ‘Dan sal ek môre moet wasgoed was.’ Toe my beste-beste pellie dit tydens die teedrinkery hoor, konkel sy en Bokka agter my rug. Sy is daar weg met al my vuil wasgoed, wat sy weer die agtermiddag kom aflewer het. Gevou en gestryk. Genade onverdiend!

Terwyl ek tof, gryp Bokka die stofsuier en suig die sitkamer, eetkamer en sommer ook die stoep. (Siestog ek weet nie eers wanneer hy aangetrek het nie.) Toe help Swarrie hom om die tafel op die stoep op te slaan en die pienk tafeldoeke met die bont oorgooi-doek word oorgesit, want die sussies is ook nou besig om op te dollie.

Op die eetkamertafel, word koppies en pierings op servetjies, op kleinbordjies uitgepak. Tesame met suikerpotte, versoeter, bekertjies vol melk, koffie en teesakkies en koekspane. Selfs die fles vir ekstra kookwater. Wie sê ’n man dink nie aan alles nie? Al wanneer ek iets mag sê, is wanneer hy vra waar bêre jy die of daai.

Eers kom Lollapot aan, met kaaskoek en wortelkoek en melktert en vleisrolletjies. Net daarna is dit Ria. Sy bring elke verjaarsdag na Seuna se dood, vir my blomme namens hom. Hoe spesiaal is dit? Op die kop elfuur arriveer drie gaste. En nog twee. En nog drie en kort voor lank is elke blompot in die huis vol van die mooiste rose en lelies en nog wat. En dit wemel van kekkelende vrouens. Ek voel klein en nederig om soveel dierbare vriende te hê. Sommer gou verkeer ons vreetsaam en so spraaksaam dat die koekkrummels vlieg. Te lekker!

Laatlam staan op en maak keel skoon en ek voel ’n toespraak aankom. Sy bedank almal en toe kyk sy stip na my en vir die soveelste keer vandag word ek beveel: ‘Jy mag nie huil vanoggend nie (toe rol ’n traan al), maar ons het geldjies saamgegooi om vir jou iets spesiaal te koop. Ons het geweet dat jy vandag na Morgan sou verlang (dis waar), daarom het ons ’n Morganite steen vir jou laat set, sodat jy hom na aan jou hart kan dra,’ sy oorhandig ’n pakkie. Binne-in ’n hangertjie van dié steen en bypassende oorbelle wat my asem wegslaan. Kan een mens soveel bederf oorleef?

Met al ons bagasie en pakkasie en proviand vir vier dae, in die huurkarretjie ingeprop, is ons Maandag berge toe, waar ons in ’n pragtige berg-huisie tuisgaan. Naby ’n kabbelende riviertjie en vele wandelpaaie. Sonder TV en elektrisiteit. Die enigste gaste is een merske jagspinnekop in die besemkas, twee muishonde wat sommer naby die stoeptrappie kom kos bedel en twee skilpaaie wat al om die boma baklei en mekaar omdop. O ja, en muskiete galore. Tot ons hulle op hul herrie gegee het.

Ons het gestap en geëet, afgekoel in die koel water en geëet, gerus, gelees en geëet, vuurgemaak en geëet, gesels, saam-saam blokraaie ingevul en geëet. So tussendeur het ons sommer ook van Bettie se vetkoeke en plaasbrood met appelkooskonfyt of vyekonfyt en kaas geëet. Ons het darem die wonderskone Stadsaal grotte ook gaan verken. Een middag het ons die kronkel klipper-pad aangedurf om bietjie inkopies in Clanwilliam se Mall te gaan doen.

Afrika styl, het ek ’n hele week lank verjaardag gevier. Sestig sal ek onthou, so lank as wat my onthou sal hou. Dankie Here en almal wat dit vir my so toetentaal verrassend wonderlik gemaak het!




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

2 Kommentare

  • Anze

    Baie geluk met daai groot 6. Dankie dat jy ons almal deel gemaak het van hierdie lekker kuier verjaardag. Ek het heerlik gelees en sommer dik jaloers geword oor al jou bederf.. maar jy verdien dit en nog meer!!! Mag die nuwe jaar mooi spore vir jou ooptrap kosbare Kiekies, ja ek bid vir jou GENOEG!

  • Ano

    So lekker as daar agter mens se rug gekonkel word en die verrassing is goed! So bly dit was n mooi dag vir jou en dat jy nou eers die halfpad merk van jou lewe bereik het <3

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed