Waar Liefde Begin
Hoofstuk 1 — Chaos op ʼn gewone dag
Dokter Laurie Kilber is gewoond aan chaos, dié soort chaos wat siekte en dood by ʼn ongelukstoneel of in ʼn hospitaal kan meebring maar daar is niks in dié dag, ʼn normale dag, wat haar kon voorberei op die chaos waarop sy in haar sitkamer sou inloop nie.
Asof omvou in ʼn vakuum stap sy eerste die vertrek binne, gevolg deur Joseph, haar vader se verpleër en steek in haar spore vas toe sy die twee mans sien wat torend oor haar pa en oom Louis se liggame staan. Sy merk haar pa, Nathan Kilber op waar hy op die vloer lê en vasgevang is deur ʼn epileptiese aanval. Joyce, haar vader se verpleegster hou hom stewig vas waar sy op haar knieë tussen hom en die beweginglose Louis Olivier sit.
Fronsend kyk sy na die twee onbekende mans wat versteend aan die buitekant van die chaos staan en sy wonder oor hul teenwoordigheid voor sy tot aksie oorgaan. Sy draai haar rug op die mans en sak af tot op haar knieë langs Louis en trek haar mediese tas nader.
Met geoefende vingers voel sy na die pols in sy nek en die afwesigheid daarvan vertel haar daar is niks wat sy verder vir hom kan doen nie. Die warmte van sy vergane lewe is nog voelbaar onder haar vingers en die wrang smaak van trane vul haar mond, maar dit is waar dit eindig, hier, voor hierdie mense, sal sy nie huil nie, sy sal in haar alleenwees treur — later.
“Joseph bring asseblief komberse en kussings om my pa en oom Louis te versorg,” vra sy en besluit om die feit dat oom Louis dood is vir eers stil te hou.
Dadelik draai die groot swart man om en sonder ʼn blik in die rigting van die twee vreemdelinge stap hy die vertrek uit, om binne ʼn paar minute weer die vertrek te betree met die komberse en kussings.
Die toemaak van Louis se lewelose liggaam is ʼn geoefende aksie — vinnig en effektief. Sy draai om, om aandag aan haar pa te gee en tevrede daarmee kyk sy op en merk die twee vreemde mans se versteende uitdrukkings. Woede bruis deur haar met die wete dat hulle die oorsaak is van wat gebeur het, maar sy beteuel haarself en die dokter in haar neem oor.
Die oopknip van die mediese tas en die voorberei van die inspuiting, die indruk van die naald in sy bo-been, is instink. Dis ʼn repetisie van ʼn aksie wat sy al honderde kere voorheen uitgevoer het. So ook die vashou van sy kop teen haar lyf en die streel van die pikswart hare met die effense grys in die kuif.
Daar heers ʼn uiterlike kalmte by die drie knielende mense, waar Nathan stadig besig is om te herstel van sy aanval. Dit is in teenstelling met Laurie se gemoed wat onstuimig is. Sy is gevul met ʼn intense hartseer, gemeng met woede wat gemik is op die twee vreemdelinge.
Sonder om op te kyk vra sy: “Het enige een van julle mediese kennis?”
Die stilte duur voort en sy volg met die wrewel wat sy voel: “Ek neem aan uit jul stilswye dat die antwoord ‘nee’ is. In die geval is julle van geen hulp nie, so sal julle asseblief die vertrek saam met Joseph verlaat en my die geleentheid gee om my werk te doen.”
“Ek is…” Die harde stem van die ouer vreemdeling verbreek die stilte en sonder om op te kyk weet sy, dit is die man met die smal uitdrukkinglose gesig wat praat.
Haar wrewel is dadelik terug in haar stem toe sy hom in die rede val: “Asseblief jy is besig om kosbare tyd te mors. So los my uit sodat ek my werk kan doen.”
Sy onwilligheid wys in die saamtrek van sy skouers, maar Laurie weet hoe om enige situasie te hanteer. Sy kyk na Joyce waar sy met ʼn bekommerde uitdrukking op haar swart, vriendelike gesig langs haar pa sit, knik haar kop voor sy na Joseph draai.
“Joseph neem die menere deur na die studeerkamer en dan bel jy die ambulans want ons moet my pa en oom Louis by die hospitaal kry.”
Sy merk ʼn effense huiwering by hom op en vervolg nou duidelik en beslis — “Nou asseblief.”
Die opstaan van die groot man met die bultende spiere is vir die twee vreemdeling ʼn teken — dit is tyd om te gaan. Vir beide is dit baie duidelik dat die klein vroutjie se woord wet is.
Bewondering vir die vrou se vaardigheid en durf wys vir ʼn oomblik in die vreemde jongman se oë, voor sy gesig weer uitdrukkingloos raak en hy op sy hakke omdraai. Met trots wat wys in sy sterk skouers, loop die jong blonde man voor Joseph die vertrek uit terwyl Laurie haar aandag toespits op haar pa.
Met Joseph se terugkoms bevestig hy: “Die ambulanse is op pad en die menere het verkies om buite, op die stoep te wag.”
“Dankie Joe.” Sy kyk Joyce en Joseph om die beurt aan voor sy fronsend vra: “Wat het gebeur?”
Dit is Joyce wat antwoord: “Die ouer man het gesê hy is ʼn polisieman en wil Nathan sien. Ek het hulle deur gebring na die sitkamer, waar Louis en Nathan koffie gedrink het.”
Joyce bly ʼn oomblik stil voor sy fronsend verder praat: “Die polisieman het met die instap na Louis gekyk en sonder om te groet gesê – ‘Dan kruis ons paaie na al die jare weer Louis Olivier — en hierdie keer sal ek verseker dat die twee van julle kry wat ek glo julle verdien’.”
Laurie is verbaas: “Wat het oom Louis gesê?”
“Louis het hom nie aan die polisieman gesteur nie en net verbaas na die jongman gekyk. Toe sê hy: ‘Matthew, is dit jy? — Selma se Matthew?’”
Laurie kyk haar vraend aan en sy vervolg: “Nate wou opstaan maar het ʼn aanval gekry en ineengestort. Ek het Nate te hulp gesnel, terwyl Louis opgestaan het en na die jongman geloop het. Hy het aan sy gesig gevat en gesê: ‘Nate alles is reg’. Die volgende oomblik sak hy inmekaar en bly daar lê — en dis die oomblik toe jy en Joseph ingestap gekom het.”
“Wat was die twee menere se reaksie?”
“Beide was doodstil, maar dit was duidelik dat die jongman geskok was deur Louis se woorde.”
“Selma se Matthew?” prewel Laurie saggies by haarself terwyl iets van die verlede ʼn oomblik in haar gedagtes huiwer, maar sy kan dit nie plaas nie, en laat dit gaan.
Laurie glo nie aan toeval nie en tesame met haar onrus oor haar pa se welstand, sowel as Louis se woorde, weet sy dat hierdie besoek nie toeval was nie. Besef sy dat die omstandighede haar beheer oor haarself laat verloor het, en dit ontstel haar meer as wat sy sal erken.
Die geloei van die sirenes laer af in die bergpad, dwing haar terug na die onmiddellike en die dokter in haar neem oor.
“Joe gaan maak seker dat die twee mans nie met die mediese staf praat nie, en Joyce gaan vra die menere of hulle iets wil drink.”
Die oomblik toe sy alleen is, is die ‘alleen op die vloer’ gevoel van haar kleintyd terug, maar met ʼn verskil — vandag is een van haar mense dood. Sy kyk na Louis en die woorde van Joyce se vertelling teister haar — ‘Nate alles is reg’.
“Wat sou hy daarmee bedoel het?” dink sy net toe Johan Verster, die mediese beampte ingestap kom en in sy spore vassteek.
“Dokter Laurie, wat het gebeur?”
“Ek is nie seker nie, maar wat ek weet is dat die twee mans op die stoep iets daarmee te doen het.”
Hy wink sy span nader, en sak langs Louis op sy knieë.
“Laat ons oorneem.”
Sy tree dadelik terug en laat hom oorneem, maar weer neem die dokter in haar oor.
“Oom Louis is oorlede maar moenie dat die twee daar buite dit weet nie. Neem hom deur na die hospitaal, op ʼn oop trollie en ek sal die nodige reëlings tref sodra ek by die hospitaal kom.”
Johan knik instemmend sonder om verdere vrae te vra.
“Johan moet asseblief geen vrae van die mans daar buite beantwoord nie. Ek sal hulle hanteer.” Weer volg die instemmende knik.
Die oomblik toe die trollies gereed is, beweeg die spanne vinnig met Nathan en Louis toegewikkel in komberse na buite. Sonder ʼn blik in die rigting van die twee mans, word die trollies in die ambulanse ingestoot en die deure word toegemaak.
Laurie wag tot die ambulanse vertrek voor sy terugstap na die stoep waar die ouer man haar vinnig tegemoet stap. Oombliklik voel Laurie ʼn weersin in haar opstoot en sy weet, sy is nie gereed vir ʼn gesprek met hom nie. Sy ignoreer hom en draai haar gesig na die jonger man en wonder: Hoekom voel dit of sy hom ken?
Dit is op die jonger man se gesig wat haar blik vasgeanker bly. Vir ʼn stonde is daar iets bekends aan hom, maar sy weet, sy ken hom nie en sy verskuif weer haar fokus terug na die ouer man. Sy merk die militaristiese houding, sy smal harde uitdrukkinglose gesig met die dun lippe, sy oë wat skrefies klein is, en sy skraal lyf. Toe sy opkyk in sy swart oë wat terugstaar na haar weet sy, dit gebruik hy om mense te intimideer, maar dit laat haar koud.
Haar stem dra geen teken van die wrewel wat sy voel nie sy besef, hierdie man probeer haar ontsenu, soos wat hy met haar pa en oom Louis reggekry het.
“Ek is Dokter Laurie Kilber — Nathan Kilber is my pa. Indien daar vrae is, kan u my by die hospitaal kontak.”
Laurie kyk nou direk na die jong man en sy sien die knip van sy oë en die skielike verbleking van sy gesig.
“Soos ek vir die bediende gesê het, ek wil dringend met jou pa praat.” Kom dit kru van die ouer man.
By die aanhoor van die woord ‘bediende’ verloor Laurie kop en haar stem is ysig toe sy antwoord: “Eerstens meneer, hier is geen bediendes of base op hierdie plase nie. Die dame se naam is Joyce, en soos u weet, kan u beslis nie nou met my pa praat nie.”
In Matthew kom daardie oombliklike respek — ‘geen bediendes en geen base’ — dit is hoe hy grootgeword het, en hy kyk met ander oë na die vrou.
Johan pers sy lippe opmekaar, die vrou weet beslis nie met wie sy te doen het nie, dink hy by homself.
“Ek is ‘Kolonel Johan van Graan — Hoof van SAPS se Spesiale Taakmag’.” Kom dit stadig en afgemete van hom.
“Sò…” antwoord sy sarkasties terug.
Met die klem van sy kake sluk Johan sy woorde terug, hy weet praat hy vandag gaan dit sy taak bederf. Vererg trek hy sy skouers terug en sy bulderende stem verbreek die middag se stilte: “Wat ons hier kom doen het, sal nie weggaan nie.”
Laurie ignoreer die bedekte dreigement.
“Ek vra dat u sal verstaan dat my pasiënte nou dringende mediese behandeling nodig het,” sê sy afgemete, neem een van haar visite kaartjies uit haar mediese tas, en wanneer sy haar hand uitsteek, is dit die sterk bruingebrande hand van ‘Selma se Matthew’ wat die kaartjie by haar neem. Die vlugtige aanraking skok deur albei, dan skram albei weg.
Sy kyk in die blousel-blou oë van die blonde man, en die bekendheid daarvan ontwrig haar, bang vir dit wat sy dalk vergeet het — en vir die gevoel van ‘ken’ waarvan sy weer bewus word.
Sy dwing haar blik weg van daardie ‘bekendheid’, herwin haar balans, en die ‘dokter’ neem oor: “Hulle ken my by die hospitaal, vra net vir my.”
“Ons sal u by die hospitaal sien.” Kom dit met duidelike verergdheid van Johan.
Sy knik in die rigting van die ouer man, maar dit is op die jong man met die goue hare se gesig waarop haar blik ʼn oomblik langer huiwer. Met ʼn knik van haar kop in sy rigting, stap sy na haar motor.
Matthew sien haar nou vir die eerste keer behoorlik raak, oë so groen soos wat hy nog nooit aan enige mens gesien het nie, die duur vroulike klere — langbroek, noupassend om die slanke heupe en lang bene. Haar wit bloese is effens los, maar pas sag om haar perfekte buuste en haar slanke nek wat in die bloese se opening begin, en wegraak onder die raafswart hare maak ʼn indruk.
Die blou oë van die jong man vind hare vir ʼn oomblik in die truspieël waar sy besig is om haar luukse motor te draai in die rigting van die hek van hierdie pragplaas, wat hier diep teen die hange van die Drakensberg nestel.
In Matthew St. Nicolas se gemoed huiwer dieselfde gevoel van ‘ken’, — wat het die vrou met hom te doen? — wat het hy vergeet?
Die dertig kilometer na Ladysmith behoort ʼn alledaagse verskynsel vir Laurie te wees, maar nie vandag nie. Daar is te veel wat sy nie kan verklaar nie na wat vandag gebeur het. Die beheer wat sy nog altyd oor haar lewe en haar emosies uitgeoefen het, is vandag versteur en dit bekommer haar.
Nieteenstaande haar voorneme om nie aan ‘Selma se Matthew’ te dink nie, vind sy dat haar hand wat hy aangeraak het, ʼn herinnering van hom hou. Voor haar geestesoog verskyn sy beeld met sy lang sterk bene, spiere wat bultend binne die kakie broek roer wat nousluitend teen sy spiere vou. Sy kakie hemp wat saam met sy sterk bors en arm spiere beweeg. Skielik wonder sy oor die krag van die man wat die toppunt van sy manlikheid bereik het.
Sy dwing haar gedagtes weg van die blousel-blou oë en sy fokus op haar onmiddellike situasie — haar pa en oom Louis. Trane skiet in haar oë by die gedagte aan haar verlies, maar sy bedwing haarself want as sy haarself oorgee aan die hartseer gaan sy nie deur die dag kom nie.
Matthew se gedagtes bly sirkel om Laurie waar hy na Johan se motor stap. Skielik onthou hy die ‘klein-dogtertjie’ wat hy van tyd tot tyd deur sy jeug onthou het, maar die beeld word dadelik verdring deur die ‘volwasse’ Laurie en hoe sy nou lyk. Hy besef die gevoel van verlies uit sy kleintyd, het met haar te doen.
Hy dwing sy gedagtes weg van haar en sy hand gaan na sy wang waar Louis hom aangeraak het, en die woorde refrein in sy gedagtes: ‘Selma se Matthew’.
Met ʼn skok besef hy dat die woorde Metando en Seshla Musuri se woorde gister aan hom, ‘dat sy biologiese ma se naam ‘Selma’ was’ bevestig. Die vraag maal deur hom – Hoe vergeet ʼn kind sy ma?
Johan se motor met Matthew langs hom in die passasierskant hou ʼn rukkie later agter die ambulanse stil, en toe hulle uitklim sien Matthew dat Laurie Kilber in beheer is.
Laurie hanteer die situasie uiterlik kalm om die warboel in haar nie te verraai nie, want ‘een van die pasiënte’ is daardie persoon wat sy nie vandag wou verloor nie. Die tyd om daaroor te tob is haar nie beskore nie, en weer is plig eerste prioriteit. Sy laat haar pa opneem in ʼn privaat kamer met die opdrag vir sy onmiddellike behandeling.
By die noodgevalle afdeling gekom, verklaar sy Louis dood by opname en dadelik is die woede terug wat gemik is teen die twee vreemdelinge.
Sy voltooi die nodige verslae en met die hartseer wat haar wil versmoor, stap sy deur na die eenheid om haar pa te gaan sien.
Twee figure — omvou deur die effense skemer in die kamer, bring vir ʼn oomblik daardie ‘klein-dogtertjie-vrees’, maar dan neem die Laurie wat niks vrees nie oor en sy stap die kamer binne. Die uitdrukking op Nate se gesig wys dat hy weet wie die mans is, en haar stem dra die woede wat sy voel.
“Wie het julle die reg gegee om hier in te kom?”
“Ek wil met hulle praat Laurie,” keer Nate, maar sy ignoreer haar pa se pleitdooie en kyk na die mans.
“Hierdie is definitief nie die plek vir samesprekings nie.”
Nathan vat haar aan die arm en skud sy kop.
“Asseblief Laurie,” soebat Nate en aan sy gesigsuitdrukking lei sy af dat die gesprek belangrik is.
“Sê julle sê, maar dan moet julle uit.”
“O! Ek sal my sê, sê dokter, en soos ek reeds op die plaas gesê het, ek is Kolonel Johan van Graan, Hoof van die SAPS se Spesiale Taakmag.”
Laurie merk hoe ontsteld haar pa is en vrees dat hy enige oomblik weer ineen kan stort. Sy kyk na Johan wie die jongman aan sy arm vat en voorstel: “Die is Matthew St. Nicolas…”
Daar volg ʼn doelbewuste stilte voor hy weer praat: “Of moet ek sê, Matthew Townsend soos julle twee hom geken het toe hy ses jaar oud was.”
Nathan maak ʼn geluid wat klink soos die van ʼn mens wat versmoor, maar die woorde wat hy uiter is duidelik waar hy terugsak teen die kussing.
“Dankie Here, dankie…”
Matthew staar geskok van die een na die ander, en voor sy geestesoog speel die toneel weer af waar Nathan ineenstort en Laurie se voel na sy pols. Maar dit registreer nie want sedert die afsterwe van sy pa, Vader Christopher St. Nicolas, die vorige dag, en die vertelling van Metando en Seshla Musuri rondom die gebeure van die nag, agt en twintig jaar gelede, voel hy afgestomp.
Die vertelling wat aanleiding gegee het tot die aanmeld van die saak by die Polisie in Qwaqwa, en wat Johan van Graan binne enkele ure daarna by die Sendingstasie laat arriveer het.
Nathan sluit sy oë vir ʼn oomblik en die doodse moegheid op sy gesig is al teken wat oorbly van sy ineenstorting. Hy beur orent, en Laurie probeer hom terug hou, maar hy stoot haar hand met verbasende krag weg.
“Nee Laurie, laat my opsit.”
Laurie draai om en haar oë skiet vuur: “My pa is tot die dood toe uitgeput, kan die saak nie wag nie?”
“Nee,” kom dit beslis van Johan van Graan.
“Waarom nie?”
Met ʼn beslistheid kom die woorde van haar pa.
“Los dit Laurie, dis tyd dat die waarheid uitkom. Waar is Louis?”
Johan se stem is hard en afgemete: “Ja, waar is Louis Olivier?”
“Oom Louis is oorlede. Jou dreigemente kan niks verder aan hom doen nie. Julle en wat julle gebring het, het sy lewe gekos.”
Johan verloor beheer en begin die koevert wat hy in sy hand hou herhaaldelik op die trollie voor hom slaan, terwyl Matthew so bleek soos die dood word, voor die hartseer kreet van Nate alles skielik tot stilte dwing.
Laurie is bevrees dat Matthew net soos haar pa, enige oomblik ineen gaan stort, maar Johan se woedende reaksie ruk alle simpatie vir Matthew uit haar uit.
“Onthou die dood is nie in die mens se hande nie Kolonel.”
“Vertel dit vir jou pa want hy en Louis het jare gelede probeer ‘God’ speel met ʼn sesjarige se lewe.”
Laurie kyk hom verbaas aan, maar onderbreek hom nie toe hy verder praat terwyl hy beskuldigend na Nathan kyk nie.
“Jy en Louis het saamgesweer om ʼn sesjarige seuntjie te vermoor — jy Nathan Kilber, het hom die berg ingevat om hom dood te skiet!”
Laurie voel die lewe uit haar gaan — dit kan nie wees nie, nooit nie, nie haar pa nie, en definitief nooit oom Louis nie.
“Louis het Selma Townsend getrou vir haar grond. Was dit nie julle gelukkige dag toe sy binne enkele maande daarna oorlede is nie. Toe is daar net ʼn sesjarige seuntjie tussen julle en die fortuin — julle moes net van hom ontslae raak.”
Laurie sien vir die eerste keer emosie op die jongman se gesig, en merk die wit vlekke op sy gesig waar hy met geklemde kake na Nate kyk. Dis ʼn emosie soos wat sy nog net een keer voorheen in haar lewe gesien het. Dis ʼn emosie wat ʼn lewe kan neem, en sy stap dadelik tussen hom en haar pa in, want op sy gesig sien sy die tekens van ʼn man wat kan moor.
Johan lig sy hand en swaai die groot bruin koevert voor Laurie se gesig — “Die deel van die storie hoe Matthew die dood ontsnap het, is in die verklarings in hierdie dokumente — en die persone wat ooggetuies was van daardie voorval in die berg, leef nog, hulle het alles vertel.”
Nathan sluit sy oë en daar is ʼn breukdeel van ʼn sekonde se onthou van daardie verskriklike dag. Hy was gevra om Matthew ‘weg te vat’ — net die woord — ‘wegvat’ — nie ‘moor’ nie. Maar soos dit nou blyk uit die vertelling het dit as betaling gedien vir ‘The Buttress’, die plaas wat hy met ‘bloedgeld’ gekoop het.
Deur die jare se niks onthou, onthou hy skielik die vertroue in die blou ogies van die seun, die vreugde omdat hulle berg gaan klim. Hy onthou hoe hy homself papdronk gedrink het, want dit was wat hy was — ʼn totale alkoholis — die dronklap van die kontrei.
Hy onthou die opklim teen die berg, van die son wat verblindend geskyn het, en van die wakker word die nag in die berg. Hy was papnat en vuil en tot die dood toe moeg. Sy kop was flenters en sy geweer, tesame met Matthew was weg, en so ook sy ‘onthou’.
Hy onthou van die gelieg elke dag daarna, al die jare — ‘hy is waar hy moet wees’, was sy antwoord aan Louis, en Louis het hom geglo — by hom gestaan.
Johan sien die flikker van onthou in Nathan se oë, hy sien die verligting en dit maak hom woedend. Hy het ʼn leeftyd gewag vir hierdie dag, en die laaste ding wat hy vir Louis of Nathan wil gee, is vrede. Nee hulle en hulle geheime is die oorsaak dat hy na al hierdie jare niks nader aan die waarheid is nie. Dit kan hom nie skeel wat die waarheid is nie, die saak is sy geleentheid om te kry wat hy soek — en niks gaan hom stop nie.
“Beide plase is nog in Gregor Armsby, Selma se oom se naam geregistreer. Dit is iets wat julle nie deur enige skelmstreek kon verander nie.”
Laurie hoor die vermakerige venyn in sy stem en woede vlam in haar op oor die leed wat hulle haar pa aandoen. Sy besef wat die man se mikpunt is, en om haar pa te red van ʼn algehele ineenstorting sal sy tussenbeide moet tree want sy wil hom nie die genoegdoening gee nie.
Johan gaan voort: “Louis het sy straf vrygespring maar nie jy nie. Jy gaan tronk toe vir die res van jou natuurlike lewe, om te boet vir wat julle wou doen.”
Alhoewel Laurie die gesprek wil kortknip weet sy alles het nou verander, en sy kyk die twee mans om die beurt in die oë.
“Eerstens glo ek nie vir een oomblik dat wat jy sê waar is nie. Ek hoor die woorde bewyse en ooggetuies, maar waar is die kamstige ooggetuies?”
“Hulle is op Matthew se plaas… en…” Johan bly dadelik stil, hy weet hy het nou een van sy troefkaarte verloor.
“Wel, ek gaan met hulle gesels want ek wil uitvind wat presies gebeur het.”
Johan probeer dadelik die gesprek wegstuur van die getuies, hy kan nie bekostig dat die ontmoeting plaasvind nie.
“Hoekom wil jy hulle gaan sien na jou pa so pas erken het ‘dat hy Matthew moes wegvat’.”
“Presies, hy het gesê ‘wegvat’ en nie ‘moor’ nie…”
Met die omdraai kyk sy Johan in die oë.
“Ook dra die stelling dat die plase ‘gesteel’ is geen gewig nie. U het so pas bevestig dat beide plase nie in hulle name geregistreer was nie.”
Agter haar bravade skuil die vrees vir haar pa se welstand, en alhoewel sy nie geïmpliseer kan word nie, maak haar pa se posisie haar broos.
“Ek dink die waarheid is baie vêr van wat u probeer verkoop. So, ek gaan met die ooggetuies praat.”
“Bly weg van hulle af.”
“Hoekom?”
“Ek sal nie dat jy hulle intimideer nie.”
“Is dit nie dalk wat jy nou probeer doen nie?”
Woedend slaan Johan die koevert in sy hand op die trollie en skree die woorde: “Julle sal nie hiermee wegkom nie dokter!”
“Ons wil met niks weg kom nie Kolonel. Ek het ʼn leeftyd se mediese rekords en jy het ooggetuies, wat nog nooit na vore gekom het nie. Onthou hier het ons met ʼn lewende kind te doen, en met DNS toetse kan ons sy identiteit bepaal. So dit laat my wonder waarom daar tot nou stilswye was. Is dit nie miskien omdat hulle betaling gekry het vir ʼn gesteelde kind nie?”
Laurie sien die blou van Matthew se oë, die ligroos vlekkies op sy wange en skielik onthou sy wie hy is — hy is haar ‘blouoog maatjie’. Die een met wie sy hand aan hand in die Tugela rivier geloop het. Skielik is die gevoel van verlies wat sy oor die jare gevoel het iets van die verlede. Dit was na hom wie sy verlang het.
Johan stik aan sy woede terwyl hy ʼn foto uit die koevert haal en onder haar neus druk.
“Herken jy die geweer dokter?”
Laurie herken die geweer wat sy in jare nie weer gesien het nie. Sy onthou na haar pa se eerste epileptiese aanval het hy nooit weer gaan jag nie, en nou weet sy waarom.
Skielik is die klein-dogtertjie vrees terug, sy weet die verlede is besig om haar pa in te haal, tog gee sy nie moed op nie.
“Is die geweer gebruik om iemand dood te skiet Kolonel?”
Laurie sien hom weifel voor sy antwoord: “Dink nie so nie, want Goddank, Matthew is hier… lewendig.”
Matthew hoor die klank van sy naam en daar is ʼn bekendheid daarin… dieselfde bekendheid wat van tyd tot tyd wou deurdring. Hy kyk na Laurie en hy weet hy ken haar.
Laurie se blik is nou direk op Matthew gerig.
“Die plase, die grond wat blykbaar die dryfveer agter die aanval op my geliefdes is, maak nie sin nie. Indien die grond joune is, kan die hof dit aan jou teruggee, en dan is daar mos geen rede vir verdere stappe nie.”
Matthew lees die minagting in haar grasgroen oë, en hy haat die gedagte dat sy hom as ʼn gierigaard sien, want dit is hy nie maar hy kan homself nie keer nie en sê: “Hulle moes jou pa letterlik aanval om te keer dat hy my nie leed aandoen nie.”
Laurie is nou woedend.
“Dankie vir die bevestiging van die aanranding op my pa en die diefstal van sy vuurwapen. Soos julle weet is beide die aanranding en vuurwapen diefstal ʼn misdaad in ons land.”
Johan gryp Matthew aan die arm.
“Nie ʼn woord verder nie Matthew… nie ʼn enkele woord nie.”
Matthew wil probeer verduidelik presies wat hy bedoel het maar word dadelik stilgemaak deur Laurie.
“Hier is genoeg gesê, julle gaan nou die kamer verlaat.”
Johan ignoreer Laurie en vra: “Wat wil jy doen Matthew?”
Matthew haat die familiariteit van die man, maar met die optrek van sy skouers vervolg hy emosieloos: “Ek kan nie op die oomblik helder dink nie, ek het tyd nodig, ek sal later besluit.”
Laurie het nou genoeg van die gesprek.
“Nou is ek beslis — of julle verlaat die hospitaal vrywillig, of ek laat julle verwyder.”
Johan spoeg amper die woorde in Laurie se gesig: “Jy laat ons geen ander keuse behalwe om dadelik met die vervolging van jou pa te begin nie dokter.”
Voor Laurie iets kan sê, draai beide mans om en stap die kamer uit.
Die oomblik toe die twee mans uit die kamer is beweeg Laurie en sê: “Rus Pa, ek is nou-nou terug.”
Hy gryp haar arm en met trane wat oor sy wange loop vra hy: “Is Louis regtig dood my kind?”
“Ja Pa, oom Louis is weg.”
Laurie druk sy rukkende lyf teen haar vas en sonder om oor te gee aan haar eie verlies, laat sy hom toe om sy hartseer teen haar bors uit te snik. Na Nate sy selfbeheersing herwin het, gee sy opdrag aan die saalsuster.
“Niemand behalwe die mediese staf word by my pa toegelaat nie, nie eers as hy vra nie,” gebied sy en haas na buite om ʼn plan te beraam om haar pa hier weg te kry na waar hy veilig kan wees, tot sy agter die waarheid kan kom.
Matthew verwyt homself oor die dood van Louis en Nathan se ineenstorting en noem dit aan Johan.
Johan is beslis — “Nee… die ding kom al ʼn lang pad saam en ek sal dit nie los nie, die grond is joune.”
“Ek het nie die grond of hulle geld nodig nie, ek het my eie.”
Johan van Graan is nou baie beslis: “Matthew, die grond is nie al waaroor dit gaan nie. Dit gaan ook oor die daad wat hulle wou pleeg. Verder het hulle jou herinneringe van jou verlede gesteel. Dit kan jy net terugkry as jy terug op die plase is.”
Die familiariteit wat die man hom toe eien irriteer Matthew intens. Al wat hy nou wil doen is om terug na sy seuns te gaan, hy het tyd en ruimte nodig om dinge te deurdink.
Johan lees die emosie op die jongman se gesig en al lees hy dit verkeerd, glimlag hy by die wete dat hy die ‘iets’ gekry het wat hy kan gebruik om Matthew na sy pype te laat dans. Dan het hy toegang tot die plase en kan hy die inligting bekom waarna hy al vir jare soek.
“Sê vir Laurie ek sal later die week besluit of ek wil voortgaan met die saak of nie. Dit is laat en ek wil by die huis kom. Ek is moeg, my seuns wag en dan het ek ook nog my pa se begrafnis wat voor my lê.”
Johan voel die verergdheid in hom opstoot, maar hy hou dit terug, as daar een persoon is wat aan sy kant moet bly as hy wil kry wat hy soek — is dit Matthew St. Nicolas.
Matthew is teleurgesteld in homself, hy weet sy optrede in die hospitaal kamer, is die vrug van sy wrewel wat hy teenoor Judith voel. Sy wat hom en die seuns weggegooi het terwyl die seuns ʼn ‘mamma’ nodig het.
Skielik is daar ʼn gedagte by hom — ʼn ma figuur vir sy seuns — en Laurie se beeld is in sy gedagtes —
Waarom nie? Dink hy, maar voel die skok in hom net by die dink dat hy haar, uit haar eie lewe sal vat en ‘gebruik’ vir sy eie doel. Tog bly die gedagte vassteek — waarom sal hy haar nie gebruik om ʼn ma vir sy seuns te wees totdat hy self weer sy balans herwin het nie?
Johan stap in die skemer gang aan en hy voel woede en kommer tegelykertyd in hom opstoot toe hy Laurie raakloop. Met die woede wat hy voel kom die woorde:
“Matthew het besluit om eers sy pa te begrawe voor hy die vervolging van jou pa verder sal vat. Jy sal van ons hoor sodra hy reg is om voort te gaan met die saak.”
Vir ʼn oomblik voel sy simpatie teenoor Matthew Townsend maar dit is van korte duur toe sy die polisieman in uniform agter Johan sien staan. ʼn Oorweldigende woede neem van haar besit. Sy vang die polisieman wie se gesig die merke van sy jeug se aknee dra se oë op haar voordat hy vinnig wegkyk.
“Is dit nodig? Het jy ʼn hofbevel?”
Johan hoor die woedende woorde en hy weet hy is op dun ys met die vrou, maar hy hoop om binne die volgende vier en twintig uur toegang tot die plase deur ʼn hofbevel te bekom. Hy weet die nag is op hulle en Laurie is nie nou by magte om regshulp te gaan soek of te kry nie.
“Dokter nou gaan ek eerlik wees, ek vertrou jou nie en weet nie waartoe jy in staat is nie,” antwoord Johan met ʼn koue stem terwyl hy omdraai en wegstap.
Die man se arrogansie maak hom gevaarlik, dink sy terwyl sy hom agterna kyk. Sy stap terug na haar pa se kamer, waar sy vassteek toe sy die polisieman voor die deur sien waghou.
Sy herwin vinnig haar ewewig en stap ongeërg verby hom die kamer binne, en alhoewel sy geen begeerte het om die saak en feite met ʼn buitestaander te deel nie, weet sy, sy sal Joos Terblanche, hulle prokureur so gou as moontlik moet gaan sien en raad by hom kry..
Nate maak of hy slaap en lê met toe oë terwyl sy brein besig is met ʼn ander waarheid wat hy vandag onthou het — een of ander tyd gaan die geheim uitkom, en daarvoor het hy geen verweer nie, want ‘dit’ het hy gedoen.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.