Wat die hart van vol is
Selfoon. Seën of straf? Dis ‘n tawwe onderwerp, want elkeen het sy eie gevoel oor die klein elektroniese toestel. Dis die beste ding naas gesnyde kaas en hou mense in kontak met mekaar.Goeie voorbeeld is soos met covid inperking. In sommige opsigte vergemaklik dit die lewe vir mens, maar steel ook ongelooflik baie van jou. As jy net dink hoe baie het dit reeds vervang? Jou alarm, kamera en selfs jou rekenaar. Ek voel dit steel baie van ons kosbare tyd saam ons geliefdes, as hulle dit net kan besef. Elke dag is genade van bo ontvang en die tyd stap so vinnig verby. En tog verkies sommige mense die foon se geselskap bo die van ‘n lewende persoon reg langs hom/haar. En dit is vir my ongelooflik hartseer, en veroorsaak dat ek soms die verdomde selfoon met ‘n pasie haat. Ek het al beleef hoe baie dit van ‘n mens kan steel, gesien hoe dit families uit mekaar ruk en gesinne vernietig. Ook het ek gesien dat dit sielsgenote by mekaar uit bring. So dit is nie net sleg nie, afhangende van persoon tot persoon. Uit my eie ondervindings het dit al twee van my verhoundings laat verbrokkel. Ek moet net noem asgevolg van ontrouheid en ek het afgeskeep gevoel. Daarna het ek het myself belowe nooit ooit weer sal ek tweede viool wees nie. Dis tog eenvoudig om goeie balans te handhaaf en tyd bestuur kan ook onsmaaklikhede vermy. Tog voel dit soms, of dit net ek is wat so redeneer. Verstaan my nie verkeerd nie, ek het nie ‘n probleem dat ‘n persoon op sy foon is vir werk of selfs plesier nie. Ek het ‘n probleem daarmee as die foon belangrikker is as jou eie huis mense. Ek self bestee ‘n goeie tydjie daagliks op die foon, om mense te groet in die oggende en in die aande. Spandeer selfs redelik tyd op gesigboek, maar dit veroorsaak nie dat ek my pligte versuim of my hartsmense enigsins afskeep nie. En dit is waar ek met menige mense verskil. Ja nie almal gebruik die foon om ontrou of skelm te wees nie, maar dit dryf tog ‘n wig tot in ‘n mate tussen geliefdes. Ek voel uiters sterk daaroor en ons het selfs ‘n reel in ons huis dat geen fone gebruik word in etenstyd nie. Sou die foon lui en jy antwoord nie, kan die persoon terug skakel as dit belangrik is anders los ‘n boodskap. Ons lees geen boodskappe tydens ete nie. Dit is familie tyd en klaar, dit is mos nie te veel gevra nie? Daar gaan ‘n dag in jou lewe kom, waar jy wens dat jy meer tyd saam ‘n sekere persoon spandeer het. En dan is dit dalk te laat, en daardie persoon is nie meer met ons nie. Dan kom die gesegde tersprake van “spyt is ‘n goeie ding, dit kom net te laat” Ongelukkig is die realiteit dat jy nie daardie kosbare persoon of tyd gaan terug kry nie. Wees waaksaam vir die moontlikheid dat jy ook een van die persone is wat te veel tyd op sy/haar foon spandeer en te min tyd saam geliefdes. Wees ook eerlik met jouselfs, want dit is so maklik om dit te ontken en te sê dat dit nie so erg is nie. Maar in die stilte het jy ‘n geliefde wat stukkend is van binne omdat hy/sy nie genoeg van jou aandag kry nie. Jy kan nie jou volle aandag aan iemand gee as jy konstant op jou foon besig is nie. Die lewe is so gejaagd en die dae snel verby ons sonder dat jy regtig dit eers agterkom. Alles in ons daaglikse lewe word vanselfsprekend aanvaar. Kom net tot stilte vir ‘n klein rukkie en sien die mooi van die lewe raak. Nie net dit wat daar buite is nie, maar ook reg langs jou in die huis. Waardeer en wees lief vir mekaar voor dit te laat en die tyd om is. Vandag en nie more nie, want elke dag is net aan ons geleen. Geniet jou kosbare tyd saam jou hartsmense, maak ongelooflike herinneringe uit elke moontlike oomblik. Die dag van more is nie aan een van ons belowe nie en ook nie gewaarborg dat ons oor ‘n paar minute/ure of dae nog hier gaan wees nie. Moet nie die kans vat van eerder later as nou nie, jy mag dit dalk berou. Maak jou geliefde jou prioriteit en spandeer kwaliteit tyd saam. Vertel hulle hoe baie hulle vir jou beteken en dat jy hulle nie sal vervang met jou foon nie. Jou foon kan mos nie vir jou ‘n drukkie gee en vertroos wanneer jy dit nodig het nie, of ‘n tuis gemaakde ete voorberei nie. Dit kan beslis nie die warm glimlag en sprankelende oë wat met liefde na jou kyk vervang nie. Jou geliefde sal jou veel meer liefde en aandag kan gee as jou selfoon ooit kan. Onthou jy kan nog altyd jou foon vervang maar nie jou geliefde nie! ©Ans van Rensburg
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.