Watse vark is jy?!?
Otjie, potjie vette vark,
werk in die tuin met ‘n langsteel hark.
Hy hark en hy hark tot die steeltjie breek
en woeps in Otjie se magie steek.
Die jaar van die Vark val tussen 5 Februarie 2019 en 24 Januarie 2020.
2019 word beskou as die jaar van die Vroulike Aard Vark. Bruin word geassosieer met die aarde en daarom word daar ook na 2019 verwys as die jaar van die Bruin Vark. Terwyl die Vroulike Vark met die aarde geassosieer word, word die Manlike Vark geassosieer met water en hout. Water is ʼn rivier en hout is ʼn hoë boom of boot. 2019 is dus ʼn jaar waarin die rivier oor die aarde sal vloei en dit mag vloede tot gevolg hê.
Volgens legende was daar ’n resies oor ’n groot rivier gehou. Die diere moes hul natuurlike talente en truuks gebruik om eerste oor die doellyn te hardloop. Die Rot was eerste en die Vark heel laaste. In die verhaal het die Vark honger geword en gestop om iets te eet waarna hy aan die slaap geraak het. Hy het net betyds wakker geword om die laaste (twaalfde) plek te behaal.
Die Chinese neem hul astrologiese kalender en geboortejaar baie ernstig op. Wanneer die persoon vir “Taisui” (die god van ouderdom) beledig, word hul getref deur ongelukke soos siektes, ekonomiese verlies, beserings en moeilikheid by die werkplek. Om ongeluk te vermy dra die Chinees rooi onderklere, sokkies of ʼn belt wat deur ʼn ouer persoon as geskenk gegee was, want die dra van rooi bring geluk. Juwele soos armbande met luisterryke uitgekerfde patrone daarop word ook dikwels gedra.
In China word die Vark nie juis as ʼn slim dier beskou nie want dit hou baie van slaap en eet en word maklik vet. Daarby is die Vark dikwels lui en onhandig. Aan die ander kant gedra die Vark hom besonder goed en kom nie ander mense te na nie. Hulle word gesien as verantwoordelike, onafhanklike en optimistiese mense wat ander in ag neem. Die Vark word ook gesien as ʼn persoon wat welvaart na ander bring en word dikwels met rykdom geassosieer. Hy is goedhartig, getrou en eerlik, maar ook naïef, liggelowig en soms traag. Die Vark se ‘element’ is water en is meer in harmonie met die sagter, vroulike kant van sy persoonlikheid. Hierdie eienskap en ruim hart veroorsaak dat die Vark maklik gekul word.
Die jaar van jou geboorte bepaal watse vark jy nou eintlik is. Dit wissel tussen ʼn Hout-vark (1935, 1995), Vuur-vark (1947, 2007), Aard-vark (1959, 2019), Metaal-vark (1911, 1971) of dalk ʼn Water-vark (1923-1983). Boonop gaan die jaar waarin jy gebore is jou karakter, vermoë en geluk beïnvloed, maar dit word egter nie beperk tot die jaar van jou geboorte nie, maar ook aan watter bloedgroep jy behoort.
Op die oog af gaan die vark in 2019 ʼn goeie jaar hê met werksomstandighede waar hul kollegas hul sal ondersteun, maar tog nog steeds baie spanning ervaar as gevolg van baie reëls en regulasies. Dit bereik ʼn hoogtepunt gedurende Maart en ʼn algehele laagtepunt in Oktober. Geldsake lyk in orde en daar mag selfs ʼn salarisverhoging op die horison wees omdat die Vark oor die algemeen ʼn hardwerkende persoon is. Ongelukkig word onvoorsiene uitgawes ook voorspel, dus sal daardie broodnodige verhoging handig te pas kom. Dit is wel ʼn goeie jaar om beleggings te oorweeg en entrepreneurs word aangemoedig om ʼn nuwe besigheid te begin sowel as om te leer hoe om spanning effektief te hanteer.
Vir die enkel lopende vroulike vark is romanse ʼn goeie vooruitsig wat Maart ʼn hoogtepunt bereik en gedurende Augustus deur ʼn moeilike tyd mag gaan. Indien ʼn troudatum beplan word, is April 15, 25 en 30 goeie keuses sowel as Mei 18, 23 en 31. Die beste pasmaat sal die Tier, Haas of Skaap wees. Groter verdraagsaamheid sal lei tot makliker probleemoplossing, en soortgelyke waardes sal sorg vir meer pret in hul daaglikse lewe. Vermy egter die Slang en Aap want verskillende persoonlikhede lei tot konflik, veral waar beide onbuigsaam en hardkoppig is. Dit sal egter nie so rooskleurige jaar vir die manlike Vark wees nie en daar word aanbeveel dat hulle meer sosiale geleenthede bywoon sodat daar ʼn groter kans is om nuwe vriende van die teenoorgestelde geslag te ontmoet.
Kyk mooi na jou algemene gesondheid maar let meer spesifiek op na die gesondheid van jou hart en longe en gaan gereeld vir mediese ondersoeke. Vermy oorvol plekke soos kroeë omdat daar dikwels fisieke konflik ontstaan na die misbruik van alkohol. Al hou die Vark se werksomstandighede hom baie besig, spandeer genoeg tyd aan oefening en buitelug aktiwiteite.
Dra met die Nuwejaar feesvieringe rooi, goud en silwer en vermy dit om op die eerste dag van die nuwe jaar te huil. Dra dikwels geel, maar goud, grys en bruin is ook gelukkige kleure. Gelukkige nommers is 2, 5, 6 en 8. Plant krismisrose, lelies en vygies en laat jou lessenaar in ʼn Suid-Oostelike of Noord-Oostelike rigting wys. Vermy nommers soos 1, 3 en 9, moet nie rooi (behalwe vir nuwe jaar), blou of groen dra nie en lief nie sit waar jy direk in ʼn oostelike- of westelike rigting sal kyk nie.
Oor die algemeen blyk dit asof die Vark in 2019 voorspoed sal beleef.
Bronne :
https://www.travelchinaguide.com/intro/social_customs/zodiac/
https://www.chinesefortunecalendar.com/2019/default.htm
3 Kommentare
-

Kiekies
So heppie soos 'n vark in Palestina...of issit in China? As ek self kon kies was ek Mis Piggy met 'n rooi(vir geluk) tutu aan. Heeeeerlik gelees! Wat gee jou sulke varksige gedagtes?
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2019 projek.