Winter in my tuin (Brons)
Winter is ‘n slu ou man. Hy loop gebukkend saggies deur my tuin. Elke nuwe more lê sy witspoor witter as die dag tevore. Sy koue asem blaas hy teen die skoonblink van my ruit. Wanneer ek die blou gordyne oopgooi, lag hy skelm en swaai vinnig sy jas se punt oor die koper blare heen. Hulle warrel tregter in die lug en val dan moedeloos terug op die sterwende gras.
Dit is winter. Sommer skielik. Oornag. Gister nog het ek die son se soentjies op my vel voel speel. Vanmore sukkel die strale om die yslagie op die grasperk te smelt. Die honde sukkel moeisaam uit hul hokke. Winterman het sy koue asem geniepsig oor hulle geblaas. Hulle sluip elkeen na ‘n klein sonkolletjie toe. Krap krap in die droë gras en krul dan in klein bondeltjies binnehou warmte op. Mayo, die klein worshond, lê binnebeen teen Sky. Sky is ons oorgroot pitbul reun. Sy oortjies wip wip toe ek die agterdeur oopsluit.
Die honde is traag koud vanmore. Winterman het met sy ysige vingers die hitte uit hulle hokke gesteel. “Toemaar” troos ek, “ounooi gaan plan maak.” Ek kap die yslagie van die waterbak af. ‘n tortelduif sit eenkant opgepof en huil. Winter het hulle ook onkant gevang. Ek gooi ‘n handvol saad op die sement. Tortel draai haar koppie skeef. Skud haar veertjies reg en sluit haar oë. Nee wat, dis nog ‘n rukkie voordat die koue uit die diere lyfies verdwyn.
Ek volg winter se spoor deur my tuin. Die vetplante het erg deurgeloop. Plek plek is die blare swart gevries. Die kannas hang selfbejammerend, halfdood in die oggendson. Die eens volgroen bome staan kaal en kleurloos skaam. Hulle takke reikend na bo. Smagtend na ‘n bietjie somerson. Die laaste oorskiet blare swaai hulpsoekend in die wind. Desperaat klouend, maar word dan met een laaste koue asem warrellend grond toe gestuur. Die winter het oorwin.
3 Kommentare
-

Kiekies
Mooi man!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Amanda ons mag nie die projek inskrywings vir die slypskool inskryf nie. Ek het dit dus verander/verwyder by die slypskool Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2019 projek