Woordeloos verloof
Dit was ‘n Sondagoggend op ‘n skulpiestrand in Seepunt
toe jou tong in jou mond gestol het
toe huiwering rooi oor jou wange gekruip het
en die see onseker om ons voete gekolk het
Maar ‘n ander Sondag op die Seepuntpromenade
lag ons kinders oopmond op die swaaie
hul wange is gloeiend genot in die wind
Liefste, kyk hoe trots swel die branders
kyk, die see is skoon speels
Is dit vir jou ook of herinnering baldadig
wil bokspring terug na die keer
toe jou tong in jou mond gestol het
toe huiwering rooi oor jou wange gespoel het
en ek kon hoor, soos ‘n skulp teen my oor,
die ruisende verklaring van oneindig oseane
©Marieta McGrath
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2018 projek