Jongste aktiwiteit:

Liewe Antie Koot 1283 woorde Brons Gradering

Liewe Antie Koot,

Antie is seker baie verbaas om van my ‘n brief te kry, ha? Ek sien sommer hoe gryp Antie die kop vas en gaan sit op die stoel met ‘n ‘Haai mens!’ en roep dan eers vir ‘n koffietjie. En ag, dan sal Antie wonder nou hoekom het oom Koot nie tog maar net nog ‘n klein bietjie langer op hierdie ou aardbodem gebly nie.

Ek het nog altyd gewonder hoekom is Antie dan nou Antie Koot? Wilhelmina is vir my ‘n baie mooi naam, al dink Antie nie so nie. Ja, ek weet Antie is vernoem na daardie een ouma wat so kwaai was en dis hoekom Antie nooit gekla het om dan maar liewer Antie (van oom) Koot genoem te word nie.

Daar het so baie dinge gebeur sedert ek weg is daar uit Koffiefontein. Ek en Driekie het toe uiteindelik tot trou gekom, kan Antie dit glo? Sy het gekeer dat dit klap, maar hierdie klong van Koffiefontein vat mos nie nee vir ‘n antwoord nie. Ek kom een van die dae vir Antie vir Driekie en ons klein Willempie wys.

Ek werk al twee jaar by die myn hier in Welkom en my skofbaas het belowe dat my bevordering nie meer ver is nie. Ek het Driekie belowe dat ons dan vir ons ‘n bakkie gaan koop. Ek is so trots dat ek uiteindelik ook kan sê ek en my vroutjie het ons eie huisie en nou gaan ons ‘n kar ook kan koop. Dis nou juis met hierdie kar wat ons vir Antie gaan kom kuier.

Antie weet, as ek so alleen is wanneer ek nagskof doen, het ek baie tyd om te dink. Ek verlang sulke tyd my hart stukkend na die dae wat was. ‘n Mens is mos dom as jy jonk is, dan wens jy altyd dinge moet asseblief verander en beter word. Vandag vra ek myself af wat ek nou eintlik beter wou hê? Alles was dan goed en mooi en lekker.

Ag, Antie moet tog maar vergewe dat ek vanaand ou koeie uit die sloot uit grawe, maar my hart loop weer wye draaie en wil hom nie laat keer nie. Antie moet maar eers die brief neersit as ek te langdradig is en later verder lees, hoor?

Ek kan onthou, toe ek en Pa en Ma op Koffiefontein gekom het, was Antie en oom Koot al lankal daar. Ek weet, want dis julle wat vir Ma en Pa kom kerk toe nooi het en alles. Ek was daardie dag so skaam toe my pa so tekere gegaan het met julle! Ja, al was ek klein, het ek toe al geweet dat hy nie ‘n mooi mens was nie. Ek was baie kwaad vir Ma ook, want dit is sy wat altyd die brandewyn gaan koop het, ‘Anders raas hy met my, my kind!’

Ma het vir julle allerhande mooi storietjies vertel van hoe ons saans Bybel lees en bid en alles, maar dit was ook g’n die waarheid nie. Die waarheid was dat ons saans vir Pa moes wegkruip, anders het ons deurgeloop onder sy plathand. Wat my mos nou laat dink – sy was sowaar banger dat Pa sou raas as wat sy vir sy klappe was!

Toe kom die dag van die ongeluk. Ai, Antie Koot, daardie dag was nie ‘n mooi dag nie. Ek het al baie maal gewens ek kan dit asseblief tog maar vergeet, maar vergeet kan ek net eenvoudig nie vergeet nie.

Ek en daardie klein seuntjie (ek dink sy naam was Basie) van Ousie Mina het in die veld gaan probeer voëltjies vang met ‘n wip. Hy het by die groot seuns gesien hoe doen ‘n mens dit en hy het hom lekker slim gehou met my. Hy het my verseker ons sou daardie aand elkeen met ‘n paar voëltjies in die hand huis toe kon gaan. Ek het al geproe hoe lekker smaak die gebraaide voëltjies! Met al die probeerslae het ons heeltemal te ver in die veld in geloop en ons besluit toe om sommer padlangs terug te hardloop dorp toe voor die grootmense by die huis kom.

Antie Koot moet weet, ek het hierdie storie nog nooit vir iemand vertel nie. Hoekom ek nou juis vanaand daaroor moet skryf, slaan my dronk! Ek sê dan juis ek wil dit vergeet, ha? Maar dalk, net miskien, as ek dit klaar geskryf het, kan ek dit dan makliker vergeet?

Ons was al baie naby aan die brug toe ons die groot slag hoor. Basie het aan die hardloop gegaan en vir my geskree ek moet kom, daar was vir seker nou ‘n ongeluk. Ek wou nog stry, maar hy het net aanhou hardloop. Ek besluit toe ek hol maar saam, ek wil mos nie alleen in die veld bly nie.

Basie het so in die hardloop vir my gewys hoe staan die stofwolk daar bo die brug en toe weet ek dat hy hierdie keer sowaar weet waarvan hy praat.
En toe gaan Basie ewe skielik doodstil staan en hy gryp my aan die arm en ruk my in my spore tot stilstand. “Dis jou pa se kar daai, jong!” Ek sien nou nog daardie twee groot wit oë van hom soos hy daar langs my staan en blaas het van die moeg en skrik.

Ai, my antie, ek weet nie wat toe gebeur het nie, sowaar weet ek nie meer nie. Die eerste ding wat ek verder kan onthou is toe ek so in die kar in loer en sien hoe lê my dooie pa daar so skeef oor die sitplek.

Sal Antie my asseblief glo as ek vandag sê dat ek nie van hom gehou het nie, maar ek wou hom sowaar nie dood gehad het nie. Ek wou hom weg hê, maar nie dood nie, regtig nie.

Toe ek die oggend na die begrafnis opstaan, is Ma ook sommer net weg. Ek onthou hoe ek die briefie wat sy op die kombuistafel gesit het, probeer lees het, maar ek kon toe mos nog nie lees nie. Oom Koot het my daar by die kombuistafel gekry, die briefie nog steeds in my hand. Was dit die namiddag of die volgende oggend? Ek weet sowaar nie meer hoe lank ek daar so alleen gesit het nie.

En toe is ek sommer julle kind! Vandag begryp ek eers watter opoffering julle twee moes maak om my by julle in die huis te vat. Julle was self nie vreeslik vol geld nie, as Antie my nou sal vergewe as ek dit sê. Ek weet, want ek onthou dat ek by die skoolhoof se vrou klere gekry het vir kerk op Sondae en skoolklere die volgende jaar toe ek skool toe moes gaan.

Die dag toe oom Koot weg is hemel toe, was dit vir my of my pa oorlede is. Julle twee was in werklikheid die enigste ouers wat ek ooit gehad het.
Antie Koot, ek het nou ‘n baie lang draai geloop om by die eintlike doel van my brief te kom. Ek vra asseblief baie mooi dat Antie eers moet slaap oor die ou sakie, want onthou, hierdie klong van Koffiefontein vat nie nee vir ‘n antwoord nie.

Ek en Driekie wil, wanneer ons Koffiefontein toe kom met ons bakkie, vir Antie kom haal om by ons te kom bly. Ons ou kindjie het nie ‘n ouma nie en ons wil baie graag hê dat Antie vir altyd en altyd by ons moet kom bly.

Ek sien uit om ‘n brief van Antie af te kry en onthou maar net die boerklong wag vir die ouma om huis toe te kom.

Met baie liefde en verlange
Antie Koot se eie kind.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed