
Riebeek Wes
Ek het op die hoek van Hofstraat
gestaan en snaaks gekry vir myself;
ek is pad af,
ver van waar ek tuis voel
maar hier by Kasteelberg se voet
het ‘n ongekende ding my gegroet –
‘n salige vreedsaamheid
om die lyf van die mistige horison
sonder skaduwees, kronkelpaaie
en kwispelende gedagtes
– net wye vlaktes vas teen ‘n rots.
Ek het na binne gedraai
en grappies probeer soek
wat die waarheid kon wegsteek
toe sien ek ‘n kasteel,
Weswaarts
waar winde die weke en dae verbloem
en ek het gewens ek kon vlug
na ‘n grot, ‘n god of ‘n grens sonder einde
of dalk ‘n hemel, soos dié ene
waar die stiltes om jou
alles wat skeef is
reguit verf
met kwaste vol kleur en klank
soos die week waarin God
die aarde en alles om ons geskep het.
© 2018 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2018 projek