2 julie 2018 (en die pers heks van Blommeland skryf)
Goud
My liefling, dit is winter
en ek verlang weer, dis maar al –
hier vanuit die Kaap
waar die reën vanjaar
in strome
oor die Weskus en die Boland val.
Die bitter van die droogte
is uiteindelik verby
en water stort oor kranse
by Jonkershoek, De Doorns en Grabouw.
Vol riviere raap nou dooie reste op
en vloei na eens leë vleie
wat seisoene lank na water smag.
By Gordonsbaai en ander strande
druis en droef die branders grou,
maar Paternoster maak ’n reënboog
op hierdie grys en somber dag.
En ek sou alles gee
om hierdie koue uur met jou te deel.
By Sutherland speel ’n jong kind in die strate
langs verlate lampe
waaronder sneeu teen dagbreek glim.
En by Worcester klim en skitter kranse
(vir ’n oomblik) in die son.
Hemel en Aarde was nog nooit so wit nie.
My lief, ons trek al halfjaar.
In my houthuis is dit skemer
en buite waai die winde kil en klam.
Maar ek draai die lamp se pit ’n bietjie hoër;
hou my twee verkluimde hande
nader aan die hitte van die vlam.
*
En ek onthou ’n ander Juliemaand
(dit het gereën hier in die Kaap)
en die nat geur van fynbos
teen ’n purper berg se val.
*
My liefling – blameer die winter,
want ek verlang weer
(dis maar al).
© Carma Shaw
2 Julie 2018
19:45
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek