Jongste aktiwiteit:

Die klank van geluk

As ek so ‘n paar dae in die veld rondgery het met net die wye vlaktes en veldgeluide, word ek teruggevoer na my kinderjare op die plaas met ‘n hunkering wat al hoe meer intens word, maar my ook soveel plesier verskaf. Net soos geur, bring klanke uit my kinderjare gelukkige herinneringe.
Die hoenderhaan se eerste kraai drieuur in die more laat my met ‘n genoeglike sug omdraai met die wete dat daar nog drie ure se slaap oor is voor ek hom weer sal hoor. Hanekraai laat my dink aan dagbreek, die rooi gloed van die opkomende son, die vrolikheid van ‘n dag vol nuwe ervarings en ontdekkings soos net ‘n kind dit kan ervaar. Dan het ek miskien nog vir ‘n wyle lê en luister na die moresang van die voëls, geluide uit die kombuis waar my ma vuur maak in die stoof om koffiewater en ontbyt aan die gang te kry en die geklingel van melkemmers voor ek kaalvoet in my nagklere kombuis toe is om saam met my ma ‘n koppie koffie te drink of louwarm melk sommer nog uit die melkemmer te skep.
Winteroggende as dit nog bitter koud is en die water in die pype gevries, bly ek maar bly lê en luister hoe my pa die jeep “start” om veld toe te ry net om feitlik dadelik spyt te kry omdat ek nie maar saam is om die wonder van gevriesde spinnerakke in die bosse en doudruppels op die heiningdrade te aanskou nie. Die ou skeefgeryde blou jeep het sy eie geluid gehad wat met geen ander verwar kon word nie. Hy was deur en deur sy geld werd en in al die jare se harde diens op die plaas kon hy nie opgery word nie! Met hom is gejag, droeë bome omgestoot en aangesleep vir brandhout. Met hom het my ma sonder lisensie gery as sy iets dringends moes gaan doen en met hom het ons leer bestuur, plaashekke skeef gery en oor bosse gery want hy het nooit so lank as wat ek kan onthou, remme gehad nie. Hy is in donkie teen die steilste koppe uit en weer afdraend terug en diep slote en riviere het hom nie gestuit nie. Ek het met groot deernis ‘n skilderytjie van hom gemaak volgens ‘n ou foto wat ek iewers uitgekrap het, dof en onduidelik, maar dit het gevoel of ek met ‘n baie bekende ou vriend gesprek voer oor baie jare se onthou.
Ek onthou die geluide van karre, perde en die opgewonde geblaf van honde as boere van die omgewing sommige oggende douvoordag by ons huis bymekaargekom het om te gaan “tier” jag. Dit was in die vyftigerjare toe daar nog ‘n paar verdwaalde luiperds in die suide rondgeloop het. Tóg jammer dat daar nie toé al wyses bedink is om volhoubaar met wilde diere saam te boer nie, maar ‘n luiperd het baie skade beteken vir ‘n skaapboer. Op een van die jagtogte is my pa se liefling-jaghond vir ‘n “tier” aangesien en doodgeskiet en Oom Stefaans du Plessis sleg deur een bygekom met byna katastrofiese gevolge.
As skoolkind was ek baie lief vir naaldwerk en het altyd skoolvakansies my eie klere gemaak. Dan as die ander na middagete bietjie gaan skuislê het ek graag op my eie sit en naaldwerk doen en was ek intens ingestel op geluide om my. Ek hoor nou nog die eentonige, maar rustige gekap van die houtkapper waar hy sy nes bou in ‘n droë doringboom en hy en sy wyfie vir mekaar “poop-poop-poop”. Die vloeiende geselsies van die astrante piekeloë (rooi-oogtiptol) terwyl hulle in die vyeboom sit en smul, sit steeds ‘n glimlag op my gesig. Ons het maar ons vye toegebind en hulle deel vir hulle gelos.
‘n Windpomp se geluide is vandag nog ‘n geluid wat aan my binneste pluk en die verlange soos ‘n fisiese pyn in my borskas laat nesskop. By die plaashuis het drie gestaan en elkeen het sy eie wysie gesing wat gewissel het na gelang van die spoed van die wind – ‘n moeisame gesug en gehyg as die wind luierig is en ‘n heerlike vinnige “wirrrr” as die wind fris gewaai het, dan het die pomp vir my op sy gelukkigste geklink.
Hier teen middagtyd kondig die henne met ‘n luidkeelse gekekkel aan dat hulle eiers gelê is en dan hardloop ek gou om eiers te gaan uithaal. Die geblêr van die trop skape wat vir die nag by die huis in die kraal kom slaap, kondig die naderende einde van die dag aan. Die hout word gekap vir vanaand en more se vuur en die koeie wat bulk en ‘n gewerskaf met melkemmers, kondig weer eens melktyd aan.
Dis hier teen laatmiddag dat die groot swerms kelkiewyne met ‘n melodieuse “kelkiewyn-kelkiewyn” kraal toe kom om by die poel langs die krip te kom water drink. En wanneer die son begin water trek, sing die korhane hulle kras “krrok-krrek-krrek”-duet iewers in die rivier se rigting.
As die son gesak het begin die grondgeitjies na mekaar roep en sit so vir ‘n paar uur lank mekaar en antwoord met ‘n reëlmatige “kek-kek-kek”-roep. Wanneer ons nog buite sit voor slaaptyd, begin die langasem-naguiltjies na mekaar roep, ‘n gesmoorde “tjakoo-tjakoo” gevolg deur ‘n lang uitgerekte “tjirrr”, soms ‘n gevlekte ooruil in die bloekomboom met sy treurige “hoe-hoe”.
En wat maak mens meer opgewonde as naderende donderweer en die oorverdowende gekletter van reen op die sinkdak, die geroggel van water in die geute en die gekabbel van stroompies water om die huis. En net soos die eerste sterk bui bedaar begin die vleipaddas wat vir jare onder die modder begrawe was, hul hergeboorte aankondig in ‘n oorverdowende koorsang wat sal aanhou tot die laaste waterpoeletjie opgedroog het.
So herinner wind deur die bome my aan kleintyd wanneer ek veilig in my bed gelê en luister het as die wind wat deur die bloekombome se blare ritsel, sussend soos ‘n wiegelied. Wind deur die bome herinner my aan die klassieke musiek waarna ons Saterdagaande vanaf negeuur in “U eie keuse” geluister het, ‘n versoekprogram wat sedert 1945 op die Afrikaanse Diens van die SAUK en later op RSG uitgesaai is met die baie bekende Ball Scene van Joseph Hellmesberger as die jarelange kenwysie. Meesleurende wysies soos Aïda, Verhale van die Weense Woude, Tsjaikofski se Eerste Klavierkonsert, die Soetmelksvleiserenade, Pie Jesu, Lili Marlene, Bolero, La Paloma, gebed van ‘n jong meisie, Barcarolle en sovele ander hou steeds vir my matelose bekoring in wat ek soos wind deur my siel en wese laat spoel saam met die herinneringe van my kinderjare.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed