Towerwoud
Iewers
waar kronkellote oor miershope
en oor stamme van ou bome klou;
waar droë gras en bossies
lig se warm kleur vashou
daar waar kooltjies oker vuur
nog aan donker takkies gloei
terwyl die laaste bietjie nag
uit die skemer skadu’s vloei
ontvou ‘n wonderwêreld
waar soete elfwe graag wil woon –
‘n geweste waar feekinders
teen skurwe stompe sit en droom.
‘n Bos wat byna tjoepstil is
(net die klank van voëlgesang)
waar ‘n dynserige mistigheid
soos wasem tussen alles hang.
En dalk sal jy ook eendag
na so ‘n mooie oord wil gaan,
om ook midde van die dag se breek
in daardie skoonste lig te staan
daar iewers op ‘n ander plek
waar die son se strale goud
oor die nêrens-êrens-nog-‘n-land
waar winterveld só towerwoud.
Onthou dan net, my kindjie klein –
die môrestond is bitter kort
en die sprokie net ‘n oomblik lank
terwyl die uur gebore word.
© Carma Shaw
17 Junie 2018
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
GhwarriegatQueen
Dis nou honor bright se hartsmooi. Pêreldag vir jou ☕🌹