Verwerpte kranksinnige
in muf verlate verrotte gange
van Gotiese gestig
lê die stille hulpkreet
van onheil en gruweldade
koue leë kamers
ween hartverskeurend saam
vrees verkramp jou hart
laat jou bloed in jou are stol
die beelde speel soos ‘n riller
voor my geestesoog af
die elektriese skokke wat deur hul liggame ruk
om die geraas in hul breine te smoor
vrees hang soos digte mis in die donker
in ysbad lê hulle doodskoud
benoud beangs bewend
en wag op die einde
onskuldige kinders kerm
met elke wrede eksperiment
vul angskrete hol mure
en bons teen vuil vensters vas
soos wandelende dooies
toegesluit agter geroesde tralies
word hulle soos proefkonyne
wreed gemartel
en onmenslik mishandel
alles terwille van mediese wetenskap
die stank laat mens walgend verstik
donker donder die euwel
ruk dit deur my gees
ek deins terug na die hede
maar kan steeds hul vrees voel
ek kan die eggo van hul geskree hoor
agter slot en grendel
is hul vergete vasgebind vasgevang
verlate met ‘n verwoeste brein
alleen en pateties
deur mensdom verwerp
afgeskryf as ‘n kranksinnige
©Jessica Venter
7/3/2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.