Soos mis
Hoe kan jy my kwansuis maak glo
dat liefde oneindig is?
Netsoos die uitspansel daarbo;
eindeloos en grensloos
(soms roekeloos)
soos die loop van die suidoos
Tot teenaan my hart se deur
jaag jy die son en die maan
met blink beloftes agterna,
’n magdom sterre in kardoese
word ook hoopvol aangedra
Maanskyn en rose
kersieliefde vuur en vlam,
deur jou hipnose ingetrek
lê my verstand eenkant verlam
bedot
bedinges
bedenklik
uitgelewer aan liefde
wat soos vroegoggendmis
ewe vergangklik is
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek