Sus se plot.
Sus se plot.
Die gebruik was dat daar een keer in ʼn maand reservaat toe gery word om slaggoed te gaan uitkies om te koop. Soos die gewoonte was, het ons kinders met groot opwinding uitgesien na die uitstappie want dit was ons tyd saam pa. Pa was treindrywer en baie lang skofte weggewerk van die huis af en die tydjies saam hom was kosbaar en spesiaal.
Die Saterdag is daar vroegdag reggemaak en padkos ingepak vir die gebruiklike uitstappie na Tses, die 82 kilometer is onderbreek met ʼn piekniek langs die pad. Daar is by die “tafel-en-stoeltjies” stilgehou, koffie geskink en broodjies geëet met vleisbolletjie en gekookte eiers.
Ek en Nico wou natuurlik net speel en was maar traag om weer in die pad te val. Pa Jan aan die anderkant wou net daar kom om die slaggoed te kry.
Terug in die bakkie is daar gelag en grappies gemaak, Pa kon ons vermaak met staaltjies uit sy kinderdae as kind van rondtrekkende boorman van beroep.
Een saak waaroor ons altyd geredekawel het is wie die hekke moet oopmaak, elkeen het sy beurt gekry. Nico was die ouer een en het maar altyd gesorg dat Sus meer beurte kry.
So onder die redekawel deur besluit Pa dat hy self sal beurte uitdeel en onder ʼn onderlangse gebrommery het Nico dan ook die eerste hekoopmaak-beurt gekry. Met die terugklim in die bakke skuif ek dan weer om langs die deur te sit aangesien pa klaar besluit het die volgende beurt is myne.
Pa maan my om nie “uit te klim” voor hy stop nie en vat die draai op die rooi Kalahari grondpad. Ek wonder by myself waarom sal ek dan nou voor die tyd wil uitklim!
Met die gedagte vars in my kop, gebeur die ondenklike! Ek sit met my hand op die knip van die swaar ou Ford bakkie, die knip ingedruk – gereed om oop te maak en uit te klim. Met Dolly Parton se “Jolene, Jolene, Jo-llleeeen” vlieg die deur oop, en ek agterna soos ʼn vrot vel en kom met ‘n slag te lande.
Ek voel eintlik hoe my nerwe trek toe die Ford bakkie se agterwiel so 30 sentimeters van my gesig af tot stilstand kom. Nico hang soos verskrikte haas by die oop deur uit om te kyk waar Sus is en die volgende oomblik storm my pa om die agterkant van die bakke.
Met grys-wit geskokte gesig maak hy eers seker dat ek lewe voor hy net daar my sitvlak warm klop. Dit was die grootste skrik van my tien-jarige bestaan en ek neem aan vir Pa Jan niks minder skrikwekkend nie. Hy het darem net een hou gegee voor hy besef het wat hy doen en het dadelik getroos en sy optrede op skok geblameer.
Die atmosfeer was maar gedemp en die pad na die reservaat is in stilte afgelë. Daar gekom is die slaggoed gekoop en ons is terug Keetmanshoop toe. Tot groot vermaak is die plek vernoem na: “Sus se plot”.
Vir jare daarna is daar met groot gelag verwys na die dag toe Sus grond gekoop het.
©Marlene Erasmus
30/01/2022
(515 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2022 – Drama projek