Jongste aktiwiteit:

As die Jakarandas bloei.

Jakarandas wat in volle swang hul purper-pers gewaad dra, laat my spontaan glimlag. Die skildery op die doek van Oktobermaand is so ongelooflik mooi.

Ek sukkel om my bewondering te verwoord.

Ek stop in die laan en klim stadig uit my motor. Ek stap oor die pers tapyt van Jakaranda blommetjies wat gestrooi is oor die aarde.

“Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies oral op die veld,
En orals, ai, so mooi!”

C.Louis Leipoldt se woorde sing in my kop as ek om my rondkyk en verdrink in die mooi. ʼn Jakaranda in volle blom voer my weg na die sprokieswêreld van kleur. Ek stap stadig en my hart klop warm as ek sien hoe baldadig die blommeprag baljaar. Ek kan my vas verbeel dat hier selfs ʼn feetjie iewers vir my loer.

Die Jakaranda swaai hulle grasieuse arms in die lug – kompleet of hulle lofliedere sing as wolke soos watte-bolle blom in die ligblou hemel. Pers-onthou kom by my op as ek terugdink aan die viooltjies in my ouma se dorpstuin. Die laan ruik na vrede en lente huiwer op die drumpel van die nuwe seisoen.

Onder die Jakaranda verwelkom die blarevloer vol pers blommetjies my asof hul my nader roep. Op my hurke teken ek ʼn patroontjie op die blommetapyt. Die jaar se metronoom tik-tik rustig aan.

Vrede het ʼn manier om jou te bekruip voor jy dit agterkom. Die vreugdegawes word mildelik aan ons uitgedeel in die natuur. Tyd en die tempo van ons lewe laat my met nuwe oë na die ongelooflike mooi natuur om ons.

Die skildery voor my laat my jubel en juig – ek ken die Kunstenaar wat met die allermooiste kleure op sy palet, hierdie wondermooi sprokie vir ons kom skilder.

©Marlene Erasmus
31/10/2022
(299 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed