Vloermoere
Vloermoere
Ek kan lekker vloermoer (mooi Afrikaans vir tantrum)as ek die dag daartoe gedryf word. Gelukkig is dit nie soos ‘n tweejarige nie, want dan sal ek met harsingskudding en ‘n gebreekte been of twee moet hospitaal toe gaan. Op veertig vat die bene bietjie langer om weer heel te word.
Nee, ek tjank, wat nie ‘n mooi gesig is nie of kry stilstuipe. Ek het al ‘n paar keer by die werk my handsak gevat en uitgestorm. My gesig het nie woorde nodig nie, dit spreek vanself boekdele. Ek was al vele kere in die moeilikheid omdat ek nie my gesig fix nie.
Wat my begin bekommer het, was dat soos ek ouer word, die vloermoere meer dikwels en erger word. Miskien is ek net nie meer lus vir die onsin van alles en almal nie het ek gedink. In sekere gevalle is dit waar, maar ek moes uitvind dat daar ook ‘n dieper rede is. Iets wat baie lank gelede al in my donkerste, diepte kom lê het en met tyd sy lelike dik nekkie uitgesteek het. Dis nie menopause nie!
Die mense wat weet van die kopdinge sê, dat as jy enige trauma beleef, hoe klein of groot ookal, dit jou terugneem na die gevoel van die eerste trauma wat jy beleef het.
Ek gaan sien toe ‘n persoon wat opgelei is in die tipe ding, want die vloermoere ontstig my en soms ander mense vir lang rukke.
Binne ‘n uur kom ons agter waar ek my eerste trauma beleef het. Nie my Pa se slegsê in my kleintyd of my Ma se traumatiese dood nie. Dit gaan veel verder as dit terug. Dis toe ek ‘n vyfjarige dogtertjie was wie se omstandighede verander het. Ek was die spreekwoordelik prinsessie wat uit haar paleisie gepluk en by die monster gelos was. Dit klink baie erger as wat dit regtig was.
Al my beheer was op daardie ouderdom van my weggeneem en meer verantwoordelikhede vir my gegee. Dis hoekom ek tot vandag toe vloermoer as ek nie beheer oor my situasie het nie of wanneer iemand met my verantwoordelikhede lol.
Die terapeut se raad aan my was dat ek elke keer voor ek wil vloermoer, myself moet terugvat na my vyfjarige self en vir daardie dogtertjie sê dat sy okay is. Ek sukkel nog met die tydsberekening, ek doen dit eers as ek klaar die vloermoer gegooi het.
Dis dan wanneer ek God se vrede ervaar – die Vrede wat vir my sê: ”Jy hoef nie alles te beheer nie, jy kan maar party van daardie verantwoordelikhede laat gaan en beheer oor gee. Kom lê dit by My voete neer. Jy is okay.”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.