ʼn Dag om te onthou
(Woordtelling 597)
Dit maak nie saak hoeveel jare of dekades verloop nie, soms kan mens presies onthou waar jy op ʼn spesifieke dag was, en selfs waarmee jy besig was. In uiterste gevalle kan jy ook ander, minder belangrike inligting onthou, soos die weer of die klere wat jy aangehad het.
Vandag, veertig jaar gelede op 27 Maart 1985, was ek werksaam as ʼn junior tikster in ʼn besige prokureurskantoor. Die dae was lank en eentonig en die uur se treinrit terug huis toe het nog voorgelê. Wagtend op die trein wat om 16h45 stadig die Johannesburgse stasie moes instoom, het ek skaamteloos die gesprek tussen twee jong prokureurs afgeluister. Nog jonk en grootliks onaangeraak deur die hartverskeurende klappe wat die lewe kan toedien, het ek gehoor hoe ʼn skoolbus in die nabygeleë Westdene dam beland het. Die nuus van die tale skoolkinders wat verdrink het was so skokkend dat my brein nie werklik sin hiervan kon maak nie. Mens lees sulke nuus net in koerante, dit gebeur nie net hier om die draai op ʼn sonnige Woensdag nie!
Hoe is dit moontlik dat 42 hoërskool kinders tussen die ouderdomme van 13 tot 17, ook op pad huis toe, sommer net so verdrink? Nie een van daardie 71 kinders wat die oggend hul skoolklere aangetrek het, het vir ʼn oomblik gedink dat hul lewe net na 13h00 daardie dag in ʼn oogwink sou verander nie. Nie een van hulle het eens gedroom dat hulle dalk nooit weer sou terugkeer huis toe nie. Nooit sou een van daardie ouers vermoed dat dit die laaste keer is wat hulle hul kind totsiens sou sê nie.
En dit is die tragedie van ʼn ongeluk, jy weet nooit dat dit wat jy nou doen, is die laaste keer nie.
Terwyl Beyers Naudé en Allan Boesak gearresteer word omdat hulle ʼn politieke opmars gereël het, het sowat 3,000 mense geskok om die dam saamgedrom. Ouers het gebid dat hul kind een van die “gelukkiges” sou wees.
Marcelle Wilsnach en Pieter Koen het tevergeefs probeer om die agterste noodruit van die onderste vlak van die bus uit te skop. Buiten die klein venstertjies, was daar geen manier om uit die bus te ontsnap nie. Die kinders se paniekerige gille het stil geword terwyl die geel dubbeldekker bus onder die groen water verdwyn het. Slegs 30 kinders kon gered word. Sommige kon self na veiligheid swem, ander is deur skoolmaats en dapper omstanders na die dak van die bus gehelp. Die plaaslike munisipaliteit het nie ʼn duikeenheid gehad nie, en brandweerpersoneel moes uiteindelik van duiktoerusting gebruik maak om die liggame van vasgekeerde kinders uit die bus te kry.
Tot vandag toe weet niemand wat die oorsaak van die busramp was nie. Geen ander voertuig was betrokke nie en die busbestuurder, William Horne, was ʼn betroubare en versigtige bestuurder. Dit sou uiteindelik drie ure neem om al die kinders en uiteindelik ook die bus, uit die water te haal.
Die minister van gesondheid, Nak van der Merwe, het ʼn spesiale fonds toegeken aan die families om die begrafnisonkoste te dek. 39 van hierdie kinders is tydens ʼn massa begrafnis in die Helde Akker van die Wespark begraafplaas begrawe. Twee kinders is veras en een kind is op haar tuisdorp, Orkney, begrawe.
Stefan (skuilnaam) vertel dat hy die eerste paar ure na die busramp glad nie kon onthou nie. Hy het snye op sy bobene gehad, maar geen herinnering hoe dit daar gekom het nie. Die omvang van die tragedie het ook eers werklik ingesink toe hy besef hoeveel van sy skoolmaats nie teruggekeer skool toe nie. Die hartseer was onbeskryflik en geen persoon wat deur daardie ramp geraak was, was ooit weer dieselfde nie. Vir die familie en vriende sou daar altyd ʼn “voor” en “na” die busramp wees.
© Susann Moolman
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek