Jongste aktiwiteit:

‘Onse duineland’ – ’n liturgies-poëtiese gesprek met Buks Appelblaar

Ek stap saam met Buks Appelblaar die Kalahari-woestyn in. Tussen die saggolwende rooi-rooi duine wat kontoer tot in oneindigheid, raak ek opnuut bewus van die oneindige grootheid en alomteenwoordigheid van God.

Ek het op my hurke tussen die duine gaan sit. In my hand het ek rooi-rooi Kalaharisand toegevuis. Dit het vir my gevoel asof die sand soos water deur my vingers spoel en dat die fyn korreltjies deel vorm van die groot legkaart van die Kalahariwoestyn, “duineland, se hart …, vir ewig in Sy heelal. Elke korreltjie sand – korreltjie vir korreltjie – verteenwoordig die ewigheid. Elke korreltjie sand spreek van oneindigheid. Ja! elke kleinste deeltjie pas so volmaak soos die stukkies van ’n groot kosmiese legkaart in die heelal waar die grootheid van sy ewigheid spiraal in die lewenslyn van Sy genadehand. Biljoene korreltjies sand vorm uitgestrekte golwende rooi-rooi duine. Onder die asem en die voete van die wind golf Sy teenwoordigheid; genadeduin híér! Sy heiligheid en Sy Liefde,” het ek hardop vir myself gesê.

Die woorde van William Blake het oor en oor in my gedagtes gemaal: “To see a world in a grain of sand and heaven in a wild flower, hold infinity in the palm of your hand and eternity in an hour.”

Buks Appelblaar het op sy hurke langs my kom sit. Hy het ’n handvol sand gevat en dit stadig deur sy vingers laat val.

“Kyk my groot vriend,” het hy gesê terwyl hy in die rigting van die ongenaakbare duine van die Kalahariwoestyn beduie het, “eleke korreltjie sand hier by die dyne, hy loop voori blaas vani wind. Daar waar hy het ga’kry onse spore, die wind hy maak hom toe onse spore van gister syse tyd.”

“Nόú vandag,” Buks het so rukkie stilgebly, “onse Boese’mense ons los hom die nuwe spore oor die hoog hoog dyne, onse loop opi spoor van Naoea by die sand by onse dyneland syse sand.
“Môre my groot vriend,” het hy na ʼn lang stilte tussen ons gesê, “die blaas vani wind hy maak weer toe onse spore van hom gister syse tyd onder by die sand.”

Terwyl Buks Appelblaar met sy vingers op sy bors getik het, het hy met trots in sy oë gesê: “My groot vriend, h-í-é-r-í es onse Boese’mense syse dyneland! Naoea, Hy het onse Boese’mense hier gakom bêre met Syse eige hande.” Buks het bygevoeg: “Die sand onthou nie myse voete nie, maar Naoea Hy ken hom myse spoor.”

“Ja, Buks”, het ek hardop gesê, “die wind vee weg wat verganklik is, maar die hart bly in die hand van die Heilige.”

Híérdie kosbare en diep geestelike gesprek tussen my en Buks Appelblaar was na my mening inderwaarheid ’n liturgiese poëtiese gesprek. Gevolglik het ek daardie aand in sy tentjie ’n simboliese vertolking van Buks Appelblaar se “Onse Dyneland,” gedoen.

Uit die naslaan van my bronne en veld-notas oor die Kalahari-Boesmans, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die Kalahari se “saggolwende rooi-rooi duine,” binne die denke van die Kalahari-Boesmans die simbool van ’n ‘goddelike landskap’ is, eerder as net ’n ikoon van die Kalahari self.

Vir Buks Appelblaar en sy mense word die rooi Kalahariwoestyn se sand die simbool van die ewige teenwoordigheid van Naoea en dui dit ook op die verganklikheid van menslike spore teenoor die bestaan van die heilige lyn wat steeds deur alles loop.

Hier word die woestyn nie as leegte gesien nie, maar as volheid van God se teenwoordigheid. Die kontoere van die rooi duine verteenwoordig golwe van tyd en geestelike teenwoordigheid. Soos die psalmdigter na die heuwels opkyk, kyk die Boesmans na die duine en ervaar God se alomteenwoordigheid in die sand van die Kalahariwoestyn op sigself.

Die Sand van die Kalahariwoestyn, wat deur my vingers ‘gespoel’ en deur myself beskryf word as: “korreltjie vir korreltjie ewigheid, korreltjie oneindigheid en “deel van die heelal,” dien as metafoor vir die heelal.

Uit die liturgiese en poëtiese gesprek tussen my en Buks Appelblaar daardie oggend, kry ons ’n kosmiese visie waarin selfs die mees geringe deeltjie, ’n sandkorrel, die teken van God se grootheid dra. Hierdie gedagte is ’n resonasie van William Blake se woorde: “To see a world in a grain of sand…”

Toe Buks Appelblaar langs my in die Kalahariwoestyn kom sit het, het hy op eg-aardse wyse, die ‘wysheid van die spore’ in die sand, aan my verduidelik naamlik dat die wind maak toe wat was, dat die wind nuwe spore ‘ooplos,’ maar dat Naoea se pad altyd die gids bly, selfs al word die spore van die verlede uitgevee.

Buks het my opnuut daarop gewys dat, “…die wind maak weer toe onse spore van gister syse tyd.”

Laasgemelde dui na my mening op die verganklikheid van menslike dade, maar terselfdertyd op ’n spirituele volharding. Dít is ’n spoor wat nie deur die wind verwyder kan word nie. Dít is die pad van Naoea.

Wat die slot woorde van Buks Appelblaar betref: “h-í-é-r-í es onse Boese’mense diese dyneland …,” word die aanwesigheid van die Boesman in sy land verklaar as geestelike én liggaamlike verbintenis. Daardie verbintenis is ’n lewenskringloop van loop waarin hernude spore in vergete spore getrap word. Die land besit jou, nie andersom nie.

Die Kalahari-San verstaan hul landskap nie as ’n fisiese terrein nie, maar as ’n “trance-geografie”. Buks Appelblaar se ‘Onse duineland,’ is dus vir hom en sy mense nie net ’n ruimte waarbinne hulle leef nie, maar ’n ‘tempel’, ’n pad, en ’n sterrekaart vir die siel. Voorts is hul begrip van tyd ook sirkulêr en op herinneringe gebaseer .

Die spore van vandag sluit aan by dié spore van gister en môre, nie as lineêre geskiedenis nie, maar as die sirkulêre ritme van die lewe …

©Pieter Mostert

BRONNE

• Lewis-Williams, D, & Pearce, D. (2004). San spirituality: Roots, expressions and social consequences. Double Storey.
• Mostert, P. Mondelinge onderhoud met Buks Appelblaar gedurende 2023.
• Mostert, P. Die taal wat Kaalvoet Praat. 2020: Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edns) Bpk.
• Mostert, P. God die Digter. 2020 HartWood Digital Printing, Midrand, Gauteng.
• Mostert, P. Kalahari-spore. HartWood Digital Printing, Midrand, Gauteng.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed