Jongste aktiwiteit:

“ Hier is my hart, jy kan dit sien. Ek kom sonder skadu’s.”

Die son se oog maak pêrel-pienk sy verskyning oor die hoë rooi duine van die Kalahariwoestyn en begin al hoër en hoër in die wolklose blou hemelruim opklim. Die jong Boesmanseun, Kuri, maak sy oë oop en met ’n groot gaap staan hy opgewonde van sy karos af op en hardloop na buite.
Dit is die dag waarop hy amptelik as ’n volwaardige lid van sy mense, die Xoé-San, ontvang gaan word.
Kuri loop en dink aan sy ouma, Uma, wat altyd vir hom gesê het: “In die Kalahari groet ’n mens nie met die mond nie, maar met die hart, want woorde kan lieg, maar die hart nooit. Groet die wêreld eers met jou hart, dan sal die wêreld jou nie as ’n dier sien nie.”
Kuri se groot Ouma, Nisa, het dit altyd so mooi gestel: “Ek wys my hart sodat jy kan sien ek kom sonder skadu. As jy met jou hart wys, sien die ander jou lig, nie jou donker nie.”
Só, het sy altyd bygevoeg: “As jy iemand groet met jou hand op jou hart, dan sê jy eintlik “Ek is nie ’n gevaar nie. Ek is ’n mens. Ek onthou wie ek is, want, my kind, in die hart woon jou voorouers, jou drome en jou belofte om nie skade te doen nie.”
“Daardie gesegdes van my en groot Ouma Nisa,” het sy ouma Uma gesê, “verwys na ’n groet van opregtheid. Daarmee wys hulle dat hulle niks wegsteek nie en dat hulle met vrede en eerlikheid nader kom.” (In Boesmankultuur is “skadu” nie net die fisiese donkerte nie, maar ook ’n beeld vir bedrog, woede of geheime pyn. Om “sonder skadu” te kom, is om met ’n oop gemoed en suiwer bedoelings te nader).
Kuri het egter nog altyd oor hierdie gesegdes gewonder wat so vrylik oor ouma Uma en sy groot Ouma Nisa se lippe gevloei het. Hoe is dit moontlik dat ’n hand op ’n bors meer beteken as duisend woorde, het hy altyd by homself geredeneer? Min het Kuri geweet dat hierdie einste gesegdes nog deur homself tot sy voordeel aangewend sal word.
Kuri het stadig na die groot kameeldoringboom gestap waar die oggendseremonie sou plaasvind. Die res van die groep, met hul gesigte wat soos gelooide leer blink in die oggendson, het in ’n kring gesit. Die oudste van die groep, Oupa Gau, het in stilte met ’n waardige houding penorent gesit. Hy het in die rigting van Kuri se skuiling gesit en kyk en toe hy hom sien, het hy hom met knik van sy kop nader gewink.
Kuri,” begin Oupa Gau met ’n stem wat kraak soos droë hout van ’n ou kameeldoringboom, “vandag gaan ons jou iets leer wat die wêreld buite die Kalahari lankal reeds vergeet het. Die hand op die hart is ouer as die boog en ouer as die stories in die sand. Die groet met die hand op die hart, is die teken dat jy nie die wêreld nét met jou oë sien nie, maar ook met jou binneste.”
Kuri kniel voor oupa Gau in die koel sand van die Kalahari.
Oupa Gau vat ’n lang teug aan sy pyp en blaas wolkies rook die lug in terwyl hy lank in die rigting van die duineveld tuur. Dan sit hy sy regterhand plat teen sy bors op sy hart en sê:
“Wanneer jy só groet, Kuri, sê jy: “Hier is my hart, jy kan dit sien. Ek kom sonder skadu’s.”
Na ’n lang stilte gaan Oupa Gau voort met sy vertelling aan Kuri, wat ongemaklik op sy knieë in sand begin rondskuif.
“Lank gelede, het die mense van die Kalahari in verskillende groepe geleef. Daar was min water, min wild en baie onenighede tussen die mense. Daar was twee groepe wat heftig baklei het oor ’n klein watergat. Dit was om die minste te sê eerder ’n plassie modder met ’n paar druppels water, maar in die Kalahari beteken ’n druppel water, soos jy weet, die verskil tussen lewe en dood.”
“Die twee groepe het mekaar dag vir dag dopgehou, albei gereed om te veg vir die behoud van hierdie modder poeletjie. Op ’n warm dag het ʼn vrou met die naam Nisa, wat jou oumagrootjie was, uit haar groep gestap. Sy het stadig na die water geloop waar die ander groep gestaan het, gewapen met pyle, boë en spiese, gereed om haar af te slag. Die situasie was uiters gespanne.
Kuri, jou groot Ouma Nisa het egter kopgehou en kalm gebly te midde van hierdie gespanne situasie. Sy het haar hand stadig gelig en dit teen haar hart gesit. Sy het niks gesê nie. Sy het net gewys: “Ek bring nie gevaar nie. Ek bring my menswees.”
Oupa Gau glimlag effens. “En die wind het haar kant gekies daardie dag, want soos ons altyd sê: “Die wind van die Kalahari luister na die hart wat waar praat.”
“Die ander groep het uiteindelik hul eie hande opgelig en op hulle harte geplaas. So sonder dat enigeen ’n enkele woord gesê het, is die eerste vrede tussen hulle gesluit. Sedert daardie dae, het hierdie gebaar van met die hand op jou hart groet oor die hele Kalahari versprei.”
Kuri het aandagtig na Oupa Gau gesit en luister, maar hy het nie heeltemal verstaan wat Oupa Gau bedoel het nie. Hoe kon ’n eenvoudige gebaar werklik vrede bring? Was dit nie net ’n mooi verhaal nie? het Kuri homself afgevra.
Toe oupa Gau vir Kuri aan die einde van die seremonie beveel om sy eerste taak as man uit te voer naamlik om ’n stukkie heuning vir die groep te gaan soek, het die woorde van sy Oumagrootjie: “Ek bring nie gevaar nie. Ek bring my menswees,” aanhoudend in sy kop gemaal. Kuri moes, soos die gebruik vereis, alleen gaan om ’n stukkie heuning vir die groep te gaan soek.
Die skroeiende son hang alreeds hoog aan die blou hemel en die hittegolwe dans op die duine asof hulle die een of ander ritueel uitvoer.
Kuri volg die voetspore van die bye tot by ’n groot ou kameeldoringboom waar ’n kolonie wildebye se nes hang. Hy klim stadig en versigtig vir die geniepsige lang dorings in die boom op en haal uiteindelik ’n klein stuk heuningkoek uit. Toe hy egter besig is om van die boom af te klim nadat hy die heuning uitgehaal het, hoor hy ’n geluid soos ’n gemsbok wat weghardloop omdat hy vir iets of iemand geskrik het.
Dan gewaar hy hom. Net ’n paar tree van hom af staan ’n vreemde jagter met sy boog klaar gespan en reg op hom gerig. Kuri herken hom nie; dit moet iemand wees van ’n groep wat noord van hulle woon.
Ouma Uma se gesig doem skielik glashelder in Kuri se gedagtes op en hy hoor haar sê: “Groet die wêreld eers met jou hart, dan sal die wêreld jou nie as ’n dier sien nie.”
Kuri kyk die vreemde jagter aan met ’n sagte trek in sy oë terwyl hy sy regterhand stadig op sy hart plaas. Hy kan voel hoe sy hart benoud onder sy vingers klop.
Die vreemde jagter bly roerloos staan met sy oë emosieloos op Kuri vasgenael. Die oomblik voel vir Kuri soos ’n ewigheid. Hierdie is mos vir jou ’n bewys dat ouma Uma se groet met die hand op die hart niks beteken nie, dink hy byna hardop. Sy gedagtes was skaars koud toe die vreemde jagter sy boog laat sak en die aggressie in sy oë tot kalmte verander. Hy herken die gebaar van die groet met die hand op die hart. Hy buk vooroor en sit sy boog op die grond neer, waarna hy orent kom en sy regterhand ook op sy hart plaas.
Kuri en die vreemde jagter glimlag woordeloos vir mekaar en buig met ’n sagte klik van die tong vooroor. Geen woorde word geuiter nie. Twee mense, twee harte, onder dieselfde skroeiende Kalahari-son.
Die vreemde jagter stap ’n paar tree terug, dan draai hy stadig om, glimlag vir Kuri en verdwyn oor die duine.
Teen sononder kom Kuri taamlik uitgeput by die kamp van sy mense aan. Die groep sit om die vuur. Hy plaas die heuning voor Oupa Gau neer en kyk hom apologeties in die oë. Dan sê hy skaam en verleë op gedempte toon: “Oupa Gau, ek verstaan nou dat die groet met my hand op my hart beteken: “Ek bring nie gevaar nie …. Ek bring my menswees … Hier is my hart, jy kan dit sien … Ek kom sonder skadu’s …”
————————————————ooOoo————————————–
©Pieter Mostert
Bronne
• Barnard, A. 1992. Hunters and Herders of Southern Africa: A Comparative Ethnography of the Khoisan Peoples. Cambridge: Cambridge University Press.
• Lee, R.B. 1979. The !Kung San: Men, Women and Work in a Foraging Society. Cambridge, MA: Harvard University Press.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed