Die jaar se laaste lig
Die jaar se laaste lig
Die jaar se uurglas loop uit;
die druppels teen die ruit
glinster soos my gemoed,
met ‘n storm wat in my binnetuin woed.
Dae en maande is inmekaar geweef,
soos ‘n lugballon wat oor lappieslande sweef.
Soms het die son helder geskyn,
soms was donker wolke met ‘n goue randjie omlyn.
Die val, die swart wiele, was my donker draaie,
alleen tussen hartseer se blaaie.
Die familie besoeke was die goue randjie
die strooi van geluk se fyn saadjie.
En toe … toe is hulle weer weg
Ek ruk my reg; ek moet net herstel.
Ons gesels vrolik, wanneer hulle bel.
Babbel oor kleinkinders wat mekaar leer ken,
oor kleinsus wat trots die tennis wen.
En dan … dan val ek weer
slegter as die vorige keer.
Die donder steek op,
my lewe word totaal omgedop.
Ek spartel met verlange en heimwee;
ek worstel met my God se “beplande” weë.
Maar die mense om my
het hul tyd en aandag aan my gewy.
Ek woeker en werk tuis
in my warm, snoesige huis.
My aandag word afgelei
wanneer ek my middae aan ‘n oefenprogram wy.
En nou … nou skree die feesseisoen uit elke winkel.
As winterslaap maar net oor my kan vou,
tot die nuwe jaar se sagte dou
… op my val
en die ou jaar se klokke knal.
Want … my mense is vêr …
Maar jy … jy bly nog aan my sy!
Christa Diederiks ©
3 Kommentare
-

Marlene Erasmus
Pragtig Christa! Ek hoor jou HART in hierdie skrywe ...
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek