Jongste aktiwiteit:

Gee en neem ooreenkoms

Die eerste koel oggend van Maart ontvou stil oor die rooi sand van die Kalahariwoestyn. Die aanvangs van die herfs is binne die denke van die Boesmans in die Kalahari gekenmerk as die tyd wanneer die wind stadig begin draai, soos ’n ou storie wat weer onthou word. Die son hang soos ’n bloedrooi oog laag bokant die duine en sprei sy strale vleiend oor die duine.

Buks Appelblaar sit op sy hurke onder ’n Kameeldoringboom in die duineveld. Hy wag vir Pieter. Hulle het mekaar ’n jaar laas gesien en hy en Pieter het afgespreek om mekaar daar te ontmoet.

Buks sit en staar na die duine met bewondering in sy oë. Voor hom op die sand lê sy pylkoker, boog en ’n velsak wat hy met hom saamdra tydens jagtogte. Hy is besig om die inhoud van die velsak uit te pak toe Pieter aangestap kom. Buks glimlag breed, staan van sy hurke af op en groet Pieter hartlik op die tradisionele wyse van die hand op die hart.

“Goeiemôre Buks,” sê Pieter. “Wat gaan jy my vandag leer, my vriend?” Dan sien Pieter die velsak wat voor Buks in die sand lê en vra ewe verbaas: “Hoekom pak jy jou sak uit? Gaan jou mense vandag trek na ’n ander plek in die duineveld?”

Buks glimlag terwyl hy sê: “Onse Boese’mense ons trek altyd, Pieter, myse groot vriend, maar vandag onse mense ons trek nie oor die grond nie. Vandag onse mense trek deur by die jaar.”

Pieter kyk Buks fronsend aan.

“Dit is Maart, myse groot vriend,” sê Buks. “Dit is mos die tyd wanneer julle se mense daar by die dorpe julle se kas begin om te regpak. Onthou jy dan nie ek het laaste jaar sy tyd saam met jou en Johan gepraat om te regpak sy pa se kas nie?”

“Ja, ek onthou,” sê Pieter terwyl hy om hom rondkyk. Al wat hy sien is die saggolwende duineveld wat uitgestrek lê sovêr jy kan sien en die uitgestrekte nostalgie van die Kalahariwoestyn.

“Waar is die Kalahari se kas, Buks?” vra Pieter. “Die meeste van julle Boese’mense weet nie eers wat ’n kas is nie.”

Buks lag uit sy maag van lekkerkry oor Pieter se onkunde. Dan sê hy op ’n ernstige noot:
“Onse Kalahariland het hom baie kaste, my groot vriend.” Buks beduie met sy hande. “Die lug het hom een kas. Die veld het hom een kas. Ok, die mense syse hart het hom die kas.”

Buks tel ’n droë kameeldoringpeul op wat die wind aangewaai het. Die peul kraak tussen sy vingers en die saadjies val in die sand. “Wanneer die warm maande verby loop,” sê hy, “begin onse Kalahariland om te besluit wat moet bly en wat moet loop gaan.”

“Vertel my van jou Kalahariland se kas, Buks,” sê Pieter belangstellend.

Buks kyk op na die wolklose blou lug bokant hulle. Hy bly lank stil, so asof hy wag vir die regte storie om vir Pieter te vertel.

“Pieter, myse groot vriend, Lank … lank … sy tyd voor ek en jy het gebore, toe onse Kalahari was hom nog jonk,” begin Buks. “Naoea Hy het onse Kalahariland gamaak soos die huis daar by jouse dorp met die baie kamers. Elleke kamer hy het syse eie kas gehad. By die een kas Naoea Hy het hom die somer gebêre saam met warm winde, die lang dage en die donder weer sy storms. In ’n ander kas het Hy die winter gehou; koue nagte en stil sterre.”

“En herfs?” vra Pieter, Waar het Naoea die herfs gebêre?

“Herfs, myse groot vriend,” sê Buks, “is die tyd wanneer Naoea tussen by die kaste stap.”
Die wind roer liggies deur die gras van die duineveld, so asof hy vir Buks die storie fluister.
“Naoea Hy oopmaak die deur van die somer syse kas,” sê Buks, “en Naoea Hy kyk hom wat nog is om te gebruik. Die sterk sade van die Kameeldoringboom hulle bly. Die sterk diere by die dyne en die dyn se veld hulle allemal bly, maar daari diere wat hom het moeg geword het, hulle word uitgegooi. Jy sien,Pieter, myse groot vriend, soos jy kyk hom by die dyn se veld, jy sien hom die gras hy word geel”

“Die veld maak plek,” sê Buks. “As alles bly soos dit was, kan hom niks nuuts groei nie.”
’n Klein trop gemsbokke beweeg oor die duine.

Buks kyk na hulle en beduie met sy hande. “Kyk hom daari gemsbokke hulle ok weet om te loop saam met die kas van die seisesoene. Wanneer die veld sy ou klere uittrek, hulle ok uittrek hulle se ou klere.”

“En julle Boese’mense hier by die Kalahari , Buks, hoe maak julle mense?” vra Pieter.

“Die mense hullle sukkel hom meer, my groot vriend.” Buks begin, sonder om ’n woord verder te sê, om stadig van die goed wat hy uitgepak het voordat Pieter gearriveer het, in sy velsakkie terug te pak.

Pieter kyk Buks weer fronsend aan terwyl hy by homself dink. Hierdie Buks Appelblaar is darem maar vol verrassende wyshede. Net wanneer ek dink ek het nou van al sy wyshede geleer, dan veras hy my met ’n nuwe storie.

Dan sê Buks sonder om op te kyk. “Pieter, onse Boese’mense hulle hou hom van baie dinge. Onse Boese’mense hulle hou hom van die herinneringe, van die spore en ok van die ou stories. Die mense hulle sit daari dinge alles binnekant by hulle se hart se kas, maar sos die jaar hy loop by die seisesoene, daari kas hy raak hom te vol.”

“Wat gebeur dan, Buks?” vra Pieter.

“Dan kan hom die wind nie meer deur by die mens waai nie.”

Pieter, kyk Buks weer fronsend aan. Dan sê hy: “Buks, my vriend, vandag verstaan ek jou nie. Hoe kan die wind deur ’n mens waai?”

Buks lag heerlik vir Pieter en sê dan ewe filosofies: “Die wind van verandering, myse groot vriend. Die wind van die nuwe dae by jou en myse lewe.” Hy wys na die duine. “Het jy al gesien hoe ’n duin beweeg, Pieter?”

Pieter kyk na die duine. Hy sien hoe die wind derduisende sand-sekeltjies ordelik skakeer in die duine.

“Jy sien hom die sand, myse groot vriend? Die sand hy lyk vas,” sê Buks, “maar soos elleke jaar loop by die seisesoene daai dyne hulle skuif hom ’n bietjie. As die dyn nie beweeg nie, word dit klip. En die klip hy kan nie meer dans saam met die wind nie. As onse Kalahariland sy kas skoonmaak, wat doen ons, Pieter, myse groot vriend?”

Buks staan stadig van sy hurke af op. Hy is nie meer ’n jong man nie. Sy knieë kraak soos droë kameeldoringtakke.“Ons doen dieselfde, myse groot vriend,” sê hy terwyl hulle begin terugstap kamp toe.

Soos wat hulle deur die duineveld stap, wys Buks vir Pieter klein tekens uit, wat soos Buks dit stel, jy net kan sien as jy die boek van die duineveld geleer het. Hy gaan sit op sy hurke en wys met sy vinger na fyn spoortjies in die sand. “Hier,” sê hy, “het die mierleeu uit sy gat gekom om te nuwe plek te soek om te maak die nuwe gat. Die grond is nou te droog.”

Pieter wat langs Buks kniel moet mooi kyk voordat hy die spoortjies sien.

Hulle stap in stilte verder. Buks gaan staan en beduie na ’n ou Kameeldoringboom met een groot tak wat amper op die grond hang. Dit lyk kompleet asof die pragtige ou boom van balans af is.
“Hierdie tak,” sê Buks, “sal binnekort val. Die boom hy weet hy kan nie alles dra nie.

Buks gaan sit op die laaghangende tak van die ou Kameeldoringboom en maak sy velsak oop. Sy jagtoerusting was eenvoudig, maar diep intelligent ontwerp. Hy het nie op oorvloed staatgemaak nie, maar op kennis, vaardigheid en ’n noue verhouding met die natuur. Sy werklike krag het nie in wat hy gedra het gelê nie, maar in wat hy geweet het.

Hy pak die inhoud in netjiese rye. Dit is twee pylpunte, ’n kalbas, twee stokkies wat hy gebruik het om die vuur mee aan te steek, ’n knipmes wat Pieter lank gelede vir hom as geskenk gegee het; en twee vlakvarktande. “Die herfswind kom, myse groot vriend,” sê hy. “Ons moet kyk wat ons dra.”

Buks gaan staan op sy knieë in die sand, grawe ’n gat met sy hande in die rooi sand van die Kalahari en gooi die een pylpunt in die gat daarna die twee vlakvarktande en die kalbas wat oopgebars het van die jare se gebruik om water te hou. Dan pak hy een pylpunt, die knipmes en die twee stokkies terug in sy velsak en stoot die gat weer toe met die sand.

Buks staan van sy knieë af op en kyk vir Pieter. “Ek gee hom dit terug vir onse Kalahariland, wat ek het hom gevat en nie meer gebruik nie. Môre ek sal hom weer vat die nuwe goeters.

Pieter, myse groot vriend, onse Kalahariland hy het hom die groot kas,” sê Buks. “Jy moet hom weet hoe om ou dinge binnekant by die sand terug te bêre totdat hulle weer iets nuuts kan word. Onse Kalahariland, hy gee … Onse mense, ons vat by onse Kalahariland … Onse mense hulle gee hom terug by onse Kalahariland … ”

Pieter sit sy arm om Buks se skouers en kyk hoe die wind oor die ylgesaaide geel gras van die duineveld waai. Dan vra hy, “Buks, het jy alles wat jy móét onder die sand toegegooi?”

Buks tuur oor die duineveld, dan sê hy met trane in sy oë: “Nee, Pieter, myse groot vriend, ek het hom die seer by myse hart gelos.”

Pieter sluk swaar aan die knop in sy keel, dan vra hy: “Watter hartseer, Buks, my ou vriend?”

“Myse hart hy is seer, myse groot vriend. Dit is hom die groot seer,” sê hy, “te groot vir bêre by die sand by hieri seisesoen. .

————————————————-oooOooo——————————————–
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1674]




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed