Inversie-mooi
Duisend gisters het verby gegaan;
steeds herroep ek haar naam.
Inversie-mooi haar lewe geplooi;
tydmaat die dood se mooi.
Alleen agter gelaat, het sy my lewe;
ontrustendheid eensaamheid my gegewe.
Waarom Heer, hierdie seer?
Lentes, somers, herfs, winters;
verby gegaan ’n duisend gisters.
Steeds vul haar parfuum my luggang,
voel ek nog klam haar kus op my wang,
sien haar kunswerk in elk’ vertrek,
hoor die wind van haar asem my nader trek.
proe ek nog die nektar van haar lippe teer-sag
‘my liefling ek sal vir jou wag’
Moet ek nou aanvaar, sy is nie meer daar;
uitgeloop het die lewensseisoene vir haar.
Sal U o Heer, ook in my laaste dae ontplooi,
my lewe uit die dood inversie-mooi?
——-oo00oo——-
©Pieter Mostert [Nota: Inversie = die omkering van woordorde. Dus is my redenasie: As jy die dood omkeer kry jy lewe – net God kan die dood omkeer in lewe.]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2026 - OOP projek