Jongste aktiwiteit:

Genadige Ongenadige Groen

Ek het ʼn wilde daggaplant in my tuin en ja, dis ʼn wettige plant by ʼn kwekery in die dorp gekoop. Dit dra die mooiste trosse geel blomme. Die hoogtepunt is wanneer ek hom hoor roep; sy fladdering wanneer hy van tak tot tak spring. Dίs wanneer ek weet die suikerbekkie is in my voortuin. Ek loer deur die venster en sien hoe die sonstrale op sy neonkleurige groen bors en vlerke dans. Die mooiste mooiste groen bling-bling… Groen het ʼn psigologiese uitwerking van kalmte, balans en verfrissing op die mens.

Wil jy ʼn gesonde dieet volg, is ‘groen’ die oplossing. Groen blare bevat allerhande vitamines, vesel en yster wat help vir enigiets van inflammasie tot kanker. Die gebruik van groen energie: solar, wind en water word in die plek van fossielbrandstof aangemoedig. Dit verlaag die impak op die omgewing, veroorsaak volhoubaarheid, verhoed die groenhuis-effek wat koolstofdioksied in die hemelruim vashou en klimaatsverandering veroorsaak.

Die Bybel verwys na die kleur groen as lewe, heling, voorspoed, vrede, ʼn nuwe begin, gesondheid, voorsiening: “Hy laat my neerlê in groen weivelde”. Die regverdige word beskryf as “ʼn groen olyfboom” en in Genesis word na groen plante verwys as kos vir mens en dier. Ongelukkig het ons na geld ook begin verwys as “groen”, maar darem ook met goeie rede. In die middel van die 1800’s moes die drukkers gebruik maak van “patent groen” wat nie maklik kon verbleik of disintegreer nie. Tot ons moderne tegnologie is groen: moenie probeer om die groen kragdraad, die beskermende grondkonneksie, by ʼn ander installasie punt probeer indruk nie; ʼn konneksie met die grond sal jou voorland wees.

So het alles wat positief is mos maar altyd ʼn negatiewe hegting? Ek hou van groen en dit maak my volgens sekere studies kwansuis besitlik, jaloers, veroordelend, materialisties en gierig. Aan die anderkant van die muntstuk is ek blykbaar positief, prakties, kalm, analities, vrygewig en ʼn vredemaker. Darem het ek nou iets om met die sielkundige te bespreek.

Maria Salomea Sklodowska is in die laat 1800’s in Poland gebore. Sy was nie toegelaat om te gaan studeer nie, want die Russe het lykmy in dié tyd ʼn vrou beskou as net ʼn bewegende baarmoeder. In Frankryk kon sy haar droom bewaarheid en ʼn graad in Wetenskap en Chemie verwerf. Ons het haar as Marié Curie leer ken, die eerste vrou wat nie net een, maar twee Nobelpryse gewen het. Die kernwetenskap en dit wat daaruit sou voortvloei, was haar spesialiteit na haar ontdekking van die teenwoordigheid van radium en polonium in sekere rotsformasies. Radioaktiwiteit word gekenmerk deur die mooiste, vibrante, gloeiende intense groen en oranje kleure. Klipmonsters kon groen gloei in die donker as gevolg van radium en uranium, vasgevang in miljoene jare se kristalelektrone. Omdat die groen florensiese kleur en die gloed daarmee saam vir haar so mooi was, het sy skynbaar die klipmonsters saam haar begin dra. Ek sou ook!

Dan kom die groen monster te voorskyn. Kontak met hierdie prag pigmente asook die gas wat dit afgee is dodelik. Marié sou dit eerste aan die verharde blase en diep brandwonde aan haar hande voel. Rooi brandmerke is ook oor haar hele liggaam opgemerk en sy het ʼn onverklaarbare beenmurgsiekte ontwikkel wat waarskynlik ook silikose in haar longe veroorsaak het. Haar liefde vir haar werk en onwetende blootstelling aan X-strale het tot haar dood op die ouderdom van ses en sestig gelei. In die jare wat volg en in die wete hoe gevaarlik die groen skynsel is, kan navorsers vandag net haar notas lees indien hulle van kop tot tone bedek is.

Die blare van plante deur die eeue heen is gebruik om kledingstukke en ander artikels te kleur. Borrie vir geel, avokadopitte vir rooi of pienk, rooi kool vir blou of pers, bloekomolie vir groen of bruin. Vrouens het mos maar ʼn dodelike liefde vir modes. ‘Groen’ in die Victoriaanse tyd het die kleur van die tyd geword, maar die groen kleur uit plantmengsels was net eenvoudig nie mooi genoeg nie. Die kleur moes diep en glinsterend wees; iets waarna jy wίl kyk. So word daar toe geëksperimenteer met metale om die beste effek te kry. Die byvoeging van koper poeier by arseen het die skitter effek veroorsaak. Later word meer arseen in die mengsel gegooi wat die groen nóg helderder maak. Daai wye rokke! ʼn Rok met soveel lengte en wydte het ongeveer twintig meter materiaal benodig… en negehonderd korrels arseen.  Dit terwyl minder as drie druppels arseen jou dood kan veroorsaak!

Die fantastiese kleur is ook nie tot rokke beperk nie, maar baie huise is ook gemoderniseer met die blinkgroen muurpapier. Blinkgroen speelgoed word ʼn topverkoper! Die kleur is tot gebruik in Disneyland se animasie van ‘Snow White’. Fabrieke en fabriekswerkers het as gevolg van die hoë aanvraag toegeneem en werkers het voor groot gasstowe en groot potte vol groen mengsel gestaan en roer-roer. Hulle gesigte en hande was vol groen arseen en koperdampe van die dodelike, kokende mengsel wat ook hulle sinuskanale en lugpype gevul het. Die dood steur hom mos nie aan modes nie en so word fabriekswerkers, die rokdraers (later bekend as die arseendraers), kinders wat speel en mense met groen muurpapier dodelik siek. Veluitslag, naelverkleuring, knoppe op die vel breek binne twee tot vier en twintig uur na blootstelling uit. Maagwerkings, swakheid, moeilike asemhaling, nier- en lewer disfunksie en die vernietiging van rooibloedselle (ons suurstofdraers), as simptome. Hierdie ‘Groendood’ statussimbool sou aanhou tot aan die begin van die twintigste eeu.

Ag, kom ons bly liewer by die groen wat ons plesier verskaf: gesondheid, lente, herlewing, groen verkeersligte wat almal veilig hou en die groen weivelde van rus.

Mag JOU kant van die draad altyd GROEN wees…




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed