Die lewe op Mosbos Goud 377 woorde
Liewe dagboek. Vandag is dag 5 van ons nuwe lewe. Klawerbos is nou net ‘n ashoop. Ons moes vlug. Skielik. Oornag. Mamma het al ons klere in ‘n streepsak geprop terwyl pappa die belangrikste meubelstukke op Oom Koos se ou sleepblaar moes laai. Die stropers het oornag verskyn. Groot geel gevaartes wat dreigend neffens die heining saamgedrom het. Ons het net betyds uit Klawerbos ontsnap.
Mamma sê ons was gelukkig. Hier in Mosbos is nog pragtige oop spelonke. Ons het die grootste spelonk gekry. Oom Koos bly al tien dae hier. Spinnie Kop het vir hom die mooiste gordyne vir sy vensters gespin. Hy bly in die dakkamer van oom Koos se spelonk. Ons is bietjie bang vir Spinnie maar Oom Koos ken hom al baie jare. Dit is hulle wat al die Klawerbosse hiernatoe help trek het.
Mosbos is op ‘n eiland in die middel van Groot Brakfontein. Ons kon met die hulp van ‘n rietbrug maklik oor die fontein na die eiland kom. Hier groei die varings dig. Die grond is klam en plek-plek vorm daar dik mostapyte. Fyn druppels hang aan die varingblare. Die spelonke is almal in ‘n oopte in die middel van die eiland. Oom Koos sê dis die veiligste plek om te wees. Die son skyn lekker warm hier. Hier is ook volop bessies en sappige eintjies. Mosbos is nou ons nuwe tuiste.
Liewe dagboek. Dit is dag 7 van ons lewe hier op Mosbos. Mamma het gesê ek kan die plek gaan verken. Hier groei Malvaklappers teen die fontein se oewer. Mamma het vir ons die heerlikste slaai daarmee gemaak. Ek het vandag op ‘n bos roesbessies afgekom. Pappa gaan baie bly wees. Roesbessie bier is heerlik op ‘n warm dag. Ek het ook die skoonste rooiklei hier opgegrawe. Vandag gaan ek en mamma die spelonk inrig met kleitafels, rakke en stoeltjies. Daar is oorgenoeg klei vir die hele Mosbos.
***
Liewe dagboek. Dag 300. Mosbos het gegroei. Dit is defnitief ons Eden. Die somers is heerlik warm en die winter net koud genoeg om ‘n warm donsveerjas oor jou skouers te dra. Hier het die oulikste mannemarakseun langs ons ingetrek. Hy het koringblomblou oë. Sy vlerke is goudkleurig. Mamma sê Mosbos het vir ons almal ‘n nuwe toekoms gebring.
© Amanda de Meillon
*Die verhaal gaan oor die verhuising van die feetjie-gesin na Mosbos
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.