Jongste aktiwiteit:

Hoe Kij-Kij sy naam gekry het

Buks Appelblaar, en Pieter, sit oudergewoonte by sy vuurtjie op ’n stomp van ’n ou kameeldoringboom. Die vuur is byna uitgebrand, net daardie diep rooi kole loer nog soos gloeiende oë in die donker vir hulle. Die stilte van die nag omhels hulle.
Pieter kyk op na die naghemel wat wyd uitgestrek in ’n onbeskryflike sterreprag bokant hulle lê. Dit lyk kompleet asof iemand ’n sak sout oor die hemel uitgestrooi het.

So wyd soos die Heer se genade lê die Kalahari in sterre en skade …, dink Pieter.
“Jy weet, Pieter, myse groot vriend,” breek Buks se stem die stilte terwyl hy ’n stomp op die kole gooi. “Jy ken hom mos vir die Kij-Kij?”

“Ja Buks, praat jy van daardie watergat in die Kgalagadi?”

“Ja, die mense hulle vertel hom baie stories oor die Kij-Kij. Die mense hulle sê Kij-Kij dit beteken hom die groot-groot. Ander mense hulle sê Kij-Kij is hom die ou Nama-woord hulle het hom lankal vergeet. Maar my oupa hy het hom die anner storie vertel.”

Pieter is die ene ore en skuif nader aan Buks, so al asof hy bang is hy mis iets. “Watse storie, Buks?”

Buks glimlag van oor tot oor, en begin stadig met ’n sagte stem praat, soos iemand wat die stof van baie jare se herinnering afblaas. “Dit is hom die storie van die twee broers.”

“L-a-n-k l-a-n-k sy tyd, voor daar was hom die draadheinings by die plase en voor daar was hom die pad wat deur by onse Kalahariland het hom geloop.

L-a-n-k voor die mense hulle het van ver af gekom om die leeus en die gemsbokke by die Kgalagadi te kom hom kyk, daar was twee San-broers wat saam met hulle se mense, by die rooi dyne gebly het. Die een broer syse naam was hom die Kij. Die anner broer syse naam was hom ook die Kij.”

Pieter kyk Buks fronsend aan.

“Ja, myse groot vriend, ek weet dit klink hom snaaks, maar by daardie tyd die ou Boese’mense hulle het hom geglo dat twee kinders wat onner by dieselfde maan gebore word, hulle moet hom dieselfde naam dra. Om hulle uitmekaar te ken het hulle die een broer Groot-Kij en die ander broer Klein-Kij genoem. Jy roep hulle die tweeweling, by jouse taal, my groot vriend.”

Groot-Kij en Klein-Kij hulle het hom altyd saam geloop. Waar die een hy het gestap, die ander een hy het hom gevolg. Waar die een hy het hom gejag, die ander een hy het hom gelees syse spore. Soos die een hy het gelag, die ander een hy het hom saam gelag. Die mense hulle het later begin sê: Daar gaan hom die Kij-Kij. En so het die naam Kij-Kij by die mense se kop vasgesteek.”

“En toe Buks, wat het verder gebeur? Hoe loop die storie verder?”

“Toe, myse groot vriend, kom hom die groot droogte.”

Buks tuur in die rigting van die duineveld en sê saggies, amper asof hy besig is om met homself te praat. “Vir drie jaar die wolke hulle het hom oor by onse Kalahariland verby getrek sonnor om te gee ons die reën. Die gras het gegaan hom dood. Die panne het geword hom wit. Die kameel sy doringbome hulle se blare het a-l-l-e-m-a-l geval. Die springbokke en die gemsbokke ok a-l-l-e-m-a-l die diere hier by onse Kalahariland hulle het begin om te trek. Die ou mense hulle het hom geweet die land was besig om te gaan hom dood.”

Pieter het na die donkerte rondom die kamp gekyk. Dit is maklik om só iets in die Kalahari te glo, dink hy.

Na ’n lang stilte tussen hulle gaan Buks voort met sy vertelling.

“Op ’n dag het die stam se sjamaan ’n droom gehad. Binnekant by syse droom hy het hom gesien die groot wit gemsbok. Daari wit gemsbok hy het gesê: Die duine hulle hou hom nog die water binnekant by syse hart, maar iemand moet loop om te daari water te gaan hom soek.”

“Die volgende oggend die twee broers hulle het hom opgestaan vroeg. Ons sal gaan hom soek die water, hulle het gesê.”

“Die stamhoof hy het gesê by Kij en Kij. Julle moet nie loop by die woestyn nie. Die dyne is groot en die son hy brand seer. Julle sal gaan hom dood by die woestyn. Maar Kij en Kij hulle het geloop hom v-e-r v-e-r agter verby die hoog dyn by die woestyn. Dag by dag. Op en af by die dyne. Hulle het geloop net saam met hulle se boog, hulle se pyle en twee eiers van die vollestruis wat hom die water dra.”
“By die vyfde dag, hulle se water was hom klaar. Hulle se lippe was gebars. Hulle se oge was hom dof. Hulle was hom baie moeg gewees. Toe hulle sien hom die wit gemsbok hy staan bo by die hoog dyn en hy kyk by Kij en Kij. Die son het soos die goud by syse horings geskyn.”

“Daari wit gemsbok hy het omgedraai en stadig weggehardloop. Kij en Kij hulle het gevolg hom tot diep in by die woestyn. Toe daari wit gemsbok hy trap die diep spoor met syse voorpoot by die sand. Een keer. Twee keer. Drie keer, en toe hy hardloop hom vinnig weg.”

“Die broers het hom gegrawe by die sand waar daari gemsbok hy het syse voetspoor gelos by die sand. Soos die gat het hom geword dieper, die sand het hom geword koud. Die grond het geword hom nat. Toe, net voor by die middag hulle het hom die helder skoon water gekry.”

Pieter glimlag. “Ek neem aan die stam was gered, Buks?”

Buks glimlag geheimsinnig. “Nie so vinnig nie myse groot vriend,” sê hy. “Onse Kalahariland hy gee homse goeie goete nie maklik weg nie.”

“Daardie aand het Kij en Kij by die nuwe watergat geslaap. Diep by die nag hulle hoor hom die groot leeu by die watergat brul. Daari leeu was hom groter as enige leeu hulle het hom nog gesien en syse maanhare was hom lank en swart soos die nag. Die leeu hy het nie aangeval nie. Hy het net gekyk. Toe hy praat saam met Kij en Kij.”

Pieter kyk Buks aan met ’n glimlag. “Glo jy dit regtig, Buks?”

Ja, Pieter myse groot vriend, by die ou-ou tyd sy stories, die diere hulle het saam met die mense gepraat. Daari groot leeu hy het by Kij en Kij gesê: Hierdie water behoort nie aan die mense alleen nie. Dit behoort aan allemal wat hom die asem haal wat hom bly hier by onse Kalahariland.
Die broers het hul by hulle se kniege by die sand gestaan voor by die groot leeu en hulle se koppe gebuig. Ons verstaan, hulle het by daari leeu gesê. Toe daari leeu hy het vir hulle gesê: As julle bly by hierdie belofte, julle sal sien die water hy sal altyd vloei. Toe die leeu hy loop oor by die hoog dyn na die dyn se veld.”

“By die volgende dag Kij en Kij hulle het terug geloop by hulle se mense. Die mense hulle het saam met Kij en Kij gevolg na die nuwe water. Die kinders het gedrink. Die ou mense hulle het gedrink. En almal hulle het geleef.”

Kij en Kij hulle het hom die leeu se woorde onthou.”
“A-l-l-e-m-a-l die mense hulle het gedeel hom die water met die diere. Wanneer die gemsbokke hulle het gekom, niemand het gejag nie. Wanneer die wildebeeste het gedrink, die mense hulle het hom gewag. Wanneer die leeus hulle het hom gekom, a-l-l-e-m-a-l die mense het gestaan hom terug. Soos daari groot leeu hy het by Kij en Kij gesê die water het hom nooit opgedroog nie.”

“Later by die jare,” het Buks voortgegaan, “Kij en Kij het hom geword oud. Baie oud. Toe die een Kij hy gaan hom dood, die ander een het hom gesit baie dae by die watergat. Die mense hulle het gehoor hy praat saam met iemand. Maar daar was niemand by hom nie. Die mense hulle het gesê hy het saam met syse broer se gees gepraat.”

“By die vyfde dag hy het hom opgestaan en gesê: Ek en myse broer ons sal hom altyd saam wees. Daari nag hy het ok gegaan hom dood.”

Vir ‘n rukkie is daar net stilte tussen Pieter en Buks. Die soort stilte wat net in die Kalahari bestaan. Ver bo hulle vloei die Melkweg soos ’n silwer rivier deur die hemel. Toe vra Pieter: “En toe Buks, wat het toe verder gebeur?”

Terwyl Buks opkyk na die sterre, sê hy: “Toe die mense hulle het besluit om die watergat Kij-Kij te noem, om te herinnering aan die twee broers wat gekry het die water.

Skielik, iewers in die donker buite die ligkring van die vuur, hoor hulle die sagte gesnuif van ’n gemsbok.

Buks glimlag. “Pieter, myse groot vriend,” fluister hy. “Miskien dit is hom die ou wit gemsbok wat nog hou hom die wag oor by Kij-Kij.”
———————————oooOooo———————————
©Pieter Mostert
[Aantal woorde = 1 498 ]

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed