Jongste aktiwiteit:

Net vier woorde

Ek parkeer in Elsa se oprit. Toe ek uitklim, val my oog op die tassie op die agterste sitplek van my Golf.

 

Vrydae drink Elsa en ek koffie in haar kombuis. Vandag het ek egter nie net vir koffie gekom nie.

 

’n Paar minute later sit ons oorkant mekaar aan die tafel.

 

“Daar is iets wat ek jou moet vertel,” sê ek.

 

“Hmmm?” Elsa kyk nie op van haar selfoon nie. Haar vingers gly stadig oor die skerm. Die lig daarvan skyn blou teen haar gesig.

 

“Ek luister,” sê sy.

 

Op die tafel tussen ons staan twee koffiekoppies en ’n bordjie met melktertkrummels. Buite skraap ’n tak teen die kombuisvenster. Dieselfde geluid oor en oor.

 

Ek vou my hande om die koppie. Die koffie is al koud, maar ek lig dit nogtans na my lippe. Net om iets te doen. Net om nie my hande op die tafel te laat lê waar sy dalk sal sien hoe hulle bewe nie.

 

“Ek en Johan het gisteraand weer baklei.”

 

Nou kyk sy skielik op.

 

“Ag nee. Waaroor dié keer?”

 

Dié keer?

 

Asof daar soveel kere was.

 

Ek kyk na Elsa se motorsleutels langs die suikerpot. Dit sou maklik wees om haar te vra om my na Marisa toe te neem. Ek het selfs ’n sak in my motor gepak: twee bloese, onderklere, my tandeborsel en die blou lêer met al my dokumente.

 

Ek het dit vroegoggend uit die huis gedra terwyl Johan nog geslaap het. Sy mond effens oop. Een hand onder die kussing, asof hy die onskuldige een was.

 

Die woorde lê swaar in my mond. Ek het die gesprek die hele nag geoefen. In die badkamer, met die kraan oop sodat Johan my nie hoor mompel nie. In die motor, op pad werk toe. Selfs toe ek voor Elsa se huis stilhou, het ek dit nog een keer hardop gesê.

 

Hy het my geslaan.

 

Vier woorde. Dit is maklik genoeg.

 

“Hy het …”

 

“Dis nog niks,” val Elsa my amper dadelik in die rede, sonder om regtig te luister.

 

Sy sit haar selfoon neer en skuif vorentoe.

 

“Kom, laat ek jou vertel wat Pieter aangevang het.”

 

Die woorde wat ek geoefen het, verdwyn onder hare.

 

Elsa praat van hul kredietkaart. Van die geld wat Pieter sonder haar medewete uitgegee het. Van die langnaweek by die see wat hulle nou sal moet kanselleer. Van die leuens wat hy vertel het toe sy hom gekonfronteer het.

 

“En toe sê hy dit was vir die motor,” sê sy. “Die motor! Dink hy ek weet nie wat ’n diens kos nie?”

 

Ek knik op die regte plekke.

 

Nou praat Elsa met haar hele lyf. Haar hande waai deur die lug. Haar mond trek skeef wanneer sy Pieter se stem probeer namaak. Sy was nog altyd so. Op skool al. As Elsa ’n storie vertel het, het die res van ons stil geluister. Nie omdat sy dit geëis het nie. Omdat sy elke voorval kon laat klink asof die wêreld daarvan moes weet.

 

“Kan jy dit glo?” vra sy uiteindelik.

 

“Nee,” sê ek.

 

“Ek sê vir jou, mans.”

 

Sy tel haar koffie op en trek ’n gesig toe sy proe hoe koud dit is.

 

“Maar wat wou jy sê?”

 

Vir ’n oomblik hoor ek weer Johan se stem van die vorige aand.

 

Kyk wat laat jy my doen.

 

Ek kyk na die dun rooi merk om my gewrig. Sy vingers het daar vasgeklem toe ek by hom wou verbykom. Vanoggend was dit pers. Ek het grimering daaroor gesmeer, maar die kleur het deurgeskyn.

 

Ek trek my mou laer af.

 

“Toemaar, dit was niks nie,” sê ek.

 

Op pad huis toe ry ek twee keer by die afdraai na Marisa verby.

 

Die sak op die agterste sitplek gly af toe ek draai. By die derde verkeerslig stuur Johan ’n boodskap.

 

Waar is jy?

 

Nog een volg voordat ek antwoord.

 

Ek het jammer gesê.

 

Toe:

 

Moenie vandag weer stories by almal loop vertel nie.

 

Ek tik dat ek by Elsa koffie gedrink het. Vee dit uit. Tik weer:

 

Ek is op pad huis toe.

 

Hy antwoord met ’n hartjie.

 

’n Hartjie!

 

Daardie aand haal ek die sak uit die motor en pak die klere stadig terug in die kas.

 

’n Week later probeer ek weer.

 

Ons staan in die gang by die werk. Die middagson lê in geel blokke op die teëls. Elsa wag dat die drukker haar dokumente uitspoeg. Ek hou ’n lêer teen my bors vas, al is daar niks daarin wat ek nodig het nie.

 

“Ek dink ek gaan vir ’n rukkie by my suster bly,” sê ek.

 

Elsa draai na my.

 

“Hoekom?”

 

Ek wag totdat die kollega wat by ons verbyloop, om die hoek verdwyn.

 

“Johan raak deesdae …”

 

“Jy weet ten minste waar jou man saans is,” sê sy.

 

Die drukker begin saggies dreun.

 

“Pieter het eergister eers ná twaalf opgedaag. Geen woord of oproep nie. Toe ek vra waar hy was, sê hy sy foon se battery was pap. Sy battery!” Sy lag bitter. “Dis nog niks, laat ek jou vertel.”

 

Die masjien spoeg die eerste bladsy uit.

 

Elsa vertel van die reuk van parfuum aan Pieter se hemp en die vrou se naam wat sy op sy foonskerm gesien het.

 

Ek probeer nog een keer praat.

 

“Elsa, ek is regtig bekommerd oor …”

 

“En ek is nie?” vra sy. “Ek lê wakker en wonder waar my man is.”

 

Ek word stil.

 

Sy tel haar bladsye op en stap weg terwyl sy nog praat.

 

Ek bly voor die masjien staan.

 

Die groen liggie flikker.

 

Gereed.

 

Maar ek is nie gereed nie.

 

Daardie middag bel ek Marisa.

 

“Jy het Sondag gesê jy wil met my praat,” sê sy. “Is alles reg daar by julle?”

 

Ek kyk deur die glasafskorting van my kantoor. Elsa sit by haar lessenaar met haar hand teen haar voorkop. Pieter het haar pas gebel. Ek kan aan haar gesig sien die gesprek het nie goed afgeloop nie.

 

“Alles is reg,” sê ek.

 

“Jy klink nie reg nie.”

 

“Ek is maar net moeg.”

 

Marisa bly stil.

 

My suster kan altyd aanvoel wanneer ek nie op ’n goeie plek is nie.

 

“Jy weet jy kan enige tyd hierheen kom.”

 

“Ek weet.”

 

Maar ek gaan nie.

 

Die dae daarna is Johan weer sy rustige self. Hy koop wegneemetes en sit vir my my gunstelingreeks aan. Toe ek ná ete my mou oplig om die skottelgoed te was, sien hy die kneusplek om my pols.

 

“Ek is jammer,” sê hy.

 

Hy raak liggies daaraan, asof hy die merk wil uitwis.

 

“Jy weet mos ek sal jou nooit doelbewus seermaak nie.”

 

Ek kyk na sy hand oor myne. Dieselfde vingers wat my hand so styf vasgedruk het dat ek nie meer gevoel in my duim gehad het nie.

 

“Jy moet net nie van my wegstap wanneer ek met jou praat nie,” voeg hy by.

 

Daar is altyd ’n “net” in sy sinne.

 

Ek moet net nie wegstap nie.

Ek moet hom net nie uittart nie.

Ek moet dinge net nie groter maak as wat dit is nie.

 

Later stuur Elsa ’n stemboodskap van vier minute lank. Pieter slaap in die spaarkamer. Sy weet nie hoe lank sy nog so kan aangaan nie.

 

Ek luister tot aan die einde.

 

Toe stuur ek terug:

 

Ek is hier as jy wil praat.

 

Sy antwoord met drie rooi hartjies.

 

Die derde keer bel ek haar uit die badkamer.

 

Dit is net ná elf. Johan het by ’n vriend gaan rugby kyk en teen tienuur tuisgekom. Ek kon aan sy manier van stap sien dat hy gedrink het. Eers was hy vrolik. Toe vra hy waarom Marisa my daardie middag gebel het.

 

“Sy is my suster,” het ek gesê.

 

“Dit antwoord nie my vraag nie.”

 

Ek het probeer verbykom. Hy het my arm gegryp.

 

Die badkamerdeur is nou gesluit. Ek sit op die vloer met my rug teen die bad. My asem jaag. Die mat onder my hand is nat waar ek ’n glas water omgestamp het.

 

Aan die ander kant stamp Johan met sy vuiste teen die hout.

 

“Maak oop.”

 

Ek druk Elsa se naam.

 

Sy antwoord ná die vierde lui.

 

“Nadia?”

 

“Elsa,” fluister ek. “Ek het jou nodig.”

 

“Nou?”

 

“Asseblief.”

 

Sy is vir ’n paar sekondes stil.

 

“Jy klink vreemd. Wat gaan aan?”

 

Die deur bewe onder nog ’n hou. ’n Stukkie wit verf spring van die kosyn af en val langs my knie.

 

“Johan is kwaad. Hy het gedrink en …”

 

Elsa sug.

 

“Dis nog niks. Pieter het vanaand gesê hy dink ons moet skei.”

 

Ek staar na die deurknop.

 

“Kan jy glo?” gaan sy aan. “Ná twee-en-twintig jaar. Hy sê ons maak mekaar nie meer gelukkig nie. Ek weet nie wat ek gaan doen nie.”

 

Die deurkosyn kraak.

 

“Elsa,” sê ek harder. “Luister asseblief.”

 

“Ek luister mos. Maar jy weet nie hoe dit voel wanneer jou hele huwelik uitmekaar val nie!”

 

Die deur spring ’n paar millimeter oop en ruk weer teen die slot.

 

“Ek moet gaan,” sê ek.

 

“Wag, ek is nog nie klaar nie.”

 

Ek druk die oproep dood.

 

Daarna gebeur alles in vinnige beelde.

 

Die slot wat uit die hout bars.

 

Johan se gesig, vreemd en bekend.

 

My skouer teen die wasbak.

 

Die smaak van bloed.

 

Die buurvrou se stem iewers buite.

 

Iemand wat sê die ambulans is op pad.

 

Toe niks.

 

Die volgende oggend word ek wakker in ’n hospitaalbed.

 

Die lig is te helder. ’n Masjien piep langs my. My linkeroog wil nie heeltemal oopgaan nie en elke asemteug skeur deur my borskas.

 

Marisa sit in die stoel by die venster. Haar hare is deurmekaar en haar trui is verkeerd om aan. Toe sy sien dat my oë oop is, spring sy so vinnig op dat die stoel agteroor val.

 

“Jy is wakker.”

 

Sy vat my hand, versigtig, asof ek gaan breek.

 

“Waar is Johan?”

 

Die vraag is uit voordat ek dit kan keer.

 

“Hulle het hom weggevat.”

 

Sy sê nie wie “hulle” is nie.

 

“Julle buurvrou het die polisie gebel. Sy het alles gehoor.”

 

Teen tienuur kom Elsa ingestap met ’n bos blomme wat te groot vir die klein kamer lyk. Haar oë is rooi gehuil. Sy hou die bos styf vas, asof sy nie weet wat anders om met haar hande te doen nie.

 

Marisa staan op.

 

“Ek gaan koffie haal,” sê sy.

 

Sy kyk lank na Elsa voordat sy uitstap.

 

Elsa sit die blomme op die kassie. Die plastiek ritsel hard in die kamer se stilte.

 

“Ek het jou ses keer gebel,” sê sy. “Toe antwoord jou suster.”

 

Ek kyk na die blomme. Lelies. Die reuk is soet en swaar.

 

“Hoekom het jy my nooit vertel nie?”

 

Ek kyk na haar.

 

Sy vee onder haar oë met die rugkant van haar hand.

 

“Ek sou jou mos gehelp het.”

 

Ek dink aan die koue koffie. Aan die motorsleutels langs die suikerpot. Aan die sak op my motor se agterste sitplek. Aan die drukker se groen liggie. Aan die telefoon teen my oor terwyl die badkamerdeur onder Johan se vuiste gekraak het.

 

“Ek het probeer,” sê ek.

 

Elsa se mond gaan effens oop.

 

“Nee,” sê sy. “Jy het nooit gesê dit is só erg nie.”

 

Ek kyk na haar hande in haar skoot. Sy draai haar trouring om en om.

 

“Ek het gesê ek het jou nodig.”

 

“Maar ek het gedink …” Sy sluk. “Pieter het pas gesê hy wil skei. Ek was deurmekaar.”

 

“Ek weet.”

 

“Jy moes net reguit gesê het.”

 

Ek maak my oë toe.

 

Net vier woorde.

 

Hy het my geslaan.

 

Ek het hulle geoefen. Ek het hulle gedra tot hulle te swaar was. Elke keer wanneer ek hulle wou neersit, het haar verhaal reeds ons hele gesprek gevul.

 

Elsa begin huil.

 

“Ek sal myself nooit vergewe nie.”

 

Ek hoor Marisa se voetstappe in die gang.

 

“Toemaar,” sê ek.

 

Elsa kyk op, hoopvol, asof ek haar pas vrygespreek het.

 

Ek draai my gesig na die venster. Buite beweeg die blare in die wind.

 

“Jy is reg,” sê ek. “Dit was seker nog niks.”

 

© Marlene Erasmus

29/07/2026

 

(1998 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed