Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Antie Koot in die hof

Deur Papillon
Datum gepubliseer: 28 November 2018 Aantal woorde: 1549 392 Kere gelees 7

‘Antie Koot hof toe’ basuin die plaaslike koerant van Dinsdag af al, op die voorblad nogal. Peste. Antie Koot wou nog altyd in die Koffiefontein koerant wees, maar nie vir dít nie. Sy word uitgekryt as ‘n krimineel. Die koerantmense weet nie hoe sy voel nie, gee ook nie om nie. Sy weet wel dat die mense in die straat agter haar staan. Hulle wéét van die problem…
Hierdie kleindogter van haar, Marcel, 14 jaar oud, moes nooit Antie Koot se verantwoordelikheid geword het nie. Sy was nog altyd net moeilikheid. Haar sleg dogter moes liewer die kind laat aanneem het, besef sy nou. Sy het so jammer gevoel vir die bloedjie toe sy gebore is, belowe sy sal haar net die beste gee. Die beste ouma vir haar wees in die wêreld. En nou gaan sy, wat Antie Koot is, dalk tronk toe. Oor sy die beste ouma wou wees.
Dis Donderdag. Antie Koot sit in ‘n wiegstoel en staar by die venter uit. Die stoep is vir oulaas blink gepolish. Sy’t gereël dat haar seun die plek verkoop en die honde vat as sy dalk moet tronk toe gaan. Sy bid maar dat die beker haar verby sal gaan. Sy het goed bedoel. Die prokureur sê sy kry dalk ‘n jaar. Wat gebeur alles in ‘n jaar? Teen daai tyd het Marcel seker al ‘n baby. Hoop maar haar ma kom haar haal Kaap toe.
Sy dink terug… hoe lank is dit nou? Ses maande? In Februarie, die sewentiende, het Marcel weggeraak. Missing. Niemand het haar nêrens gesien nie. Antie Koot was straat op en straat af. Oral gaan klop dwarsdeur daai nagmerrie nag. Marcel se ma gebel in die Kaap. Marcel se vriendinne gaan soek. Almal. Op facebook. Oral. Polisiestasie. Sy was net weg. Vir twee maande was Antie Koot in skok en angs en trane. Die ma ook. Toe sien iemand vir Marcel en stuur vir een van die vriendinne ‘n boodskap. Marcel was gesien in Margate. Saam met ‘n jong man. En sy het glad nie getraumatiseer gelyk nie. Glo tjips geëet en bier gedrink op die sypaadjie. Toe weet sy. Marcel is darem nie dood nie. Sy het saam met daai nikswerd Jaco weggeloop. En Jaco se ma-hulle het hom toe al 2 maande gelede weggestuur. Sou glo in die baai gaan werk. Almal het gedink Marcel en Jaco is uit.  Hy was in elk geval ‘n slegte invloed op haar kleindogter, sy weet dit.

Marcel het haar net so gelos, sonder om iets te sê, verdwyn, en gaan kerjakker vir twee maande. Sou seker nooit self huis toe gekom het nie. Maar toe was haar jol klaar. Die polisie het haar gaan soek en teruggebring.
Sewentien April. Presies twee maande. Toe bring hulle haar hier aan. Antie Koot was so kwaad… en verlig… en woedend…
Toe die polisie haar aflaai en sy by die deur instap, het Antie Koot haar verdomp ‘n pak slae van haar lewe gegee. Sommer met die elektriese draad van die ketel. Antie Koot was nog nooit so kwaad nie. Sy was so bekommerd, en het so gehuil. Sy het al die spanning van die laaste twee maande op die kind uitgehaal.
Maar twee dae later, het hulle haar kom arresteer. Marcel het haar aangekla van kindermishandeling. Sy was ‘n kind toe sy pak slae kry, maar ‘n groot mens toe sy saam Jaco weggeloop en by hom gaan bly het.   Kindermishandeling oor ‘n paar blou hale… ‘n Goeie goeie pak slae het niemand nog kwaad gedoen nie. Dis daai sleg Jaco wat dit in haar kop ingepraat het.
En Antie Koot is skuldig bevind laas week. Besef hulle nie dat sy verantwoordelik was vir die kind nie? Dat sy haar moet leer om nie sulke goed te doen nie? Marcel se ma was nie eers so erg nie. Antie Koot het besluit, as daar weer ‘n baby is, kom hy nie hiernatoe toe nie. En Marcel ook nie. Die kind is veertien maar sy moet maar doen wat sy wil. By daai ou bly as sy moet. Marcel het mos skool opgegee. Begin drank drink… sy het dit nie in hierdie huis geleer nie.

Dis Vrydag. Die prokureur maak haar kar deur vir haar oop toe sy voor die hof uitklim. Baie mense met rooi t-hemde aan staan met bordjies haar en inwag. Iets van “Stop Child Abuse” staan in groot letters op ‘n bord geverf.
“Hulle is nie van hier nie. Hulle is met busse aangery om te betoog. Moet jou nie aan hulle steur nie,” kom dit van haar prokureur. Sy loop stadig die hoftrappe op. ‘n Vrou van sestig wat vandag sewentig jaar oud lyk.
“Ons weet hoe dit is Koot, ons staan agter jou.” Dis haar buurman van onder in die straat wat haar moed inpraat.
“Baie sterkte, ek glo dit sal goed gaan,” kom dit van Harry. Sy’t gewens die Engelsman is nie hier vandag nie. Sy hou baie van hom. Sy wou nie hê hy moes haar so sien nie.
“Dankie vir die blomme gister,” sê Antie Koot, en Harry knik net. Dit kon sóveel anders gewees het as sy net tronkstraf kom vryspring. Dit sal ‘n klad wees op haar naam. Vir altyd. Sy sal trek uit Koffiefontein as sy uitkom. So vêr weg nie eers Marcel of haar ma sal haar ooit weer sien nie.
Hulle stap die koue hofkamer binne en sy gaan sit langs haar prokureur, voor in die hof. Sy bid met oop öe, aanhoudend. “Here, laat hierdie beker by my verby gaan. Asseblief. Ek was so kwaad. Ek wou die kind ‘n les leer.” Die hofbanke is hard en koud. Die plek ruik muf. Sy bewe van angs. Dis die eerste keer ooit dat sy in die hof gekom het, sommer ‘n paar keer, oor die saak.

Die verrigtinge begin uiteindelik. ‘n Jaar is nie so lank nie, dink sy, dis net een Kersfees… een verjaarsdag… die trane loop.

“Hy gaan nou die vonnis lees,” sê haar prokureur sag. Hy weet sy verstaan min wat aangaan. Hy het ook vir haar gesê dit gaan nie oor hoe goed jy haar wou grootmaak nie. Antie Koot moes baie goed sê, slegte goed, oor Marcel in die hof. Alles ware goed, maar dit was nog nooit goed wat sy vir ander wou vertel nie. Soos die keer toe sy Marcel en Jaco kaal gevang het op die bank. Sy moes die mannetjie laat toesluit het. Of die keer toe Marcel dronk was en aan haar geslaan het. Of toe Jaco haar kar gesteel het en hulle padkafee toe gery het. Marcel wat gereeld skool gebank het, en byna die huis afgebrand het toe sy in haar bed gerook het.  As Marcel kon skaamkry, sou sy daai dag skaamgekry het.

“…gevangenisstraf van 18 maande…” begin die regter tydsaam lees.
“Nee Here! Nie dit nie! Asseblieftog! So lank!”
“… opgeskort vir twee jaar, en 6 maande gemeenskapsdiens.”
Sy hoor mense opgewonde gesels in die banke agter haar. “Yes,” hoor sy vir Harry hard praat.
Sy kyk na haar prokureur. “Wat beteken dit?”
“Jy gaan nie tronk toe nie, jy gaan huis toe! ‘n Opgeskorte vonnis beteken jy mag dit net nie weer doen vir die volgende 2 jaar nie.”
Antie Koot gooi haar arms in die lug. “Dankie Here” sê sy hard.
“Orde in die hof!” die regter kap met ‘n houthamer op die tafel voor hom en verduidelik sy moet hospitale en ouetehuise besoek vir die volgende ses maande, 3 maal per week.
Antie Koot gee nie om nie. Sy gooi haar arms om die prokureur en gee hom ‘n klapsoen. Sy is vry!
Sy is vry van die tronk, vry van Marcel en haar boyfriend, vry van hierdie hofsaak. Alles is klaar. Sy hoef net te gaan kuier by siek en oumense… wat ‘n wonderlike straf! En sy kan nog steeds twee dae ‘n week uithelp by Harry se kontantwinkel vir ekstra geld. Sy is verheug. Toe sy buite kom, lyk alles helderder, groener, mooier. Die blommetjies langs die hof is rooier. Die son ‘n bietjie warmer.
Harry omhels haar buite op die hoftrappe. “Ek het jou mos gesê!” Hy lyk baie bly. Antie Koot wonder of hy so bly is, omdat hy haar meer gaan sien of omdat hy haar nodig het by die kontant winkel…?
“Ry saam met my, ons gaan eers by die winkel om, vir koek en koeldrank, ons vat dit na jou toe, ons gaan almal jou vryheid nóú vier!”
Vriende, vriendinne en kennisse wens haar geluk op die trappies voor almal aansuiker na Antie Koot se huis toe.
Marcel het toe Kaap toe getrek, na haar ma toe.  Op haar vyftiende verjaarsdag het sy aangekondig sy is swanger. En haar nuwe kerel se ma-hulle was glo verskriklik geskok. Hulle gaan die kind laat aanneem.

Wanneer Antie Koot vir Marcel te veel mis, dan dink sy net aan daai ses maande-nagmerrie, toe sy amper in die tronk beland het. Antie Koot doen vrywillige werk by die ouetehuis, sommer vyf dae ‘n week, en maak baie nuwe vriendinne. Buitendien het sy nie meer die ekstra geld nodig nie. Harry bring elke aand ietsie om te kook daar by haar, en eet sommer daar, hy ken mos nie van kook nie…




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    28 November 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2018 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 8
Kommentaar telling: 7

'n Nuweling op Ink!  Papillon is 'n Franse woord vir skoenlapper. Ek dartel ook deur die lewe!  Ek het as kind laas stories geskryf. En wil graag weer my hand aan kortverhale waag.  Ek kry my inspirasie van mense- gedrag en die sielkunde.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 141 gaste aanlyn

Bydraes – Argief